Brulgrond van die Brandberg

Spanning laai op tussen kommunale boere en leeus in die Ugabvallei, en die omgekrapte boere voel die maanhare moet skoert.
Des Erasmus
Des Erasmus - ‘n Boervrou van die Ugabvallei beskuldig bewaringsinstansies van leeus wat as troeteldiere aangehou word.

“Die leeus word selfs hans grootgemaak,” het sy op ‘n warm vergadering van die Tsiseb- kommunale gebied in die Ugabvallei gesê. “Hulle word soos troeteldiere behandel en in die proses gee die mense hul selfs name.”

Die dringende vergadering is deur die hoofman van die Daure-Daman-gebied, hoofman Zacharias Seibeb, belê. Dit het gevolg op drie volwasse leeus, twee wyfies en ‘n mannetjie, en vier welpies wat in November oos in die Ugabvallei opbeweeg het en selfs ‘n ganse kudde skape by ‘n kraal van die Brandberg White Lady Lodge uitgewis het. Buite die gebied van die herberg is nog ses bokke en skape en ‘n donkie gevang en opgevreet.

Die vergadering onder die gesag van Seibeb is deur nog drie hoofmanne, ‘n verteenwoordiger van die Tsiseb-bewaringsgebied, verteenwoordigers van die Desert Lion Human Relations Aid (DeLHRA) en kommunale boere bygewoon. Boere wat al verliese as gevolg van die dwaalleeus gely het, het getuig oor wat in hul afsonderlike gevalle gebeur het.

In sy opsomming het Seibeb gesê dit is duidelik dat die gemeenskap dit eens is dat die Ugab se leeus geskiet of uit die gebied verwyder moet word.

‘n Boer van die plaas De Rust het in sy spreekbeurt gesê anders as renosters en olifante het leeus geen toerismewaarde nie. “Op De Rust moet die leeus geskiet word en hul velle verkoop word. Dan kry ons darem iets. In die verlede was dit al raad met die leeus. Ons bestaansreg word bedreig. Daar moet onmiddellik ingegryp word.”

Hy is ondersteun deur die vrou met die bewering dat leeus die skoothondjies van bewaarders geword het.

Namate die vergadering al hoe warmer geword het, het van die mense wat vir die behoud van die leeus gevra het, gedreig om te loop.

‘n Deurbraak was toe die omgekrapte boere hulle bereid verklaar het om die afskrikmaatreëls vir die leeus op die proef te stel. As dit in die Torra-bewaringsgebied gewerk het, verdien dit ook ‘n kans in die Ugabvallei. Nog ‘n vergunning was dat die internasionale aktiviste vir die behoud van die leeus ingelig gaan word oor die byna onhoudbare situasie waarin die kommunale boere as gevolg van hul vrese en hul verliese verkeer.

Kennis is ook geneem van die swak publisiteit wat internasionaal volg wanneer ‘n enkele leeu doodgeskiet word. Dit beduiwel toerisme na Namibië en uiteindelik ly die bewoners van die Ugabvallei ook daaronder.

‘n Voorbehoud van die meerderheid was wel dat daar ingevolge regte opgetree gaan word wat die wet op probleemdiere aan hulle gee as ‘n oplossing nie gevind kan word nie.

“Daar moet vinnig opgetree word. Of . . .”

KASSIE

Maer jare in die Ugab skep leeugevaar

‘n Droogte van baie jare is een van die faktore wat bygedra het tot die konfliksituasie tussen kommunale gemeenskappe en die leeus van die Ugabvallei.

Eens was daar plek vir almal. Nou word ‘n middeweg tussen “skiet dood en sleep weg” en die bewaring van die bedreigde spesie gesoek.

Eers in Januarie 2015 het die soms vrotsige buurskap tussen die mense en die roofdiere begin uitslaan. Voor dié tyd het die leeus verder wes gebly. Namate die droogte voortgewoed het, het die leeus veral op soek na water ooswaarts beweeg. Dit het ‘n nuwe roofveld geword wat hulle nog nie beproef het nie, terwyl wild as hul natuurlike prooi in hul westelike velde bitter skaars geword het.

Vir die roofdiere was dit ‘n tog na welgevonde. Nader aan die boeregemeenskappe was donkies en bokke volop. Snags is op die prooi afgekom wat eens sonder gevaar losgeloop het. Van die donkies was selfs gespan om hulle ‘n nog makliker teiken te maak. In die voorafgaande 14 jaar het mense van die gebied geen voorvalle met leeus deurleef nie. Die mense was gevolglik nie gereed vir die bedreiging uit die weste nie.

So gesels Izak Smit van Desert Lion Human Relations Aid (DeLHRA), ‘n instansie van internasionale aansien op die gebied van leeubewaring. “Solank as wat die vee snags vry rondloop en die donkies selfs gekniehalter word, sal die probleem nie wyk nie,” sê hy. Wanneer die “aas” eers beveilig word, sal die leeus self weggaan en hulle weer in die velde op hul natuurlike prooi toespits, sê hy. “Ons planne werk al in die Torra-bewaringsgebied.”

Hy sê woestynleeutroppe versplinter wanneer die druk op hul prooi te groot word. So handhaaf die natuur ‘n ewewig tussen die prooi en die roofdiere. Leeus is gebiedsgebonde en splintergroepe vestig elders. Dit help ook teen die gevaar van inteling. Vrese dat leeugetalle te groot gaan word, is ongegrond. Sou getalle te hoog word, sal leeuwyfies minder vatbaar word en mortaliteit onder welpies styg. As daar nie kos is nie, sal die leeus trek. Hul kondisies sal afneem en dit sal weer tot beserings tydens hul jagtogte lei.

Dis wanneer die natuur die snoeiskêr inlê.

Hy het ook ‘n eie weergawe van die oorsprong van die leeus van die Ugabvallei. Daarvolgens het twee wyfies en twee mannetjies, almal driejariges, uit die Huabvallei na die Ugabvallei getrek. In die Ugabtrop was een mannetjie en een wyfie reeds van nekbande voorsien. Toe een van die mannetjies in 2017 aan natuurlike oorsake in die Ugabvallei gevrek het, het een van die wyfies reeds drie welpe gehad. In dieselfde jaar het ‘n ander wyfie ook drie kleintjies gekry. Hulle is almal nou twee jaar en net meer as twee jaar oud.

In die Huabvallei is Gretzky die leeukoning. In September 2017 het hy Nkosi, nou die leier van die Ugabtrop, uit die Huabgebied verjaag. Nkosi het Cheeky in die Ugabgebied oorgeneem. Selfs haar welpe is verjaag, maar die kleintjies het nooit baie ver van die volwasse paar beweeg nie. Dit wil voorkom of die welpe nou ‘n nuwe tuiste rondom die Brandberg gevind het.

In ‘n leeugeveg is een van die jong mannetjies onder die welpe doodgebyt. Een van die wyfies in die werpsel is ook weg. Van die oorspronklike ses jong leeus van die Ugab is nog net vier oor.

In die stadium lyk dit of Cheeky, die astrante leeuwyfie van die Ugabvallei, aan nog ‘n nuwe werpsel dra. Leeuwyfies se dragtigheidstydperk is normaalweg net meer as 100 dae (drie maande plus).

KASSIE

Skynoorlog kan vrede skep

Van die beste beskikbare tegnologie en gebruike gaan aangewend word om ‘n einde te maak aan die konfliksituasie tussen woestynleeus en die mense van die Ugabvallei.

Byna ‘n skynoorlog kan kom om die bedreigde leeuspesie van die geweste wes van Uis weg van kleinvee en selfs mense van die kommunale gebied te hou.

Die tussenganger in die strewe gaan Desert Lion Human Relations Aid (DeLHRA) onder aanvoering van mnr. Izak Smit wees. Van die maatreëls ter beveiliging werk in die Torra-bewaringsgebied, het hy aan Republikein gesê. Aanvullend tot die DeLHRA-pogings kan ook nog nekbande vir leeus deur dr. Flip Stander van die Desert Lion Project (DLP) in samewerking met die ministerie van die omgewing en toerisme aangebring word.

In die proses gaan op die tradisionele gebruik van krale vir vee teruggeval word, maar dan nie die uitgediende tak- of slapdraadkrale nie. Dit gaan krale van sterk gaas wees en die wande gaan hoog genoeg wees vir leeus om nie oor te spring of klouter nie.

Dit gaan saamval met ‘n vroeë waarskuwingstelsel met die gebruik van sterk ligte. Die ligte word deur sonkrag bedien en skep ‘n ligkring van ‘n halwe sirkel waar dit teen die wande van die gaaskraal aangebring word. Die sterk ligte word geaktiveer wanneer leeus binne ‘n afstand van sowat tien meter van ‘n kraal kom, waarna die roofdiere gewoonlik die wyk na veiliger terrein neem. Die krale moet verkieslik naby die blyplekke van die kommunale boere wees.

“Dit ontneem die leeus van die voordeel wat die nag aan hulle bied,” sê Smit.

Nog ‘n hulpmiddel is sirenes wat teen ‘n baie hoë frekwensie geaktiveer kan word. “Bewyse bestaan dat die lawaai leeus grensloos irriteer,” sê hy.

‘n Lawaai met klappers wat met aanvullende toerusting ver gewerp kan word, gaan ook geskep word. Dit veroorsaak ‘n geweldige knal wat roofdiere die wyk laat neem.

Waarskynlik die mees gevorderde toerusting is baie sterk flitse wat ‘n enkele straal oor ‘n taamlike lang afstand werp. Dit kan direk op die leeus gerig word en skep onmiddellik ‘n nagblindheid van ‘n skaflike paar minute wat hulle in belang van hul veiligheid na wegkruipplekke verdryf.

Van die flitse is reeds aan die mense gegee wat die woongebied met die leeus deel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!