Bruni, McLaren Air Nam se likwidateurs
Bruni, McLaren Air Nam se likwidateurs

Bruni, McLaren Air Nam se likwidateurs

Air Namibia se sake is nou in die hande van ’n span gesoute likwidateurs.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Die gesoute Windhoekse likwidateurs, mnre. Dave Bruni en Ian McLaren van Bruni & McLaren CC, is deur die Meester van die hoërhof, me. Elsie Beukes, as die voorlopige likwidateurs van Air Namibia aangestel.

’n Sertifikaat in dié verband is verlede week ingevolge die maatskappyewet uitgereik.

Dit volg nadat Namibië se bankrot nasionale redery op 26 Februarie vrywilliglik deur die hoërhof onder voorlopige likwidasie geplaas is.

Bruni en McLaren is in 2017 aangestel as die likwidateurs van die SME Bank en het verskeie ander groot likwidasiesake agter hul naam.

Intussen het mnr. Heino Jakob, president van die Namibië Lugdiensvlieëniersvereniging (Napa), gister bevestig die ses vlieëniers wat na Kaïro in Egipte gegaan het om hul lisensies vir die Airbus A330-200-vliegtuie te hernu, is terug in die land.

Na verneem word sal die eerste van die twee Airbus A330’s wat Namibië ingevolge die verhuringsooreenkoms met Castlelake aan die eienaar, Air Lease 82, moet terugbesorg, op 14 Maart na Malta geneem word.

Die ander een sal volgens ingeligtes later ook na Malta geneem word.

Kommer is vroeër deur vlieëniers uitgespreek oor wat dit sal kos om die vliegtuie tot die vereiste standaard te herstel wat ingevolge die Castlelake-ooreenkoms bepaal word.

Dié ooreenkoms, waarvoor die regering waarborge ter waarde van N$2,5 miljard verskaf het, was die groot rede waarom die proses om tot vrywillige likwidasie oor te gaan, so lank gesloer het.

Mnr. Leon Jooste, minister van staatsondernemings (SOE), se taak was om die onderhandelinge met Castlelake só te bestuur dat die impak op die staatskas beperk word.

Een bron het aan Republikein gesê “Air Namibia se vloot is grootliks in die siekeboeg”. Dit blyk beide die twee groot Airbus-vliegtuie wat op Malta aan Air Lease 82 oorhandig sal word, se aanboord-vermaakstelsel waarmee passasiers flieks kon kyk of musiek luister, is stukkend en moet herstel of vervang word.

Jooste het vroeër gesê die Airbus A319-100 wat na sy regmatige eienaar moet terugkeer, se herstelwerk is so te sê voltooi. Dié vliegtuig is tans by South African Airways Technical (SAAT) in Suid-Afrika.

BATES EN LASTE

Volgens die hofstukke beloop Air Namibia se bates N$995 miljoen.

Daar is tans N$15,8 miljoen in die bankrekeninge plaaslik en internasionaal. Die twee Airbus A319-vliegtuie en die vier Embraer ERJ-vliegtuie wat Air Namibia besit, se waarde beloop N$644 miljoen terwyl die maatskappye se voertuie, toerusting en rekenaartoerusting N$19 miljoen werd is.

Die hoofkantoor in Windhoek is vir N$22,7 miljoen gewaardeer en Air Namibia het ook N$84 miljoen by die Internasionale Lugvervoervereniging (Iata) op belegging.

Die bankrot redery se skuldlas beloop N$5,38 miljard.

Air Namibia skuld die Ontvanger van Inkomste N$789 miljoen, vir die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) N$708 miljoen en vir die vliegtuigenjin-vervaardiger Aerospace Rolls Royce N$149 miljoen.

Air Namibia skuld verder aan die Duitse regsfirma Herfurth N$145 miljoen, aan Lufthansa Technik N$90 miljoen vir vliegtuigherstelwerk, aan die Namibië Burgerlugvaartowerheid (NCAA) N$76 miljoen en vir Asecna wat lugverkeerbeheerdienste gelewer het, N$73 miljoen.

Engen Namibia staan ook in die ry en sy eis vir brandstofskuld beloop N$22,9 miljoen.

Verder sal Air Namibia ook N$105 miljoen aan sy 629 werknemers uitbetaal.

[email protected]


FOTO
Mnre. Ian McLaren (links) en Dave Bruni van Bruni & McLaren CC. Foto Marc Springer, AZ

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!