Burundi-leierskap voor stok

'n Verenigde Nasies-kommissie van ondersoek na gebeure in 2015 in Burundi het bevind die owerhede van dié land het misdade teen die mensdom gepleeg.
NAMPA
Amptenare van Burundi op die hoogste vlak moet vir misdade teen die mensdom aanspreeklik gehou word.

‘n Lys verdagtes is reeds deur die Verenigde Nasies (VN) se kommissie van ondersoek na Burundi opgestel, het die kommissie gister in Genève aangekondig.

Die kommissie sê daar is redelike gronde om te glo dat misdade teen die mensdom sedert April 2015 gepleeg is, toe pres. Pierre Nkurunziza aangekondig het dat hy vir ‘n derde ampstermyn sal staan. Dit het tot chaos en geweldpleging gelei.

“Die kommissie het redelike gronde om te glo dat hierdie misdade hoofsaaklik deur staatsamptenare op die hoogste vlakke en lede van die intelligensiediens, die polisie, die weermag en die Imbonerakure gepleeg is,” lui die verslag.

Die Imbonerakure, die jeugliga van die regerende party, het opdrag van Nkurunziza se kantoor gekry om menseregteskendings te pleeg, het die kommissie bevind.

Die verslag van die jaar lange ondersoek in opdrag van die VN se raad op menseregte in September 2016, is gegrond op meer as 500 onderhoude met onder andere slagoffers en ooggetuies. Burundi se regering het enige dialoog of deelname geweier.

Die vernaamste oortreders van menseregteskendings was die weermag en veiligheidsmagte, terwyl die nasionale intelligensiediens vir buitegeregtelike teregstellings, arbitrêre aanhoudings, gedwonge verdwynings, vernederende behandeling en seksuele geweld verantwoordelik was.

Burundi is onder die jurisdiksie van die Internasionale Strafhof, al is die land besig om daaraan te onttrek. Die kommissie het die hof versoek om so gou as moontlik met ‘n ondersoek te begin. – Nampa/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-04-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer