Bulle hou asem op oor koronavirus
Bulle hou asem op oor koronavirus

Bulle hou asem op oor koronavirus

Superrugby
Cobus Claassen



As daar nie binnekort rugby gespeel word op Loftus Versfeld nie, kan die gevolge van die koronavirus rampspoedig wees, waarsku Alfons Meyer, uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy (BBM).

“Die volgende twee weke kan bepalend wees. Die finansiële impak wat dit uiteindelik kan meebring, is werklik kommerwekkend,” sê Meyer.

Hy het gister bevestig dat elke lid van die Bulle-groep, wat in Australië getoer het toe Sanzaar die Superreeks die naweek onbepaald opgeskort het, negatief vir die virus getoets het.

Almal sal steeds tot 30 Maart tuis in selfkwarantyn bly.

“Ons sal gou 'n duideliker prentjie van die finansiële omvang kry. Niemand weet wat op ons wag nie en die onsekerheid vererger die situasie.

“Intussen moet ons steeds alles betaal en probeer om die spelers midde-in die ontwrigting fiks te hou,” sê Meyer.

Die Bulle het Saterdag in Brisbane hul eerste wedstryd Doer Onder met 17-41 teen die Reds verloor en sou daarna teen die Waratahs, Hurricanes en die Chiefs te staan gekom het.

Burger Odendaal (enkel) en Cornal Hendricks (knie) het boonop in Brisbane beserings opgedoen.

Die aanduiding is dat daar plaaslike derbywedstryde tussen die Suid-Afrikaanse spanne gespeel kan word – hopelik reeds in Mei.

Dit kan beteken dat die Superreeks nie vanjaar 'n wenner sal hê nie.

• Meyer sê intussen daar word “vorentoe beweeg” met die aanstelling van die Bulle se nuwe direkteur van rugby.

“Ons kan dalk binne die volgende week of twee 'n aankondiging maak. Dit (Covid-19) bemoeilik die aanstelling, want 'n ou kan nie vlieg of vergaderings hou nie.”

Daar word vertroulik verneem Remgro, een van die aandeelhouers in BBM, is sterk ten gunste daarvan dat die voormalige Springbok-afrigter Jake White in die pos aangestel word.

Die Bulle-besluitnemers het verlede Maandag by Loftus met White vergader.

Meyer sê Remgro en die ander aandeelhouer in die BBM, Patrice Motsepe, het 'n “definitiewe sê” wanneer daar in die raad besluit word oor die aanstelling van 'n uitvoerende hoof, finansiële hoof, hoofafrigter en direkteur van afrigting.

Remgro het aan die begin van verlede jaar die voormalige afrigter van die Oostelike en Westelike Provinsie, Alan Zondagh, na Loftus ontbied.

Hy het in Februarie as die Bulle se direkteur van rugby bedank.

White is glo na dese Remgro se voorkeur-kandidaat.

Jannie Durand, uitvoerende hoof van Remgro, kon nie vir kommentaar bereik word nie.



LEEUS SOEK KREATIWITEIT

Kreatiwiteit. Dít sal die Leeus-rugbyunie se gonswoord op die pad vorentoe moet wees, berig Christo Buchner.

Ivan van Rooyen, die hoofafrigter, het gister deur hul media-afdeling laat weet dat die Leeus nou deur die wêreldwye koronavirus-pandemie gedwing word om kreatief te raak.

“Daar gaan video-oproepe wees om ons afrigtingsvergaderings te bespreek en vir verskeie moontlike opsies te beplan wat die volgende ses weke betref,” sê hy.

Die Leeus wil nie onvoorbereid wees indien daar op hul knoppie gedruk word om die seisoen te hervat nie.

Hulle wil dan paraat wees en die seisoen met groot oorgawe hervat.

Leeus-ondersteuners sal egter by die afrigters en spelers wil pleit dat hulle nie moet sê dat hulle sal aangaan waar hulle opgehou het nie.

Dit sal katastrofies vir die span van die Goudstad wees. Hulle sal 'n heeltemal nuwe blaadjie moet omslaan en daar kan gesê word dat vir die Leeus eintlik maar 'n bedekte seën is dat die Superreeks nou vir eers tot 'n einde gekom het.

Wat die toer na Australasië betref, was Van Rooyen eintlik maar net so vaag soos wat drieë deur sy span deesdae is.

Hulle het al drie hul kragmetings verloor en nie 'n enkele ligapunt uit 'n moontlike 15 verwerf nie.

Week ná week het die tellings teen hulle net al groter geword en die nederlaag van 10-43 in die laaste kragmeting in Auckland teen die Blues vertel die verhaal van 'n span in krisis wat sonder enige oortuiging of toewyding speel.

Van Rooyen voel egter dit was goed vir sy groep om te kon toer en met die realiteit van rugby in Australasië te doen te kry.

“Dit was heelparty spelers se eerste toer en nou weet hulle wat dit vat om teen spanne van Australië en Nieu-Seeland te speel.

“'n Wegwedstryd oorsee is 'n heeltemal ander belewenis as 'n wed­stryd hier by die huis, of om selfs hier in Suid-Afrika weg te speel.”

 – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!