Burgers moet by maak van wette betrek word

Die Regshulpsentrum en die Hanns Seidel-stigting samel inligting oor die maak van wette in en wil dit aan gewone burgers beskikbaar stel.
Augetto Graig
Augetto Graig



Namibiese burgers moet meer betrokke raak by die proses waartydens landswette gemaak word.

Volgens me. Anel van der Vyver, sekretaris van die kabinetskomitee vir wetgewing, is Namibiërs se bydrae tot die maak van wette erg beperk.

“Dit is iets waarna ons kyk,” het sy gesê.

Die komitee het met 'n nuwe benadering vir die lang proses vorendag gekom, wat die komiteesekretaris aan die stuur van sake sal plaas.

“Dit is nog nie aan die kabinet voorgelê nie, ons konsulteer nog daaroor en sal die voorlegging met sorg moet opstel,” het sy gesê.

Die nuwe proses sal gewone burgers meer geleenthede bied om insette in nuwe wetgewing te lewer.

Van der Vyver het gesê daar sal voorgestel word dat burgers tot die aanvanklike gesprek oor ­wetsontwerpe toetree, asook wanneer dit in die Nasionale Vergadering (NV) ter tafel gelê word, en weer eens wanneer die wetgewing onder toepaslike staande parlementskomitees se aandag gebring word.

Heelwat verwarring bestaan oor presies waar en wanneer gewone burgers insette kan lewer.

Van der Vyver sê selfs sy vind dit tans moeilik om wetgewing wat nog nie goedgekeur is nie, binne die proses “op te spoor”.

Dít ten spyte van regeringsriglyn 1 van 1993 (uit die Staatskoerant 583 van 5 Februarie 1993) wat die proses met betrekking tot die skep van nuwe wette uiteensit.

Daarin word kabinetskomitees se sentrale rol in die opstel van Namibiese wette beklemtoon.

'n Voorbeeld hiervan is die ­verwagte kinderbeskermingswet wat sloer weens 'n tekort aan wetsopstellers.

Van der Vyver sê voorlopige vergaderings hieroor sal na verwagting teen Julie met lede van die ministerie van justisie se direktoraat van wetsopstellers oor die kinderbeskermingswet se vordering gehou word.

Volgens me. Dianne Hubbard, ­koördineerder verbonde aan die Regs­hulpsentrum (LAC), is rolspelers wel tydens die opstel van dié wets­ontwerp geraadpleeg.

“Die wetsontwerp op kindersorg en -beskerming is 'n hoogtepunt in terme van breër betrokkenheid by die proses,” het sy gesê.

“Dit was byna 'n openbare-private vennootskap tussen die ministerie van geslagsgelykheid en kinderwelsyn, die LAC en Unicef (die Verenigde Nasies se kinderfonds). Dit het baie tyd en baie geld gekos. Ons skat 40% van die bevolking is bereik van wie 30% kinders of jeugdiges was,” het sy gesê.

Hubbard en Van der Vyver was ­eregaste en sprekers by die ­onlangse bekendstelling van pamflette wat die LAC saam met die Hanns Seidel-stigting saamgestel het om gemeenskaps­organisasies en gewone burgers oor aanbevelings met betrekking tot wetsontwerpe in te lig.

Die parlementslid me. Jennifer van den Heever was ook by die geleentheid teenwoordig, asook me. Naita Hishoono, direkteur van die Namibiese Instituut vir Demokrasie (NID).

“Die burgerlike samelewing is almal. Ons het nieregeringsorganisasies, maar ek sou meer betrokkenheid wou hê van die sakewêreld, van die kerke. Ons verwelkom die regering se poging om openbare betrokkenheid te institusionaliseer. Vir openbare betrokkenheid om doeltreffend te wees, moet voorbereiding getref word. Maak agtergrondinligting vir die publiek toeganklik. Maak dit maklik vir mense om insette te lewer en vra goeie vrae. Doen navorsing om beter vrae te kan vra,” het sy gesê.

Van den Heever het pogings tot meer betrokkenheid verwelkom.

“Dit is belangrik dat die samelewing en die gemeenskap daagliks insette moet lewer. Vir wetsontwerpe het ons dié insette nodig,” het sy gesê.

Volgens Hishoono moet die publiek ook hul kant bring deur hulself te vergewis van aanbevelings, wetskepping en openbare betrokkenheid.

Een oplossing is om die inligting met skoolleerlinge te deel, het sy gesê.

Die NID gaan 'n projek van stapel stuur waartydens pamflette, wat op navorsing gebaseer is, aan graad 10- en graad 11-leerlinge verskaf sal word, het sy gesê.

Dié inligting sal ook op die LAC en die Hanns Seidel-stigting se webwerwe of by hul kantore beskikbaar wees.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer