Byna 80% teen serotipe-O ingeu00ebnt
Byna 80% teen serotipe-O ingeu00ebnt

Byna 80% teen serotipe-O ingeënt

Daar is intussen ook met 'n aanvullende inspuiting teen die nuwe serotipe-O-virusstam begin.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Reeds sowat 79,5% van die geteikende 170 000 beeste in die Zambezistreek is reeds in 'n massa-inentingsveldtog teen die gewone bek-en-klouseer asook die nuwe serotipe-O-virusstam ingeënt.

Volgens mnr. Jona Musheko, woordvoerder van die ministerie van landbou, water en ­grondhervorming word beeste in die streek sedert 21 September ingespuit.

“Altesaam 135 173 beeste is teen die gewone bek-en-klouseervirus ingespuit, terwyl 131 556 teen die nuwe variant geënt is.

“'n Aanvullende inenting teen serotipe-O, of 'n tweede dosis vir alle beeste wat reeds die eerste dosis ontvang het, is vanaf 19 Oktober toegedien. Teen 22 Oktober het 12 746 van die 13 124 beeste wat boere vanaf 34 krale gebring het, met die opvolgdosis ingeënt,” het Musheko gesê.

Hy sê tydens die oorspronklike uitbreking van die siekte, is 97 600 beeste reeds tussen 31 Mei en 9 Augustus vanjaar vir die gewone bek-en-klouseer (SAT 1, -2 en -3) ingespuit.

Hy sê ook die laaste bees is op 6 September met die nuwe serotipe-O-virusstam van bek-en-klouseer by die Mukisa-nedersetting gediagnoseer.

Geen tekens van bek-en-klouseer is in die westelike dele van die Zambezistreek opgemerk nie.

Musheko het boere aangemoedig om hul beeste ook vir die opvolgspuite teen die nuwe bek-en-klouseervariant te bring en verder gehoor aan die beperkings op vee se bewegings te gee.



ONTDEKKING

Dit volg nadat minstens 5 000 beeste in die Zambezistreek met die nuwe virusstam van bek-en-klouseer besmet is. Die stam is nog nooit tevore in Namibië aangemeld nie en is dodeliker as ander stamme.

Die hoofveeartsenybeampte by die ministerie van landbou, water en bosbou, dr. Albertina Shilongo, het vroeër gesê die ministerie het tydens sy bekamping van die uitbreking van bek-en-klouseer, wat in Junie in die Zambezistreek waargeneem is, die serotipe-O-virusstam ontdek.

Shilongo sê hulle vermoed dié virusstam het Namibië vanaf Zambië binnegekom toe vee die grens onwettig oorgesteek het.

“Ons het 'n nuwe stam van bek-en-klouseer – serotipe-O – ontdek, wat nog nooit tevore in Namibië waargeneem is nie. Ons het 'n genotipe-ontleding gedoen en gevind die serotipe-O word geassosieer met 'n tipe wat in Zambië voorkom.”

Op die vraag oor wat die verskil is, het sy gesê serotipe-O is dodeliker, omdat dit blase in die beeste se bekke veroorsaak wat daartoe lei dat hulle van die honger vrek.

Shilongo sê vee wat onwettig oor grense beweeg, bly 'n uitdaging as dit kom by die uitwissing van bek-en-klouseer.

Die jongste uitbreking in Junie volg kort nadat beperkings in April op die beweging van diere met gesplete hoewe binne die bek-en-klouseer-beskermde gebied opgehef is.

Uitbrekings van bek-en-klouseer het sedert September verlede jaar in nege kiesafdelings voorgekom.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer