Bulle se agttal knoop Cheetahs se sterte
Bulle se agttal knoop Cheetahs se sterte

Bulle se agttal knoop Cheetahs se sterte

Rugby
Cobus Claassen – Dit was nie naastenby die beste poging van die Blou Bulle in vanjaar se Curriebeker-rugbyreeks nie.
Die sukkelende Cheetahs was Saterdagaand teen die einde op Loftus Versfeld sterk op pad om die Bulle ’n wekroep te gee.
Tog kon ondersteuners van die Ligbloues optimisties ’n vuurtjie aansteek om ’n vasbytsege van 39-36 oor die Bloemfonteiners te vier.
Dat die Bulle voor volgende Saterdag se halfeindstryd taamlik onoortuigend was in veral die eerste helfte, is nie noodwendig iets om oor bekommerd te wees nie.
Geen span hoef ’n week voor uitkloprugby gespeel word, op sy beste te wees nie – soos ’n gholfspeler nie al sy goeie houe op die oefenbof wil slaan nie.
Die span wat vanjaar die Curriebeker in die hoofstad wil kom haal, sal die Ligbloues se jong bulletjies voor moet roer.
Dit was weer die Blou Bulle se voortreflike agttal wat seker gemaak het die Cheetahs se sterte word geknoop.
Haal jy die Bulle-kaptein, Arno Botha, se 29 winters uit die berekening, is die res se gemiddelde ouderdom maar net 21.
Dié groep melkbaarde speel egter al die hele seisoen soos geharde veterane.
Benetton het in Julie in die eindstryd van die Reënboogbeker-kompetisie in Treviso die Bulle in die vaste fasette ontwrig, maar dit is makliker gesê as gedaan.
Daar wag wel ’n paar verstellings in die Bulle-kamp die komende week.
Die span se verdediging was in die eerste helfte en laat in die wedstryd plek-plek nie te waffers nie en dit is die grootste rede waarom die Bulle weer van agter af moes kom om die Cheetahs te bêre.
Kurt-Lee Arendse is boonop ná net twee minute met ’n draagbaar van die veld af toe ’n kantlynskop van die Cheetahs se heelagter, Cohen Jasper, sy ligte afgesit het.
Die Bulle sal straks ’n nuwe linkervleuel soek as dié blits harsingskudding opgedoen het.
Ruan Pienaar-hulle het die bal sorgeloos rondgegooi en dit het ’n klompie mooi drieë opgelewer.
Dit was egter in die geheel ’n rampspoedige Curriebeker-veldtog vir die Vrystaters.
Daar was verlede jaar groot protes in Cheetah-kontrei nadat die besluitnemers in Suid-Afrika die span die trekpas uit die Pro14-reeks gegee het.
Die Cheetahs het sedertdien min gedoen om te wys dit was ’n kortsigtige besluit.
Daar is onder meer gevra vir ’n promosie/relegasie-kans teen die vier groot franchises, maar die Cheetahs sal na dese verlig wees om volgende jaar weer in die Premierliga mee te ding.
• Puntemakers:
Blou Bulle 39 (24): Drieë: Marco Jansen van Vuren, Elrigh Louw, Jan-Hendrik Wessels (2), Madosh Tambwe. Strafdoele: Johan Goosen (2). Doelskoppe: Goosen (4).
Cheetahs 36 (24): Drieë: Mihlahli Mosi, Duncan Saal, Strafdrie, Cohen Jasper, Malcolm Jaer. Strafdoel: Ruan Pienaar, Doelskoppe: Ruan Pienaar (3).
– Netwerk24

FOTO
Die Bulle se Elrigh Louw op pad om sy drie teen die Cheetahs te druk in Saterdag se Curriebeker-wedstryd op Loftus Versfeld. Foto Gallo Images

Kommentaar

Republikein 2025-04-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer