Calitz wen 'taaiste' Visrivier-uitdaging
Calitz wen 'taaiste' Visrivier-uitdaging

Calitz wen 'taaiste' Visrivier-uitdaging

Avontuursport
Andrew Poolman
Andrew Poolman - In die geheel beoordeel, word die onlangse 2018 Windhoek Light Visrivier ultra-marathon as die beste byeenkoms sedert sy ontstaan sewe jaar gelede bestempel.

'n Sterker groep elite hardlopers as tevore het in Namibië se verre suide kom aanmeld en dus het selfs vorige wenners wat redelik vertroud met die uitdaging is, dié keer tot in swakker posisies teruggesak.

Die onvergelykbare hoofwedren oor 100 kilometer deur die Visrivier-spoelvallei is opnuut deur die Suid-Afrikaanse yster AJ Calitz in agt ure 28 minute 45 sekondes voltooi.

Dit was vinniger as toe hy verlede jaar ook in 8:55:09 gewen het, maar nie 'n bedreiging vir die merkwaardige rekordtyd van 8:04:15 wat hy in 2014 opgestel het nie. Nadat die Stellenboscher in April verlede jaar 'n beroerte oorleef het, is hy na dese 'n viermalige kampioen.

Tweede en derde was nog twee Suid-Afrikaanse landgenote, Bennie Roux en Dale Herring.

Die nuut gekroonde vrouekampioen Carine Gagiano (RSA) het ook haar landgenoot Sandra le Roux agter gelaat – ondanks die feit dat laasgenoemde as 2017-kampioen twee ure vinniger as die vorige jaar klaargemaak het en net vierde kon eindig.

Oor die 65 km afstand is 'n nuwe rekord deur die Suid-Afrikaner Rory Scheffer (5:13:49) opgestel. Die vorige rekordhouer en viermalige kampioen, Athanasius Muronga van Namibië, moes dié keer met die elfde plek tevrede wees.

Twee individue wat met hul prestasies op 'n hoë ouderdom verstom het, was die 75-jarige Xavier Briel wat die 100 km in onder 14 ure voltooi het vir 'n algehele elfde plek; asook Retief Jordaan (70) wat die 65 km in minder as 11 ure afgelê het.

Die matige weersomstandighede was meer gunstig as die hitte wat in vorige jare ondervind is. Geen ernstige beserings is aangemeld nie en niemand het erg verdwaal nie.

Die organiseerders se ooreenkoms met die ministerie van die omgewing en toerisme is dat die getal inskrywings tot 75 beperk word om die volhoubaarheid van die spoelvallei te beskerm. By die wegspring Saterdag­oggend was dus 21 deelnemers in die volle afstand van 100 km, terwyl 53 vir die roete van 65 km aangetree het.

Die laaste voltooiers het in Sondag se vroeë oggendure die eindstreep gehaal – agt minute ná middernag in die 100 km en om 02:08 vir die laaste 65 km deelnemer.

“Ons sien uit daarna om die byeenkoms vanaf 2019 tot nuwe hoogtes te voer,” sê mnr. Nico Gericke, wedrendirekteur en die Namibië Brouerye se toesighouer oor borgskappe.



Van die voorste uitslae:

65 KM MANS

1 Rory Scheffer 5:13:49

2 Dom Wills 5:46:05

3 Chad Gordon 6:04:05

4 Mukuve Greygord Shigweda 6:41:55

5 Kyron Raad 6:42:29

6 Willem van Greunen 7:16:17

7 Jaco van den Berg 7:35:14

8 Alewyn Burger 7:35:39

9 Arjan de Kock 7:45:02

10 Henco Jordaan 8:47:27



65 KM VROUE

1 Marko Alexandro 8:30:43

2 Heidi Burmeister-Nel 8:51:50

3 Marilize Raath 9:32:45

4 Jana Joubert 9:43:28

5 Robyn-Lee Swarts 10:21:41

6 Isabel Roux 10:58:04

7 Cone Bekker 11:02:16

8 Annamie Marx 11:53:28

9 Jo Visagie 11:53:29

10 Anneen Hanekom 12:43:31



100 KM MANS

1 AJ Calitz 8:28:45

2 Bennie Roux 9:51:03

3 Dale Herring 10:25:51

4 Adriaan Wooding 10:38:21

5 Philip Wessels 11:04:18

6 Shaun Bolley 11:15:10

7 Kevin Yates 12:10:09

8 Herman van der Colff 12:39:19

9 Tobias Verwey 12:56:16

10 Christiaan Vorster 12:56:18



100 KM VROUE

1 Carine Gagiano 10:35:59

2 Naomi Brand 10:53:12

3 Julia Jansen van Rensburg 11:57:55

4 Sandra le Roux 12:04:59

5 Liezl Klopper 16:24:17

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer