Bushiriu2019s borgtog geweier
Bushiriu2019s borgtog geweier

Bushiri’s borgtog geweier

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg – Die bekende selfverklaarde profeet Shepherd Bushiri (37) en sy vrou, Mary, is vandag borgtog in die landdroshof in Pretoria geweier.


Die egpaar is gister deur die Valke in hegtenis geneem op klagte van korrupsie en geldwassery ter waarde van R102 miljoen.

Tydens hul hofverskyning het ’n groot skare lede van Bushiri se Enlightened Christian Gathering-kerk (ECG) buite die hof saamgedrom. Die media is nie in die hof toegelaat om foto’s te neem nie.

Die staat het die saak tot Vrydag uitgestel en tot groot ontevredenheid van hul volgelinge bly die egpaar in aanhouding.

Mnr. Ephraim Nyondo, woordvoerder van die ECG, het in ’n verklaring gesê die Valke het me. Mary Bushiri Dinsdag omstreeks 11:00 by hul huis in hegtenis geneem.

Nyondo het gesê Bushiri, ’n Malawiër, het na die Valke se kantore in Silverton gegaan om homself te oorhandig ná die inhegtenisneming van sy vrou.

Die Bushiri-egpaar is in Februarie verlede jaar deur die Valke op ’n afsonderlike klag van bedrog en geldwassery ten bedrae van meer as R15 miljoen gearresteer. Bushiri en sy vrou is destyds deur die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria op borgtog van R100 000 elk vrygelaat.

Hulle sal op 31 Mei aanstaande jaar verhoor word.

NAMIBIESE BESOEK
’n Besoek van Bushiri in Februarie 2016 aan Windhoek het sommige kerkleiers wat hom as ’n fortuinsoeker beskou, behoorlik ontstel.

Meer as 20 000 mense het destyds na die Sam Nujoma-stadion opgeruk om Bushiri se diens by te woon. Die vorige dag is ’n galadinee vir hom by die Ramatex-kompleks gehou waar meer as 3 000 mense N$1 000 elk betaal het. Sestien mense het tussen N$10 000 en N$110 000 per kop betaal net om naby Bushiri te sit.

Hy het polisiebegeleiding gehad en die hotel waar hy gebly het, is deur die polisie bewaak.

[email protected]; Netwerk24

Foto Facebook/ECG

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer