Bure help hul buurte skoonhou

Informele nedersettings landswyd se ontwikkeling en hervorming word van binne gedryf.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die gemeenskap van Samora Machel-kiesafdeling is voorlopers in die toepassing van die gemeenskapsgeleide totale sanitasie-inisiatief (CLTS), waardeur hul omgewing vanaf 'n ashoop tot 'n behoorlike buurt verander word.

Hulle was in Maartmaand geverifieer en wag nou net op die sertifikaat in Meimaand, om te bevestig dat hul woonbuurt nou vry van enige hope menslike ontlasting is. Die Moses Garoeb kiesafdeling is ook inspeksie afgelewer om te sien of “landmyne” en vullis steeds die omgewing besoedel, met soortgelyke resultate.

Mnr. Gotlieb Sheya Timo is die projekkoördineerder van Development Workshop Namibia (DWN) wat hierdie projek op grondvlak bestuur. Saam met die Namibiese Kamer van die Omgewing (NCE) word DWN gefinansier deur die Europese Unie om die inisiatief in agt dorpe toe te pas.

In Windhoek, Swakopmund, Karibib, Otjiwarongo, Oshakati, Opuwo, Oniipa en in Katima Mulilo is groepies vrywilligers versamel en bemagtig om gesondheid in hul gemeenskap te bevorder.

Die Samora Machel projek is in 2018 begin. Timo was vandeesweek trots om die netjiese perseel en fasiliteit met heldergeel toilette en wasbakke te wys, wat vrywilligers langs die sokkerveld in Hadino Hishongwa naby die grondpad-afdraai vanaf die pad na Green Mountain Dam gebou het.

“Hierdie gemeenskap is nou vry van openbare menslike ontlasting. Die aantal selfgeboude toilette by mense se huise is ook meer. Mense bestuur hul afval,” sê hy.

Die toilet en die herwinningsperseel langsaan is die sigbare eindresultaat van lang ure se harde werk en maande se gemeenskapsbetrekkinge om sanitasie en higiëne in die bewussyn en gewoontes van inwoners te vestig.

Me. Beata Gebhardt is 'n opsigter en herwinningsvrou in die Samora Machel-kiesafdeling in die hart van Windhoek se nedersettings. Sy is 'n leier in die CLTS en sê: “Ons is baie dankbaar dat ons projek voortgaan. Dit lyk nou baie mooi; dit was baie vuil.”

Mnr. Hainura Berthold is die kiesafdeling se koördineerder. Hulle dek vier buurte waar nou nie meer ontlasting rondlê nie. Nogtans is daar vele uitdagings, soos 'n tekort aan beskermende klere en samewerking vanaf plaaslike leiers. Hy vra ook dat die munisipaliteit moet help om rivierlope skoon te maak.

Volgens DWN en NCE is die netwerk van vrywilligers hul grootste bate.

“Huis-tot-huis besoeke is 'n deurslaggewende deel van 'n doeltreffende en veilige kommunikasieveldtog in die informele nedersettings,” lui hul nuutste vrystelling.

Die organisasies het ook gehelp om klein sanitasiebesighede as deel van die projek te stig. Twee hamerbore is gekoop wat vir uitgrawings gehuur kan word. Opsigters by gemeen­skapstoilette verdien 'n klein fooi en verkoop ook vullissake, seep en ander verwante produkte.

Die welsynsvennootskap tussen die organisasies lewer ook sukses in terme van hul laekoste-grondverskaffingsinisiatief. Hiermee verwag hulle om teen Junie in 15 dorpe besig te wees. Vordering sluit reeds die registrasie in van 40 inwoners as kliënte vir 320 erwe wat in Keetmanshoop gediens word; 165 geregistreer in Opuwo waar 437 erwe gediens word; 371 erwe sover in Okahao gediens en 316 reeds verkoop, asook voorlopige ingenieursontwerpe voltooi vir 117 erwe in Oniipa.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!