Camp Rock rock Namibiu00eb
Camp Rock rock Namibiu00eb

Camp Rock rock Namibië

Lloyd Zandberg
Die afgelope naweek, vermoed ek, is geskiedenis in Namibië gemaak. Nie noodwendig oor al die heerlike, welkome reën nie, maar eerder die kombinasie van dit en die grootste rockfees wat die land al gesien het.

Vir ’n redelike tydjie was ek so geweldig opgewonde oor die bekendstelling van Camp Rock vroeër vanjaar. As iemand wat baie lank in Kaapstad gewoon het, was ek gereeld by feeste en musiekgeleenthede van dié aard. Die nuus dat Namibië nou sy eie soortgelyke fees sou kry, het my vir ’n volle maand aan die lag en spring gehad.

Daar’s iets aan live musiek. Daar’s iets aan reën. Daar’s iets aan Namibië. En Namibiërs. Maar dis die kombinasie van die drie goed wat magic maak.

Ek sukkel om dit vanoggend in woorde te sit. Ek vermoed dis omdat ek oorweldig is.

Vrydagoggend net ná 11:00 is ek en my kollega, vriende (daai enigste twee wat ek het) en familie hier oor na Steinheim waar Camp Rock plaasgevind het.

Ons was nog nie eens by die hek nie, toe begin die hoendervleis soos die lelies in die pan naby Maltahöhe op my arm uitslaan. Die idee dat 1 000 Namibiërs van wyd en syd die moeite doen om eerstens te kamp, en tweedens dít saam met die moontlikheid van die ergste reën wat die land vanjaar ontvang het, het my totaal onkant gevang.

Ek het gedink dit gaan nou weer een van daai tipiese Namibiese shows wees waar 15 mense opdaag, waarvan die helfte die organiseerders is.

O, nee! Tot my verbasing, en ek dink dié van baie ander, het die fees- en kampterrein soos ’n boks Smarties gelyk wat omgeval het. Die Steimheim-landskap was getooi in nylon en seil in bonkige reënboogkleure. Net dit was genoeg om my aan’t huil te kry.

Toe ons nader beweeg aan die eintlike feesterrein kon ek beswaarlik my oë glo. Hier, in die middel van nêrens, bou hul ’n semistad wat lyk of dit deel van die destydse Woodstock-musiekfees was. In daai oomblik het ek tot die besef gekom waarmee ons ook al nou besig is, gaan geskiedenis maak en gaan hoogs waarskynlik binne die volgende vyf jaar een van die grootste, indien nie die hoofseun van feeste, in die land word.

Maar soos dit nou maar is met die lewe, is daar baie onvoorspelbare elemente wat ’n mens nie aldag in ag neem nie. Ja, ons het natuurlik reën verwag. Ja, ons het die nodige voorsorgmatreëls getref, maar niemand kan homself geestelik en fisiek voorberei op ongeveer 90 mm se reën wat soos ’n pyl op die verhoog afkom nie.

In my paar jaar op aarde (ek het vantevore op Mars gebly) het ek nog nooit gesien hoe ’n groep mense wat mekaar nie ken nie, saamstaan en die modder, moontlike kansellasies van vertonings, tonne water, woeste winde en nat beddegoed so goed hanteer nie. Dit het my laat besef, of eerder laat wonder: Wat anders kan ons as ’n land saam regkry?

Weens die ongelooflike impak van die reënbui wat Camp Rock Vrydagaand laat oorstroom het, moes ons op ons voete dink en vinnige besluite neem.

Dit het daarop neergekom dat wat miskien as ’n ramp beskou kan word, in een van die intiemste konserte ontaard het wat ooit Namibië getref het.

Stel jou die volgende voor: van Suid-Afrika se bekendste en gewildste kunstenaars tree in ’n tent voor hordes mense akoesties op.

Hoendervleis dat dit pyn.

Teen Saterdagoggend het Camp Rock ’n tweede asem gekry en weer eens bewys wat in Namibiërs se broeke sit.

Toe ergste wind, modder en water bedaar, het die fees aangegaan asof niks gebeur het nie. En dis wat vir my so fraai van die geleentheid was. Nie noodwendig die musiek, die kos, die kampterrein of selfs die storte nie.

Die feit dat Namibiërs saamgestaan het en bewys het hoekom ons lekker mense is.

As jy gewonder het of jy iets misgeloop het, is die antwoord ongelukkig ja. Maar moenie worrie nie, volgende jaar rock ons weer. En dan bou ons tente wat van Mars af gesien kan word. Al kyk net ek van daar bo af.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer