Buitelandse beleggers nog nie bang vir SA
Buitelandse beleggers nog nie bang vir SA

Buitelandse beleggers nog nie bang vir SA

Jo-Mare Duddy Booysen
Buitelandse beleggers in Suid-Afrikaanse staatseffekte hardloop nog nie by die land se hekke uit nie.

Inligting van die JSE toon buitelanders het verlede week 'n netto R11,2 miljard se Suid-Afrikaanse staatseffekte gekoop.

Dit is dubbel wat in die vorige week gekoop is en die meeste sedert 24 Junie verlede jaar.

Die invloei van geld het voortgeduur selfs nadat Pravin Gordhan as minister van finansies afgedank is.

Die opbrengskoerse op staatseffekte het tot die hoogste vlakke sedert Januarie gestyg. Phoenix Kalen, direkteur van strategie vir opkomende markte van Société Générale, sê dit maak die staatseffekte 'n goeie kopie.

“Ten spyte van die gespanne politieke situasie waarin Suid-Afrika hom tans bevind, is die dinamika verder as die onmiddellike horison gunstig dat Suid-Afrikaanse bates beter as ander sal presteer.”

Hy het Vrydag in 'n nota aanbeveel dat beleggers van die land se 2048-staatseffekte koop wat in rand gedenomineer is.

“Hoewel ons glo 'n verlaging in die land se skuldgradering is 'n waar­skynlikheid, verwag ons nie dat dit sal lei tot 'n wesenlike verdere markopskudding vergeleke met huidige waardasies nie.”

Die invloei van geld na opkomende lande se staatseffekte het in Maart toegeneem nadat Amerika se Federale Reserweraad beleggers gerusgestel het oor die rigting van rentekoersverhogings in dié land.

Sergio Trigo Paz, hoof van opkomende markte se skuld by BlackRock in Londen, sê die opbrengskoerse op Suid-Afrika se staatseffekte is hoog genoeg om beleggers vir die toename in die risiko te vergoed.

Die opbrengskoerse is van die hoogste wat gekry word op staatseffekte met 'n beleggingsgraad.

Die laaste keer dat buitelanders Suid-Afrikaanse effekte teen hierdie koers gekoop het, was in Junie verlede jaar.

Dinge het toe baie beter vir Suid-Afrika gelyk nadat die land 'n kredietafgradering na rommelstatus afgeweer het.

Beleggers wat toe staatseffekte gekoop het, sou 'n opbrengs van 14% verdien het, ingesluit die rand se versterking in dié tydperk, toon inligting wat deur Bloomberg saamgestel is.

Beleggers se opbrengs in die komende jaar hang baie van die rand af. As die rand verder verswak, sal dit die opbrengste van buitelandse beleggers wegvreet.

Lutz Röhmeyer, 'n ­fondsbestuurder van Landesbank Berlin Investment, sê hy verkies om te wag vir die geldeenheid om verder te verswak voor hy weer Suid-Afrikaanse staatseffekte koop.

“Dit sal weer interessant raak as die rand sowat R16 tot R17 teenoor die euro is.

“As die rand dié vlak bereik, sal ons beslis weer terugkom. Ons leef op die drahandel en in dié geval glo ek ons kan maklik dubbelsyferkoerse kry.” – Netwerk24/Bloomberg

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer