Bulspan se grootste dag op Nuweland

'n Volle drie dekades het intussen verloop . . . waar is die spelersgroep van 1988 vandag?
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Elkeen oud genoeg om figuurlik gesproke sy verstand te hê, kan onthou waar hy daardie dag was – vandeesweek presies dertig jaar gelede, toe die destydse Suidwes-Afrika se bulperd van ’n rugbyspan die Westelike Provinsie geklop het.

Die ikoniese oorwinning met 24-21 op Nuweland in Kaapstad op 21 Mei 1988, waar stortreën die veld in ’n modderbad laat ontaard het, het die verbeelding van ’n generasie aangegryp as een van die onvergeetlike prestasies in die land se sportgeskiedenis.

Die Kapenaars was twee naweke tevore in Windhoek met dieselfde telling aan die wenkant en het later daardie jaar die Curriebeker-eindstryd met een punt (19-18) teen Noord-Transvaal verloor. Suidwes-Afrika het derde op die puntelys geëindig, sonder dat ’n semifinaal gespeel is.

Rustyd was die WP met 15-6 voor en het kort daarna hul voorsprong tot 21-6 gerek, voordat die span in blou en rooi hul kele toegedruk het.

Deur die genade leef bykans die hele spelersgroep en bestuur dertig jaar later nog, met die uitsondering van die afrigter oom Henning Snyman wat gedurende 1996 aan kanker oorlede is en die vaskopstut Manie Grobler (11 November 1953 tot 26 Augustus 2004).

Republikein se Des Erasmus was daardie dag in die persbanke op Nuweland en sê die herdenking roep vele herinneringe op.

“Heelwat mense het daardie jare vanweë die onsekere politieke klimaat na Suid-Afrika begin padgee. Veral op Somerset-Wes het soveel Namibiërs hulle tuisgemaak dat dit in die Bolanders se volksmond as Somer-Suidwes bekend geraak het.

“Toe die eindfluitjie blaas en ek uit die persbank afbeweeg veld toe, het dit gelyk soos ’n reünie soos almal reeds daar om die spelers saamgedrom het in die kwartgebied waar André Stoop die laaste bal voor die eindfluitjie uitgeskop het.”

By die kapteinsoefening die vorige dag het die slot Jacques Theron ’n besering opgedoen en is Nartjies Nortjé van die flank af geskuif om sy plek in te neem. Erasmus het dié brokkie met sy nuuskollega Gerhard Kirsten gedeel, wat toe in die Saterdagoggend se Die Burger geskryf het dat die Suidwesters nou voorlangs gewig ingeboet het – sonder om te weet wat ’n beer van’n mens Nartjies Nortjé in werklikheid is.

“Ek onthou die vuil kyk wat Kirsten my kort ná die afskop gegee het toe hy sien hoe Nartjies lyk,” sê Erasmus.

Volgens die veteraanjoernalis was Shaun McCulley se vertoning van taktiese skopwerk een van die uitstaande elemente van die wedstryd. “Hy was die WP-heelagter Calla Scholtz se nagmerrie en het hom gereeld vergeefs agter sy hoekskoppe aan gejaag. Calla het ook algaande verbrou wanneer McCulley hoog geskop het.”

In sy Maandag-koerant het Erasmus onder meer geskryf: “Op die linkervleuel het die beroemde Carel du Plessis (WP-kaptein en Springbok) Mans-kwaal opgedoen wat hom in skoppies en binne-aangeë laat oorgaan het voordat hy naby aan die Suidwes-kaptein was.

“Die voorspelers het as agttal uitgeblink en hul dryfbewegings het die tuisspan in trurat oorgeskakel en hul ratwerk laat breek. Arra van der Merwe het nog nie beter in die Suidwes-trui gespeel nie. Lang hom het dit gelyk of Nartjies Nortjé nog nooit vanjaar met ’n besering gesukkel het nie. En as Nortjé ’n man platloop, is hy gelyk met die aarde.

“Willem Maritz is weer vir ’n paar van die stout goedjies gestraf, maar hy was die man wat die vuur in die kaggel gestook het.Daar was ook ’n woeste skrumstryd tussen Casper Derks en Keith Andrews, met Manie Grobler wat soos die rots van Gibraltar in die nat en lang gras van Nuweland gestaan het.”

MANNE ONTHOU

Nartjies Nortjé het gister vertel: “Dit was ’n harde wedstryd soos dit maar daai jare gegaan het. Ons moes maar met alles inklim, maar in die reënweer het dit gewerk.

“Toe ons eers vir Faffa Knoetze (WP binnesenter) ’n slag geloop het, het dit nie meer so vinnig in hulle agterlyn gegaan nie.”

Buitesenter Danie van der Merwe sê die oorwinning was ’n ongelooflike oomblik, gedurende ’n era waar die topprovinsies elke naweek op volle sterkte met al hul Springbokspelers was.

“In die tweede helfte het ons die WP punteloos gehou terwyl ons teruggeveg het met twee drieë deur Shaun McCulley en een deur Gerhard Mans. Tien minute voor die einde het die Spoorwegpawiljoen vir ons, eerder as vir die WP, begin skree.”

Van der Merwe sê vandag is rugby se ganse stelsel anders en dit is nie heeltemal regverdig om byvoorbeeld dieselfde van die Welwitschias te verwag nie.

“Ons suksesresep was dat 80 persent van die spanlede reeds oor die vorige ses, sewe jaar saam gespeel het en elke spanmaat langs hom se spel en volgende beweging toe-oë kon lees.

“Ons het ook met baie selfvertroue en gespeel – ook iets wat deur die ondervinding gekom het. Die bekende name op die opponente se spanlys het niks getel nie. Ons is nie net afgeknou nie – ons het hulle ook afgeknou. Elkeen van ons het met ’n totale passie vir sy span en sy land gespeel.”

WAAR IS DAAI SPAN VANDAG?

15 André Stoop – sedert einde 2015 terug in Windhoek, nadat hy aan die einde van sy spelersloopbaan “rugby league” in Engeland gespeel het. Werk in boukonstruksie, opknapping en motorverhuring.

14 Gerhard Mans (kaptein) – woon in Windhoek, besturende direkteur van FNB Namibia Versekeringsmakelaars.

13 Danie van der Merwe – woon in Windhoek, eienaar van Danie van der Merwe Versekeringsmakelaars.

12 Wim Lötter – woon in Windhoek, bestuurder by Standard Bank.

11 Wally Clark – woon glo in die Kaap. Min spanmaats het klaarblyklik nog kontak met hom.

10 Shaun McCulley – woon op Somerset-Wes, werk in bemarking en finansiële beplanning.

9 Basie Buitendag – woon in Windhoek, bedryf sy eie besigheid in versekering.

8 Sarel Losper – boer buite Windhoek, ná sy aftrede by Namibia Development Corporation.

7 Johan Barnard – woon in Windhoek, uitvoerende hoof by Momentum korttermynversekering.

6 Willem Maritz (onderkaptein) – jare lank onderwyser, deesdae plaasbestuurder in Hochfeld omgewing.

5 Arra van der Merwe – woon in Windhoek, eie besigheid.

4 Nartjies Nortjé – woon op Mariental, onderwyser by Danie Joubert Gekombineerde Skool.

3 Manie Grobler – oorlede in 2004. Sy seun Herman speel vir United en soms vir die Welwitschias.

2 Eben Beukes – het na Suid-Afrika verhuis nadat hy in 1990 drie toetse vir Namibië gespeel het.

1 Casper Derks – woon op Walvisbaai, bedryf sy eie besigheid in skrootmetaal.

Dit was die rowwe era lank voor die hedendaagse klem op “spelerswelsyn”, toe ’n rugbyspan net twee reserwes gehad het. Op die bank was haker Chris du Toit en skrumskakel Mike Pekalski.

• Sien ook Facebook-lesers se reaksies en herinnering op bl. 11.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!