Byna tyd vir Omaruru-kunsfees
Byna tyd vir Omaruru-kunsfees

Byna tyd vir Omaruru-kunsfees

NAMPA
Voorbereidings vir die 11de Omaruru Arts Trail is goed op dreef.

Die kunsfees strek oor drie dae van 21 September af.

Aktiwiteite sal onder meer insluit 'n aandete saam met die bekende Suid-Afrikaanse aktrise Elzabé Zietsman op die openingsaand, gevolg deur 'n kunsuitstalling, teater­opvoering en die OmaRoer Checkers Kos- en Wynskou.

Sedert 2007 word die Omaruru Artist Trail jaarliks in September deur talle kunsliefhebbers en kunstenaars bygewoon.

Kuns en handewerk sal tydens die fees op verskillende plekke op die dorp uitgestal word.

Me. Anita Dahl, tesourier van die Omaruru-kultuurvereniging, het aan Nampa gesê na afloop van die aandete waarmee die fees afskop, is daar heelwat vir besoekers om na uit te sien.

Donderdag se openingstema sal die druiweoes en -versameling wees, het Dahl gesê.

Vrydagmiddag sal me. Sandy Rudd, 'n bekende by die fees, feesgangers met haar Jacques Brel-vertoning vermaak. Vrydagaand sal akteurs soos Ester Fellner en Lize Ehlers gaste in die Barth-saal vermaak.

Die vermaak sal Vrydagaand in die Hans Nell-skuur voortgesit word met die Night of Musicals waartydens kunstenaars soos Kevin Leo, Lize Ehlers en Johan Kelber en die Kamerorkes sal optree.

“Saterdagmiddag sal Zietsman in die toneelstuk genaamd Dis Koue Kos, Skat te sien wees,” het Dahl gesê.

Saterdagaand is die OmaRoer Checkers Kos- en Wynskou met Sanet Prinsloo, Valiant Swart en Die Drie Reisigers - Johan Badenhorst, Johan Bakkes en Dana Snyman.

Trekker-taxi's sal besoekers die hele naweek elke 30 minute na ­verskillende punte by die fees vervoer.

Volgens Dahl sal besoekers die geleentheid kry om dorpenaars te ondersteun deur nabygeleë plase vir kaas- en wynproesessies te besoek.

Skoolkinders sal aan die Arts for Youth in Omaruru-kunskompetisie kan deelneem. Die tema van die kompetisie is “People of Namibia”. - Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer