‘Bulldog’ betrek by Boulter-ondersoek

AfriForum se private vervolgingseenheid verleen ondersteunende hulp aan die weduwee van die plaasbestuurder wat na bewering deur sy invloedryke werkgewer doodgeskiet is.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Adv. Gerrie Nel, hoof van die private vervolgingseenheid van AfriForum in Suid-Afrika, sien om na die belange van wyle mnr. Gerhard van Wyk (54) se familie in die moordverhoor van die invloedryke Britse sakeman, mnr. Harvey Boulter (51).

Boulter het Vrydag in die landdroshof op Outjo ontken dat hy Van Wyk op 27 Februarie vanjaar op sy wildplaas, Kaross, naby Kamanjab vermoor het. Hy het ook op die ander drie klagte, wat insluit die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie, skuld ontken.

Van Wyk was sy plaasbestuurder. Sy vrou, Alta, en hul seun en skoondogter, Gerhard junior en Liani, was ook teenwoordig toe Boulter hom na bewering geskiet het.

Mnr. Andrew Leask, dié eenheid se ondersoekhoof, het bevestig hulle sal die Namibiese aanklaer in die saak “op enige manier moontlik bystaan om seker te maak die saak word op ’n regverdige manier voor die hof gebring”.

“Ons is ’n private vervolgingseenheid en word genader deur mense wat bang is dat ’n saak nie reg sal verloop nie,” het hy uit Pretoria verduidelik.

Nel is bekend as ’n onverskrokke aanklaer en het vir homself die bynaam “Bulldog” verwerf.

Hy was die aanklaer in die hoëprofielmoordsaak waarin die wêreldberoemde Paralimpiese lemnaeller Oscar Pistorius in 2014 in Suid-Afrika tereg gestaan het op die moord op sy meisie, Reeva Steenkamp.

Pistorius is op 21 Oktober 2014 in die hooggeregshof in Pretoria deur regter Thokozile Masipa op die aanklag van strafbare manslag skuldig bevind en vyf jaar tronkstraf opgelê.

Die staat het hierteen geappelleer, en op 24 November 2017 is Pistorius tot 13 jaar en vyf maande tronkstraf gevonnis nadat die appèl geslaag het.

HOËPROFIELSAAK

“Die Van Wyks het ons genader om hulle by te staan vanweë die hoë profiel van die saak,” sê Leask.

Boulter, ’n Britse burger, was ’n raadgewer van die Britse ministerie van verdediging oor hoe militêre hulpbronne en produkte kommersieel aangewend kan word.

Boulter is die voorsitter en uitvoerende hoof van die waagkapitaalgroep, Porton Group.

Een van die maatskappye waarin hy belange het, is Communication Security Group (CSG). Die maatskappy fokus op tegnologie vir veilige boodskappe en stembeskerming deur middel van die groep se Seecrypt- en Cellcrypt-produkte. Die produkte verskaf enkripsie van militêre gehalte vir kitsboodskappe en stem-/konferensie-oproepe, en word gebruik in die Britse, Amerikaanse, Kanadese en Australiese regerings.

Dis bekend dat hy bande met hooggeplaaste Britse regeringslui het.

Boulter se verhoor is Vrydag tot 11 Januarie aanstaande jaar uitgestel in afwagting op die aanklaer-generaal se beslissing.

Artikel gewysig 23 November 2021

[email protected]

FOTO’s
Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid. Foto argief
Wyle mnr. Gerhard van Wyk (54) en sy vrou, Alta. Foto verskaf

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!