Capitec hou winsgroei vol
Capitec hou winsgroei vol

Capitec hou winsgroei vol

Die swak ekonomie die afgelope halfjaar en druk op verbruikers het Capitec nie die afgelope halfjaar laat struikel nie.
Hanlie Stadler - Capitec bank sê in ’n handelsverklaring op Sens sy wesensverdienste per aandeel vir die eerste helfte van sy boekjaar gaan tussen 15% en 18% hoër wees as in dieselfde halfjaar van 2016.

Die bank se verdienste per aandeel gaan ook met tussen 15% en 18% styg.

Dit beteken die bank kon, ondanks die resessie wat tot einde Maart geduur het, daarin slaag om sy groei in wesensverdienste vol te hou. Vir die hele boekjaar, tot einde Februarie, het dit ook met 18% gestyg.

Capitec reik sy syfers vir die ses maande tot einde Augustus op 27 September uit.

Dié soort groeisyfers het Capitec se aandeelhouers die afgelope 12 maande met groei van byna 48% beloon, danksy die gekombineerde styging in die aandeelprys en dividend.

Daarteenoor het Nedbank se wesensverdienste in die eerste helfte van sy boekjaar met 2,9% gedaal en Barclays Africa s’n met net 7% gestyg. Standard Bank het wel groei van 12% getoon. Dié banke se halfjare eindig almal in Junie.

Die bank, waarvan PSG die meerderheidsaandeelhouer is met ’n belang van byna 31%, is sedert Februarie vanjaar die derde grootste bank in die land. Gemiddeld 120 000 mense open elke maand rekeninge by dié bank.

Capitec se mededingende voordeel is egter aan die kwyn weens strawwe mededinging onder banke, het Solidariteit onlangs in sy jaarlikse Bankkosteverslag bevind.

Gerhard van Onselen, ekonomiese navorser van die Solidariteit-navorsingsinstituut, sê as daar bloot na bankkoste gekyk word in die mark vir basiese rekeninge, word Capitec se Global One-rekening vanjaar geklop deur Absa se Transact-rekening, FNB se Easy Account en Nedbank se Pay-As-You-Use.

“As die rente wat Capitec betaal in ag geneem word, is Capitec egter steeds, maar net-net, die goedkoopste rekening.” - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!