Burger klop geharde atlete van RSA

Die jong Namibiër het in die ultra-­afstand 'n puik oorwinning behaal.
Andrew Poolman
Al die aandag wat vooraf op hom as 'n gunsteling gerig was, het Jean-Paul Burger nie van stryk gebring nie toe hy laas Sondag die MiWay Cape Ultra triathlon gewen het.

Meer as 'n duisend atlete het aangetree vir die resies by Villiersdorp, sowat 'n uur-en-'n-half oos van Kaapstad, wat om 08:00 in koel, bewolkte weer begin het.

Alle oë was op die 21-jarige Namibiër ná sy vorige oorwinnings in die Tinman-triathlon in Julie en die Mandela-triathlon in Augustus. Omtrent 'n hand vol van Suid-Afrika se gehardste driekampers sou egter in die 1.9 kilometer swem, 90 km fietsry en 21 km hardloop hul bes doen om die Maties-atleet in toom te hou.

Met die Theewaterskloofdam se temperatuur op omtrent 14 grade Celsius was die groep vir die ultra-afstand se swemskof nogal aan die koue kant. Die koue het vir verskeie deelnemers probleme verskaf.

Die swemafstand is in twee sirkelrondtes voltooi.

Nog 'n gunsteling in die mansresies, Kent Horner, het soos gewoonlik in die swemskof aangeval om 'n klein voorsprong bo Burger as die gevaarman op te bou.

In die fietsskof oor 90 kilometer, wat ook drie baanrondtes was, het die klimdele van 'n gesamentlike 1000 meter die deelnemers uitgeput.

In die fietsskof het Horner sy voorsprong behou terwyl Burger sy kans afgewag het om toe te slaan.

Brad Venter was in die derde plek op die fiets, met Gerhard de Bruin agter hom en die drietal Donovan van Gelder, Richard Lawrie en Casper Moodie nie ver agter hulle nie.

Die Namibiër het nog heelwat spoed in sy bene oor gehad ná 'n paar onlangse byeenkomste op die ITU-reeks. In die hardloopskof (21 km) het dit nie lank geduur voordat hy die voortou oorgeneem het nie. Van daar het hy nie weer teruggekyk nie en het die oorwinning in 4 ure 22 minute beklink.

Die wentyd wys hoe uitmergelend die roete was wat ondanks die natuurskoon nie baie pret vir die “onfikses” sou wees nie.

In die jaagtog vir die tweede plek het Gerhard de Bruin in die hardloopskof die tweede plek oorgeneem, met die veteraan Van Gelder wat hard probeer het om hom van agter in te haal. Van Gelder het derde op die podium gestaan.

In die vroue-afdeling het Magda Nieuwoudt ná 'n paar resiese in Europa gewys hoekom sy as die gunsteling bestempel is, toe sy van die begin tot einde voorgeloop het. Sy het vyf minute voor Mellusca Toovey klaargemaak, wat puik in die hardloopskof gevaar het, met die bestendige Kelly van der Toorn derde.

Die Midlands Ultra Triathlon by Midmardam in KwaZulu-Natal sal aan die einde van November die laaste byeenkoms in die MiWay Ultra-reeks wees, met inskrywings wat nog oop is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!