Bytmerke in ontvoeringsaak bevraagteken
Bytmerke in ontvoeringsaak bevraagteken

Bytmerke in ontvoeringsaak bevraagteken

Getuienis is in die streekshof op Swakopmund gelewer dat mnr. Logan Pretorius vir beweerde hondegevegte ondersoek is.
Leandrea Louw
Leandrea Louw - 'n Voormalige ondersoekbeampte van die Walvisbaaise Diere­beskermingsvereniging (DBV), mnr. Peter Brooks (26), het die geldigheid van 'n kind se beweringe bevraag­teken dat hy tydens 'n ontvoerings- en aanrandingsdrama vier jaar gelede op ­Walvisbaai deur 'n veghond gebyt is.

Vroeër vandeesmaand het Brooks na foto's gekyk wat as bewysstukke in die streekshof op Swakopmund ingedien is in 'n saak waarby vier beskuldigdes, mnr. Logan Pretorius (29), sy verloofde, me. Sandra Riobo (22), en mnre. Curven Vries (25) en Ashley Januarie (24) betrokke is.

Brooks het getuig volgens sy ervaring en kundigheid van veghonde se bytmerke lyk die beserings soos skraapmerke en nie soos hondbytmerke nie.

Die staatsaanklaer, me. Faith Chipepera-Nyaungwa, het hom verlede Woensdag oor sy kundigheid uitgevra nadat sy tydens die vorige hofverskyning vir uitstel gevra het om Brooks se kundigheid te hersien en om bewyse van sy ­getuigskrifte te bekom.

Brooks het verduidelik in sy tyd by ­Walvisbaai se DBV was hy vir twee jaar die hoof- ondersoekbeampte en in beheer van die hondehokke.

Dit was ook in hierdie tyd dat die DBV Pretorius weens beweerde ­hondgevegte ondersoek het.

“Ek was in beheer van ondersoeke van dieremishandelingsake wat die oormatige teling van honde en ­hondegevegte insluit. Ek het ook 'n sertifikaat vir 'n diere­beskermingskursus, asook vir diere­beheer- en hantering. Tans het ek vier modules voltooi om 'n diploma in diereverpleegkunde te verwerf, en moet nog 25 voltooi.”

Brooks het gesê hy het “­praktiese ­ervaring van hondebyte” opgedoen terwyl hy in diereskuilings in Suid-­Afrika gewerk het voor hy by die Walvisbaaise DBV aangesluit het.

Tydens kruisondervraging wou Chipepera-Nyaungwa weet hoe Brooks kon sê dit is nie 'n hondebyt aan die kind nie, aangesien hy steeds verder moet studeer om 'n ordentlike onderskeid te kan tref.

“My opinie is op my persoonlike ervaring gebaseer van hoe dit is om deur 'n hond gebyt te word, asook my werk in diereskuilings en by die DBV. Dis nie dié van 'n kenner nie,” het Brooks getuig.

“Basies moet jy kyk na die skaal en die spasiëring van die hond se bytmerke: Jy kyk na die hond se boonste en onder­ste slagtande. 'n Afdruk kan van die hond se tande gemaak word of die hond se bek kan gemeet word. Daarna kan die hondbyt met die slagoffer se wond ­vergelyk word.”

Brooks het gesê iemand met 'n graad in soölogie sal die kind se wonde in diepte kan verduidelik.

Pretorius, Januarie, Vries en Riobo staar klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en ontvoering in die gesig.

Die beskuldigdes het Carlo Mukuve, Levi Goroseb en Edward Goroseb, wat destyds minderjarig was, na bewering fisiek en verbaal aangerand.

'n Hamer, 'n moersleutel van 17 duim, 'n graaf en honde is glo tydens die beweerde aanranding gebruik en die seuns is glo ook gedwing om Tabasco-sous en soutwater te drink, wat hulle glo laat opbring het.

Die drie minderjariges het glo een van Pretorius se honde vrekgemaak en probeer om nóg 'n hond te steel.

Die saak is tot 29 Junie vir transkripsie van die hofgebeure uitgestel.

Die beskuldigdes se borgtog is verleng.

Landdros Gaynor Paulton was op die bank en mnr. Boris Isaacks verteenwoordig die ­beskuldigdes.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!