Buitelandse beleggings neem toe
Buitelandse beleggings neem toe

Buitelandse beleggings neem toe

Estelle de Bruyn
Buitelandse regstreekse belegging in Namibië het van N$1,2 miljard in 2004 tot 3,7 miljard in 2015 toegeneem.
Die adjunkpremier en minister van internasionale betrekkinge en samewerking, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, het dit aangekondig tydens ‘n bespreking van Namibië se beeld na buite tydens die weeklange konferensie om Namibië se buitelandse beleid te hersien.
Sy het gefokus op Namibië se betrokkenheid op streek- en internasionale vlak en hoe dit bydra om Namibië se profiel globaal te verbeter.
Nandi-Ndaitwah sê beleggings in Namibië was op die gebied van landbou, boerdery, toerisme, dienste, vervaardiging en handel gemaak. Meer as 4 000 nuwe werkgeleenthede is sodoende geskep.
Die syfers ten opsigte van toeriste het van 716 078 in 2004 tot 1 320 064 in 2014 gestyg, sê Nandi-Ndaitwah.
Sy sê Namibië wil teen 2030 ‘n nywerheidsland wees en gevolglik is ekonomiese diplomasie ‘n uiters belangrike komponent in die land se internasionale betrekkinge en samewerking.
“Globalisering bied nuwe tegnologie wat deur sakelui, akademici en ander nie-staat-rolspelers gebruik word om sake oral in die wêreld te doen,” het sy gesê.
Die adjunkpremier het Namibië se diplomatieke sendings geloof vir hul voortdurende kontak met buitelandse beleggers, wat kan bydra om die plaaslike ekonomie te verander, werkgeleenthede kan skep en tot die ontwikkeling van menslike kapitaal deur middel van die oordrag van vaardighede kan bydra.
Namibië het diplomatieke verteenwoordiging in die buiteland by wyse van 30 buitelandse missies en drie konsulate. Altesaam 32 lande het diplomatieke sendings in Namibië en 18 streek- en internasionale organisasies word in die land verteenwoordig. Hierbenewens het 25 lande erekonsuls in Namibië.
In multilaterale forums is Namibië ‘n lid van groot internasionale organisasies en speel dit dikwels ‘n leidende rol in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC). Een voorbeeld is dat Namibië vanjaar die Afrikastreek se byeenkoms vir die groen klimaatfonds aanbied.
Nandi-Ndaitwah sê Namibië het ‘n belangrike rol gespeel wat bygedra het om SADC te integreer met die doel om handelsbeperkinge te verwyder en die vrye vloei van goedere en dienste in die streek te bevorder ten einde armoede uit te wis.
Namibië het ook ‘n rol gespeel in konflikbestuur deur onder meer die leiding te neem in die beslegting van die konflik in Madagaskar en deur soldate en polisie te stuur om aan vredebewaringsendings van die Verenigde Nasies (VN) in Liberië, Oos-Timor en Darfoer deel te neem.
Sy sê die land streef daarna om in samewerking met ander lande, goedertrou en wedersydse respek in multilaterale onderhandelinge te verseker, met die oog daarop om kollektiewe besluite vir die versterking van globale vrede te bewerkstellig.
“Deur middel van hierdie hersieningskonferensie evalueer ons Namibië se bilaterale en multilaterale betrokkenheid, kyk krities na die lewensvatbaarheid daarvan en identifiseer moontlike verskuiwings in ons internasionale samewerking.
“Ons doel is om die maksimum voordeel uit hierdie betrokkenheid te kry in pas met Visie 2030, die nasionale ontwikkelingsplanne, die Harambee-welvaartplan, SADC se agenda vir integrasie, die Afrika-unie se agenda, en die 2030 ontwikkelingsagenda van die Verenigde Nasies,” het sy gesê. Nampa

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!