Burger wys hakke

Driekamp
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Jean-Paul Burger van Windhoek het Saterdag by die Midmardam naby Howick in KwaZulu-Natal die Mandeladag-triathlon in styl gewen toe hy die uitmergelende Olimpiese afdeling in 1 uur 46 minute 14 sekondes opgeraap het.

Burger, wat in die elite-afdeling (18 tot 24 jaar) meegeding het, het 3 m 12 s voor Matthew Greer oor die eindstreep gedraf. Greer se tyd van 1:49:26 het aan hom die tweede plek besorg terwyl Rudolf Naude (25 tot 29 jaar) knap ná Greer derde in 1:49:42 geëindig het. Die 21-jarige Keegan Cook van Port Elizabeth wat saam met Burger en Greer in die elite-afdeling deelgneem het, was in 1:52:54 algeheel vyfde en derde in sy afdeling.

Burger vertel dat dié byeenkoms goeie prysgeld aanbied en dus 'n groot aantal atlete lok.

“Ek wou nie eintlik deelneem nie, want volgende naweek is die Half Ironman-wêreldkampioenskap-byeenkoms en ek het nie regtig op Satderdag se byeenkoms gekonsentreer nie. Maar omrede dit die Olimpiese standaard van 1.5 km swem, 40 km fietsry en 10 km hardloop was, het ek gedink dit sal ‘n goeie maatstaf wees om myself te toets vir die Ironman wat voorlê.

“Die ren was hard, maar danksy my goeie tyd in die swem van 15 m 56 s, kon ek vyf sekondes voor Naude en 12 sekondes voor Greer eerste uit die water draf. Die fietsry-afdeling het ek heeltemal op my eie gery. Dit is die Olimpiese afstand en ons mag in mekaar se sleurstroom ry, maar ek het besluit om weg te breek en ‘n klein groepie van vyf agtergelos wat my probeer vang het, om byna ‘n minuut voor Greer (tweede) in 55 m 23 s klaar te maak.

“Met 55 sekondes tot my beskikking het ek besluit om my bene vir komende naweek te spaar en het glad nie voluit in die drafsessie gegaan nie. Ek het gefokus op my peil en my energie gespaar om die 10 km in 33 m 54 s te wen. Dit het my ‘n verdere voorsprong van 1 m 54s teenoor Greer gegee wat tweede geëindig het,” het 'n tevrede Burger gesê.

Burger sê die 2018 Isuzu Ironman 70.3-wêreldkampioenskappe in Port Elizabeth op 1 en 2 September gaan hard en interessant wees.

“Ek dink my peil is tans goed en baie positief wat my kanse vir komende naweek betref. Dit gaan interessant wees, want dit is ‘n baie groot geleentheid en ek wil natuurlik my bes lewer en goed doen. Dié byeenkoms lok nie net Suid-Afrika se room nie, maar ook die internasionale bestes van meer as 100 lande wat hul merk hier saam met 6 000 ander deelnemers wil kom maak.

“Ek het sedert Junie baie hard geoefen vir die Halfysterman. Ek het geweet dit bykans elke naweek wees wat ek gaan deelneem en daarvolgens beplan. Vandeesweek gaan ek net herstel en rus met stadige oefening om te herstelproses te bespoedig. Saterdagoggend spring ons negeuur weg en as alles reg verloop en ek nie meganiese probleme met die fiets ontwikkel nie, kan ek op die podium staan.

“Die roete is redelike plat en ek gaan probeer om die totale afstand in vier ure of minder te voltooi. Ek het alles in my vermoë gedoen om my beste peil vir die Ironman te bereik. My vinnigste tyd vir die PE-roete, soos ons dit noem, is 4 ure drie minute en ek sal Saterdag vinniger as dit klaar moet maak. Dit is ‘n droom vir my en in my hart hoop ek om op die podium te staan. Natuurlik is daar op enige gegewe dag ‘n beter atleet as jy en al het jy jou beste gelewer, kan jy nog steeds nie bereik wat jy graag wou nie,” het Burger verduidelik.

Uitslae

Namibië: 1. Jean-Paul Burger (Totale tyd 1:46:14). 1.5 km swem 15 m 56 s, 40 km fietsry 55:23, 10 km draf 33:54.

Suid-Afrika: 2. Matthew Greer (1:49:26). Swem 16:08, fietsry 56:16, draf 35:48. 3. Rudolf Naude (1:49:42). Swem 16:01, fietsry 56:29, draf 35:42. 5. Keegan Cooke (1:52:54). Swem 16:02, fietsry 56:41, draf 38:55.

Die 70.3 is die totale afstand van die Halfystermankompetisie in myle. Die swem is 1.9 km in die see met die fietsry van 90 km direk daarna. In die laaste dissipline draf deelnemers 21.1 km wat ‘n halfmarathon is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!