Byna halfmiljoen dollar geroof

Boewe het wagte van 'n sekuri­teitsmaatskappy aangeval en met houers vol geld weggekom.
Tanja Bause
Tanja Bause



Twee gewapende mans het gister 'n voertuig van G4S Security wat kontant vervoer het, by 'n besige inkoopsentrum in Windhoek beroof.

Die voorval het omstreeks 09:00 by die Westlane Lifestyle-sentrum in Pionierspark Uitbreiding 1 plaasgevind.

Volgens 'n ooggetuie het hy by die sentrum se parkeerterrein ingery en na 'n parkeerplek gesoek.

“Ek het by die voetoorgang gestop en die G4S-bakkie in die parkeerplek langs die ingang sien staan. Ek het gesien hoe een van die rowers 'n sekuriteitswag langs die voertuig platduik. Die bestuurder van die voertuig het nog in die bakkie gesit. Een van die rowers het 'n skoot op hom afgevuur, wat die ruit aan die bestuurder se kant stukkend laat spat het,” het hy vertel.

Volgens hom het die rowers 'n swart sowel as 'n blou houer agter uit die bakkie gegryp, voor sy voertuig verbygehardloop en 'n pistool op hom gerig. Die rower wat die swart houer gegryp het, het in 'n goudkleurige voertuig gespring wat volgens die ooggetuie soos 'n Toyota Yaris gelyk het.

Een van die ander rowers het die blou houer waarmee hy wou wegkom, egter teen 'n voertuig gestamp en dit laat val. Die boewe se wegkomvoertuig het reeds begin wegry, met die tweede rower wat volgens die ooggetuie noodgedwonge­ sonder die houer in die voertuig moes spring. Die goudkleurige voertuig het tot by die ver­keersligte gery en regs in die rigting van die stad afgedraai.

“Ek wou 'n video van die voorval maak, maar ek moet my foon met 'n duimafdruk ontsluit. Ek kon dit egter net nie regkry nie, dit was seker maar omdat my senuwees op was!” Hy vertel voorts die mans het nie klapmusse gedra of enigsins moeite gedoen om hul identiteit te verberg nie.

“As daar enige veiligheids­kameras is, behoort hulle gou gevang te word.”

Die voorval is deur 'n woordvoerder van die Namibiese polisie ­bevestig wat sê die veiligheidswagte is beroof toe hulle kontant by 'n supermark in die sentrum opgelaai het. Volgens adj. komm. Edwin Kanguatjivi het die bestuurder van die sekuriteitsvoertuig die boewe agtervolg, maar hul spoor verloor. Die rowers het meer as N$487 000 gebuit.

In 'n ander voorval het ses gewapende mans Sondag omstreeks 14:00 die eienaar van 'n Chinese winkel by Okamwandi Kanandjokwa in die Oniipa-omgewing beroof. Die mans het hulle as kliënte voorgedoen, die eienaar aangerand en met N$30 000 uit die kluis gevlug. Veiligheidskameras in die winkel is ontkoppel deur die boewe wat in 'n Toyota Corolla gevlug het. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!