Bylmoordenaar erken skuld

Die man wat sy meisie twee jaar gelede in Otjiwarongo met 'n byl doodgekap het, het gister skuld in Windhoek se hoërhof erken.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw - 'n Hewige argument was die oorsaak van die gebeure wat gelei het tot die dood van die 28-jarige me. Christine Ganses aan die hand van haar kêrel, Israel Kapepu (44), het regter Naomi Shivute gister in Windhoek se hoërhof tydens Kapepu se skuldbekentenis gehoor.

Kapepu, ’n sweiser van beroep, het regter Shivute in ’n skriftelike pleitverduideliking ingelig dat hy en Ganses gestry het omdat sy die middag van 28 Februarie 2015 ná ’n romantiese verposing wou terugkeer na die plek waar hulle vroeër die dag sterk drank gedrink het. Volgens hom wou hy hê hulle moes tyd as ’n familie saam by hul huis in die Tsara Xaibes-woonbuurt in Otjiwarongo deurbring aangesien hulle reeds vir twee dae gaan drink het. Die paartjie het ’n driejarige seuntjie.

Kapepu het genoem dat hy woedend was omdat Ganses hom beledig het, iets wat glo ’n gewoonte geword het. Met sy besluit om haar met ’n sambok te dissiplineer, het gebeure egter ’n gewelddadige en dodelike wending geneem. Toe hy nie die sambok kon vind nie, het hy ’n byl geneem en die oorledene drie keer met die agterkant daarvan teen die kop gekap. Sy is op die toneel aan kopbeserings dood.

Regter Shivute het Kapepu op grond van sy skulderkenning aan moord skuldig bevind.

Regsverteenwoordigers het ook gister hul betoë vir vonnisoplegging gelewer.

Staatsadvokaat Marthino Olivier het Elizabeth Ganses, die oorledene se tante, geroep om te getuig vir ver­swarende omstandighede vir vonnisoplegging.

Ganses het getuig dat die oorledene die ma van drie kinders was, onder andere die driejarige seuntjie uit haar verhouding met Kapepu, wat teenwoordig was toe sy vermoor is. Sy het ook twee kinders uit vorige verhoudings gehad. Ganses, wat die oorledene grootgemaak het, het getuig dat haar niggie en Kapepu ’n goeie verhouding gehad het.

“Ek weet nie wat daar verkeerd gegaan het nie,” het sy aan die hof vertel.

Die staat het betoog dat dit ’n grusame moord was en veral in ’n ernstige lig beskou behoort te word omdat die partye in ’n romantiese verhouding betrokke was. Hy het ook aan die hof genoem dat die nagevolge van die moord wyer uitkring as die voorval self en dat dit veral ’n negatiewe effek op die lewens van die paartjie se kinders sal hê.

Mnr. Mese Tjituri, wat namens Kapepu opgetree het, het ter versagting van sy vonnis betoog dat hy deur sy moeder, ’n enkelouer, grootgemaak is. Afgesien van hul driejarige seuntjie het Kapepu en die oorledene ook ’n sewejarige seuntjie aangeneem. Tjituri het aan die hof genoem dat sy kliënt nie sy alkoholgebruik op die noodlottige dag as regverdiging vir sy optrede wil gebruik nie en volle verantwoordelikheid vir sy daad aanvaar.

Vonnis sal op 1 Junie opgelê word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!