Calle kasty SOE's
Calle kasty SOE's

Calle kasty SOE's

Volgens die minister van finansies is dit beter om ontwikkelingskapitaal wat in elk geval nie spandeer sal word nie op belangrike bedryfsuitgawes te bestee.
Dani Booysen
Dani Booysen



“Dalk moet ons eerder daarin belê om ons lughawens beter te bestuur as om 'n (nasionale) lugrede­ry te bestuur.”

“Het hulle (die NBC) al aan hul salarisrekening geraak? Dra elke bestuurder wat 'n miljoen dollar verdien 'n miljoen dollar by?

“Hulle moet na die partytjie toe kom. Kyk na die salarisverhogings wat hulle gegee het toe dit al klaar baie moeilik gegaan het. Het hulle bewys hulle kan meer met minder doen?”

Hierdie is van die grofgeskut waarmee die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, op Air Namibia, die NBC en by implikasie ander wanpresterende staatsondernemings losgetrek het.

Hy was aan die woord by 'n ontbytgesprek oor die hersiende begroting aangebied deur PwC Namibia, Standard Bank Namibia, Liberty Life Namibia en Namibia Media Holdings.



AIR NAMIBIA

Volgens Schlettwein bly Air Namibia 'n warm patat, maar 'n oordeelkundige besluit is nodig oor die voorgestelde likwidering van die redery.

Hy het benadruk Air Namibia het in 29 jaar nog nie 'n sent tot die staatskas bygedra nie. Die gat in staatsmondering het inteendeel volgens die minister net aanhou groei. Twee opeenvolgende regrukaksies het beide misluk.

“Ons moet besluit of ons hierdie geld (die huidige bydrae tot Air Namibia) beter kan bestee,” het Schlettwein gesê.

Air Namibia wil N$2 miljard hê, maar skep geen werk nie en help ook nie volgens die minister om ongelykheid met die geld uit te wis nie. “As ons nou die geld vir hulle sou gegee het, sou hulle dalk volgende jaar N$3 miljard wil hê,” het Schlettwein verduidelik.

Air Namibia moet volgens die minister lewensvatbaar en volhoubaar wees en 'n bydrae tot die ekonomie maak.

Die beleid van 'n ope internasionale lugruim het werklikhede verander en volgens Schlettwein is daar daarom ander rederye wat besoekers na die land kan vlieg. Hy het egter benadruk geen oorhaastige besluite sal geneem word nie en daar sal 'n oorgang wees wat vertroue sal behou. Air Namibia se vlerke sal dus nie in vlug geknip word nie.



GELD VIR DIE NBC

Schlettwein het die nasionale uitsaaier as 'n baie belangrike instelling met 'n groot verskeidenheid funksies bestempel.

Een hiervan is om die publiek ingelig te hou.

Volgens die minister is hy tevore korrek deur Republikein aangehaal dat daar geen reddingsboei vir die NBC beskikbaar was nie. Dit was egter volgens hom in 'n konteks buite die begrotingsproses bedoel.

“Die nasionale funksie (om mense in te lig) is een wat 'n mens nie net kan ignoreer nie,” het Schlettwein oor die bewilliging van 'n bykomende N$54 miljoen aan die uitsaaier gesê.

“Ons weet egter nie of die NBC die geld wat hulle ontvang vir die doeleindes gebruik waarvoor ons dit toeken nie,” het hy nietemin gesê. Volgens Schlettwein kan die NBC minder spandeer sonder om sy basiese dienste te beïnvloed en moet “oorvloed” (“oppulence”) keel afgesny word met die ingrypende herstrukturering wat die NBC reeds aangekondig het.



'KAPITAAL VIR KONTANT'

Die minister het die beskrywing van sy hersiende begroting met die woorde “kognitiewe dissonansie” verwerp as kritiek wat darem nie heeltemal regverdig is nie en nie die groter prentjie in ag neem nie.

Hy het die byna N$1 miljard wat uit vanjaar se ontwikkelingsbegroting na die bedryfsbegroting oorgeplaas word as “nie noemenswaardig nie” bestempel. “Dit (die geld) sou nie gespandeer word nie.”

Volgens die minister is daar ver­skeie redes hoekom kapitale projekte, insluitende die bou van klaskamers, polisiestasies en klinieke, vertraag word. Na sy mening is dit beter om geld wat so terug na die staatskas sal vloei vir belangrike maatskaplike doelwitte aan te wend.

“Die hele doel met 'n begrotingshersiening is om bronne her toe te wys,” het Schlettwein gesê. “Ons het nie die buigsaamheid van 'n oplopende rekeningkundige stelsel nie,” het hy verduidelik. Schlettwein stem saam dat ontwikkelingskapitaal die ekonomie beter stimuleer, maar groter bedryfsbesteding plaas darem volgens hom ook meer geld in omloop.

Schlettwein het Namibiërs verseker die land is nie in 'n bankrot doodloopstraat vasgekeer nie. Hy het aan leke verduidelik ons is “minder bankrot” as tevore.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!