• Tuisblad
  • Sport
  • Buhai onttrek aan Spele; alle hoop nou op SA mans

Buhai onttrek aan Spele; alle hoop nou op SA mans

Olimpiese Spele
Tielman van Lill
Marizanne Kok – Suid-Afrika sal aanstaande week geen belang by die Olimpiese vrouegholfkompetisie hê nie, nadat Ashleigh Buhai besluit het om nie na Tokio daarvoor te reis nie.

Buhai, die land se voorste vrouespeler, het op Facebook aangekondig die stygende aantal Covid-19-infeksies in Tokio en die atletedorp het haar laat besluit om weg te bly.

Die Olimpiese gasheerstad het Woensdag vir die eerste keer sedert die begin van die pandemie meer as 3 000 nuwe Covid-gevalle aangeteken. Daarby is nog 16 mense in die Speledorp positief getoets, om die totale getal “Spele-infeksies” sedert 1 Julie tot 169 op te stoot.

“Daar is geen groter eer as om my land te verteenwoordig nie, soos ek in 2016 in Rio de Janeiro gedoen het, maar ek het die moeilikste besluit van my loopbaan tot dusver geneem en aan die 2020-Spele onttrek,” het Buhai op Facebook geskryf.

“Ons het etlike toernooie in die weke ná die Spele, insluitend ’n major, en ek wil nie my kans belemmer om daaraan deel te neem nie. Hoewel ek weet die IGF (Internasionale Gholffederasie) en IOK (Internasionale Olimpiese Komitee) doen alles in hul vermoë om die atlete veilig te hou, is ek weens die styging van Covid-gevalle in Tokio en die Speledorp nie meer gemaklik daarmee om na Tokio te reis nie.”

Nadat Suid-Afrika twee verteenwoordigers in die vrouegholf gehad het in Rio (Buhai en Paula Reto), was Buhai die enigste wat vanjaar gekwalifiseer het. Reto moes juis Saterdag aan die Evian-kampioenskap onttrek weens ’n positiewe Covid-19-toets en kon dus nie Buhai se plek neem nie.

Buhai se onttrekking beteken dat die land se mansverteenwoordigers, Garrick Higgo en Christiaan Bezuidenhout, die SA vlag nou alleen sal dra.

Die duo sal van Donderdag af op die Kasumigaseki-baan in aksie wees – dieselfde baan waar die legendariese Gary Player Suid-Afrika as ’n 21-jarige in 1957 se Kanadabeker (nou die Wêreldbeker) verteenwoordig het.

Dit was Player, Higgo se groot mentor met wie hy amper elke week gesels, se heel eerste besoek aan Japan. Hy was tweede in daardie toernooi en het daar begin glo hy kan in wêreldgholf iemand word om mee rekening te hou.

Higgo, wat in Mei 22 geword het, is in Tokio as Suid-Afrika se naasbeste speler (net Louis Oosthuizen is hoër as hy op die wêreldranglys) en is borrelend oor die kans om sy land in die Spele te verteenwoordig.

“Dis baie cool om ’n Olimpiese Spele te kan beleef, veral op 22,” het Higgo aan die PGA-reeks se amptelike webblad gesê. “Aan die begin van die jaar het ek gedink dit sou lekker wees om die Spele te haal, maar ek was in daardie stadium ver van ’n posisie wat my kon inkry. Dat ek toe wel gekwalifiseer het, wys net dat ek ’n paar goed op die gholfbaan reg gedoen het.”

Sedert die begin van 2021 was Higgo reeds drie keer in die wenkamp – twee keer in Europa en een keer in die VSA (in net sy tweede PGA-toernooi).

Bezuidenhout is daar danksy Oosthuizen se onttrekking. Hy het die afsnypunt in al tien sy laaste toernooie oorleef, maar nie beter as 23ste geëindig nie. Nietemin is hy (soos Higgo) in staat tot die bestendigheid wat dit verg om toernooie te wen en sal dit nie verbaas as een van die Suid-Afrikaners met ’n medalje wegstap nie.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!