Bylmoordenaar kry 28 jaar
Jacqueline Louw – “Dit kan beswaarlik betwis word dat die oorledene ’n wrede en pynlike dood aan die hand van haar sogenaamde minnaar gesterf het," het regter Naomi Shivute gister in die hoërhof in Windhoek gesê voordat sy Israel Kapepu tot 28 jaar gevangenisstraf gevonnis het.
Dié straf is die 44-jarige Kapepu opgelê nadat hy op 16 Mei vanjaar ’n skulderkentenis in die hoërhof gemaak het en skuldig bevind is aan die moord op sy vriendin, die 28-jarige me. Christine Ganses.
’n Twee dae lange drinksessie saam met vriende het aanleiding gegee tot die moord, het die regter in haar uitspraak gesê.
Kapepu het op 28 Februarie 2015 saam met Ganses na hul huis in die Tsara Xaibes-woonbuurt in Otjiwarongo teruggekeer nadat hulle saam met vriende gekuier het. Kapepu wou hê dat hulle moes rus, maar Ganses wou na die drinkplek teruggaan. Dit het tot ’n hewige argument tussen die twee gelei.
In haar uitspraak het Shivute gesê Kapepu wou sy vriendin met ’n sambok "dissiplineer", maar toe hy dit nie kon vind nie, het hy ’n byl geneem en haar met die stomp kant drie keer teen die agterkop geslaan. Sy het op die toneel aan haar beserings beswyk.
Kapepu en Ganses was die ouers van twee seuntjies: ’n driejarige wat uit hul verhouding gebore is en ’n sewejarige wat hulle aangeneem het. Ganses het ook twee kinders uit ’n vorige verhouding gehad.
Shivute het gesê die feit dat Kapepu ’n eerste oortreder is en reeds 15 maande in die gevangenis deurgebring het, is versagtende omstandighede in sy guns, maar sy het ook genoem dat daar meer verswarende as versagtende omstandighede in die saak is.
Die regter het verder gesê huishoudelike geweld kom daagliks in ons samelewing voor en dit moet in ’n ernstige lig beskou word.
“Die oorledene het na die kamer waar sy veronderstel was om veilig te wees, gehardloop en die beskuldigde het haar gevolg en aangerand totdat sy doodgebloei het,” het Shivute in haar uitspraak gesê.
Sy het verder gesê die oorledene was ongewapen en het geen gevaar vir Kapepu ingehou nie. Sy het die moord as “sinneloos” en “gevoelloos” beskryf.
Voordat Shivute die vonnis opgelê het, het sy ook genoem die gemeenskap verwag dat die howe hulle sal beskerm teen meedoënlose oortreders deur toepaslike vonnisse op te lê wat by die misdaad pas.
“Indien die howe versuim om dit te doen, kan lede van die gemeenskap moontlik reg in eie hande neem," het sy gesê.
Die staatsaanklaer, mnr. Marthino Olivier, het namens die staat opgetree en Kapepu is deur mnr. Mese Tjituri verteenwoordig.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie