Buitelandse belegging: Vinnig in, vinnig uit
Tot R120 miljard se effekte kan verkoop word as Suid-Afrika weens verdere afgraderings uit die World Government Bond Index (WGBI) van Citibank val, waarsku kenners.
Riana de Lange - Suid-Afrika is pas ingesluit in die internasionale bestuursmaatskappy A.T. Kearney se Vertrouensindeks vir regstreekse buitelandse belegging (FDI) vir 2017.
Dis goeie nuus, maar ontleders waarsku teen ’n ‘eie doel’.
Die vele moontlike voordele van Suid-Afrika se hertoelating tot ’n gesaghebbende wêreldwye indeks oor buitelandse investering die afgelope week kan oornag verdwyn as die land se politieke leiers weer iets onbesonne aanvang.
Want nog ’n groot politieke skok sal veelvuldige kredietafgraderings op Suid-Afrika laat neerreën, die mat behoorlik uitruk onder die wisselvallige rand, en miljarde rande se “warm geld” met die druk van ’n knoppie laat uitstroom, waarsku kundiges.
Die jongste finansiële data wys dat heelwat geld Suid-Afrika steeds binnevloei ondanks die afgradering van die land se soewereine skuld in Amerikaanse dollar en euro vroeër verlede maand, meestal omdat Suid-Afrika se staatseffekte danksy hoë opbrengste so gewild is, sê Brian Butchart, besturende direkteur van Brenthurst Wealth.
Maar dié (“warm”) geld vloei net so maklik uit as in – en ’n uitvloei is gewaarborg sodra twee van die drie vernaamste kredietgraderingsagentskappe Suid-Afrika se rand-gedenomineerde skuld ook tot rommelstatus afgradeer, want institusionele beleggers word nie toegelaat om sulke effekte te hou nie.
Tot R120 miljard se effekte kan verkoop word as Suid-Afrika weens verdere afgraderings uit die World Government Bond Index (WGBI) van Citibank val, waarsku Butchart.
Lok FDI
Prof. Waldo Krugell, ’n ekonoom verbonde aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê wanneer buitelandse entiteite Suid-Afrikaanse aandele en skuldinstrumente koop, stel dit geld daar beskikbaar vir beleggings, finansiering van die begrotingstekort en valuta vir invoer.
“Om dié geld te lok, moet ons rentekoerse beduidend hoog wees. En ons vraag na dollar (aanbod van rand) beteken dat ons wisselkoers altyd swakker gedruk sal word. Dit is nie noodwendig ’n probleem nie omdat baie ontwikkelende lande so bo hul vermoë leef.”
Hy waarsku die risiko is blootstelling aan geldvloei wat “baie skielik” kan opdroog. Indien dit gebeur, sal Suid-Afrika sy gordel skielik styf moet trek om byvoorbeeld die gaping tussen staatsinkomste en -besteding te finansier.
“Dit gebeur deur ’n ernstige resessie. Dan is jy terug by die punt waar jy niks moet doen wat buitelandse portefeuljebeleggers senuagtig maak nie,” sê Krugell.
Grootskaalse regstreekse buitelandse investering, wat ekonome FDI noem, kan dié situasie teëwerk omdat FDI nie sommer net kontant is wat virtueel oor die wêreld heen gestuur word nie, maar langertermynbeleggings in byvoorbeeld fabrieke of maatskappy-oornames.
Daarom is Suid-Afrika se herinsluiting in die internasionale bestuursmaatskappy A.T. Kearney se Vertrouensindeks vir FDI vir 2017 positief, sê Krugell.
Maar dan moet Suid-Afrika nie “ ’n eie doel aanteken” nie.
Ranglys
Suid-Afrika beklee die laaste van 25 plekke op die invloedryke ranglys en is die enigste Afrikaland. Amerika en Duitsland is boaan.
Die ander Brics-lande lê derde (China), agtste (Indië) en 16de (Brasilië). Rusland het in 2013 laas die paal gehaal, sê Erik Peterson, mede-outeur van die verslag “Glass Half Full”, waarin die indeks verskyn.
Die vertrouensindeks word saamgestel ná ’n jaarlikse opname onder sakeleiers wêreldwyd oor die waarskynlikste markte waar hulle in die volgende drie jaar sal belê.
Suid-Afrika se herinsluiting ná ’n afwesigheid van twee jaar volg op beter ekonomiese vooruitsigte op kort termyn en die langtermynbeleggingspotensiaal in die land se vervaardigingsektor, lui die verslag.
In 2016 het FDI in Suid-Afrika met sowat 38% tot ’n geraamde US$2,4 miljard gestyg teenoor die laagste bedrag van US$1,7 miljard in tien jaar in 2015, volgens die Instituut vir Internasionale Finansiering (IIF).
Daaronder tel ’n belegging van US$417 miljoen deur BMW vir die produksie van die nuwe X3-sportnutsvoertuig. Die Chinese Beijing Automobile International Corporation (BAIC) het hom ook verbind tot ’n gesamentlike onderneming van R11 miljard om ’n nuwe voertuigfabriek in die Oos-Kaap te bou.
Poort
Peterson sê hul opname suggereer dat FDI na Suid-Afrika kan voortduur.
In 2014 was Suid-Afrika in die 13de plek. Toe het die land US$5,7 miljard in FDI gelok, wys data van die IFF. In 2013 het dié beleggings US$8,3 miljard beloop.
Die Verenigde Nasies (VN) se internasionale handelsorganisasie, Unctad, het die groot daling in 2015 toegeskryf aan swak ekonomiese groei, lae kommoditeitspryse en hoë elektrisiteitstariewe.
Peterson sê die feit dat Suid-Afrika die enigste land in Afrika suid van die Sahara is wat die afgelope twee jaar die indeks gehaal het, wys beleggers beskou die land as ’n poort tot die res van die streek.
“Dit is belangrik op plaaslike en streeksvlak. Internasionale beleggers vertrou dat Suid-Afrika ’n volhoubare en winsgewende bestemming vir regstreekse buitelandse belegging is.”
Uitdagings vir Suid-Afrika sluit egter in werkloosheid, ’n wisselvallige geldeenheid en kwynende vertroue in politieke leiers.
Butchart sê die politieke onstuimighede sedert die afdanking van Pravin Gordhan as minister van finansies einde Maart het baie van Brenthurst se kliënte opnuut laat kyk na die moontlikheid om meer geld landuit te neem.
Brenthurst kanaliseer reeds geruime tyd al hoe meer kliënte se geld na die buiteland. Ruweg is die verdeling 50% wat plaaslik gehou word en 50% oorsee.
Die rand vaar intussen selfs ná die Gordhan-bom en die afgraderings van buitelandse skuld taamlik goed danksy kommoditeitspryse wat herstel en verwagte groei wat kan volg op pres. Donald Trump se bestedingsplanne, maar praatjies oor bykomende welvaartbelasting, grondonteiening sonder vergoeding en ekonomiese transformasie maak beleggers hier en oorsee agterdogtig, sê hy.
Nie net geld kyk noord nie – mense ook.
Kommer
Nigel Barnes, besturende vennoot by die wêreldwye verblyf- en burgerskapbeplanningskonsultante Henley & Partners, sê in ’n verklaring hulle het ná die kredietafgradering meer navrae gekry van Suid-Afrikaners wat ’n tweede paspoort oorweeg.
“Ek dink kommer oor die toekomstige groei en ontwikkeling in Suid-Afrika en onsekerheid oor die volhoubaarheid van sektore soos onderwys, laat Suid-Afrikaners uiteindelik hul alternatiewe in alle erns oorweeg. Hulle reageer nou op hul kommer, eerder as om dit net met familie en vriende te deel.”
Volgens Barnes volg dié toename op ’n groeiende belangstelling die laaste paar jaar in beleggingsmigrasie en tweede burgerskappe.
Sulke programme is beskikbaar vir onder meer Amerika, Mauritius, Malta en Portugal.
Peterson sê hoewel A.T. Kearney die neigings van regstreekse buitelandse investering volg, doen hulle nie diepte-ontledings van hoeveel beleggings uiteindelik materialiseer vir lande wat deel is van die indeks nie.
“Sedert die instelling van die indeks in 1998 het die lande op die ranglys grootliks ooreengestem met die topbestemmings waarheen FDI in die daaropvolgende jare gevloei het.” – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie