Calle klap belastingsweep
Ondanks drastiese besnoeiing op die bedryfsbegroting en bykomende inkomste wat uit nuwe belastings verkry gaan word, sit Namibië steeds met 'n hoë skuldlas.
Jo-Maré Duddy - Belastingverligting wag op Namibiërs wat aan die agterspeen suig, maar diegene wat vet salarisse verdien en steeds luukshede soos drank en sigarette kan bekostig, gaan méér moet opdok.
Die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, het gister 'n boel belastingmaatreëls in sy 2018-'19-begrotingstoespraak aangekondig waarmee hy hoop om staatskas jaarliks met N$500 miljoen méér te vul. Dié hupstoot sal moet vergoed vir geld uit die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sacu) wat weens die hersiening van die formule vir inkomsteverdeling drasties gaan verminder.
Schlettwein het ook bedryfsbesteding kwaai gesny om Namibië se begrotingstekort van 'n geskatte 5,4% van die bruto binnelandse produk (BBP) in 2017-'18 tot 4,5% in 2018-'19 te laat krimp.
Ondanks sy pogings gaan die land se skuldlas vanjaar egter met meer as N$9 miljard of 12,4% tot sowat N$83,7 miljard styg. In verhouding met die BBP – 'n syfer wat internasionale kredietgradeerders fyn dophou – gaan skuld tot 45% klim. Dit oortref die 43% van 2017-'18 én die regering se plafon van 35%.
Bestedingslem
Schlettwein het 'n begroting van bykans N$64,3 miljard in die parlement ingedien, sowat N$9,6 miljard of 13% minder as die hersiende syfer van 2017-'18 wat in gister se begrotingsdokumente vrygestel is.
Bykans 89% van die 2018-'19-begroting is vir bedryfsuitgawes. Die bykans N$57 miljard wat vanjaar vir bedryfsbesteding opsy gesit is, is ongeveer N$10 miljard of 15,5% minder as verlede jaar.
Sowat 45% van totale bedryfsbesteding – ongeveer N$28,9 miljard – is vir die vergoeding van staatsamptenare. Dit is 51% van verwagte inkomste. Vergeleke met 2017-'18 is die regering se salarisrol vanjaar net 1,45% hoër.
Schlettwein sê stappe gaan oor die volgende vyf jaar gedoen word om staatsamptenare se vergoeding van 16% van BBP tot 12% te verminder. Dit gaan onder meer deur die vries van poste geskied, asook deur verhogings wat laer as inflasie is.
Reis- en verblyftoelae is met 38% tot N$221,8 miljoen gesny. In totaal is die regering se begroting vir goedere en dienste bykans N$6,2 miljard, sowat N$7,6 miljard of 55% minder as in 2017-'18.
Net N$11,9 miljoen is vanjaar vir voertuie beskikbaar, sowat N$33 miljoen of 74% minder as verlede jaar.
Ministeries
Uit die 35 begrotingsposte is net vier se bedryfsbegroting vanjaar hoër as dié van 2017-'18. Hulle is: Arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping (N$186,1 miljoen; 5% meer); myne en energie (N$170,5 miljoen; 3,7%); armoedeverligting en maatskaplike welsyn (N$3,4 miljard; 3%) en finansies (N$9,8 miljard; 9%). Die staat se mediese fonds (Psemas), deel van finansies, slurp vanjaar opnuut sowat N$2,5 miljard op.
Begrotingsposte wie se bedryfsbesteding kwaai gesny is, sluit in geslagsgelykheid en kinderwelsyn (N$1,2 miljard; 48% minder); landbou, water en bosbou (N$997,5 miljoen; 46%); vervoer (N$1,2 miljard; 68%); grondhervorming (N$216,2 miljoen; 55%); sport, jeug en nasionale diens (N$262,6 miljoen; 50%); veteranesake (N$602,6 miljoen; 34%), asook hoër onderwys, opleiding en innovering (N$3,2 miljard; 44%).
Onderwys, kuns en kultuur kry die leeueaandeel van die bedryfsbegroting: N$12,8 miljard, sowat een persent minder as in 2017-'18. Bykans N$6,04 miljard is aan gesondheid en maatskaplike dienste toegeken, 13% minder. Veiligheid en sekuriteit se bedryfsbgroting van sowat N$4,8 miljard is 3% kleiner.
Verdediging
Hoewel Schlettwein in sy begrotingstoespraak gesê het verdediging kry vanjaar 4,9% meer as in 2017-'18, toon die verskillende begrotingsstukke dit kry tussen 1,4% en 7% minder.
Volgens die begrotingsdokument is verdediging se totale begroting vir 2018-'19 bykans N$5,96 miljard. Die hersiende syfer vir 2017-'18 wat in die opsomming in gister se “Estimates of Revenue, Income and Expenditure” verskyn, is sowat N$6,404 miljard. By verdediging se begrotingpos elders in dié boek is die bedrag sowat N$6,046 miljard.
Luidens die ontwikkelingsbegroting is bykans N$435,5 miljoen vanjaar aan verdediging toegeken.
Hiervan is N$227 miljoen of 52% geheime besteding.
Oor die volgende drie begrotingsjare gaan die belastingbetaler sowat N$552 miljoen vir geheime besteding moet opdok.
Kommentaar
“Algeheel gesproke is dit 'n nugter, tog innoverende begroting,” was me. Eloise du Plessis van PSG Namibia se eerste indrukke van die begroting gistermiddag.
Ondanks taai ekonomiese tye is konsolidering op koers, hoewel skuldvlakke steeds hoog bly, sê sy.
“Die vermindering in reis- en verblyftoelae is baie bemoedigend, maar die maatreëls om die algehele salarisrekening te verminder, sal bewys moet word.”
Volgens Du Plessis behoort die nuwe belastings nie 'n té groot bekomende administratiewe las mee te bring nie. Dié belasting is 'n poging om die beginsel van solidariteitsbelasting te implementeer, sê sy.
Mnr. Namene Kalili van FNB Namibia meen daar word steeds nie genoeg gekonsolideer nie.
“Ons stel die onvermydelike uit. Ek dink daar is nog baie wat gedoen kan word. Daar is baie geleenthede om op besteding te sny,” sê Kalili.
– Bykomende beriggewing deur
Ndama Nakashole

Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie