Caprivi bied meer vir joernalis as toeris
Caprivi bied meer vir joernalis as toeris

Caprivi bied meer vir joernalis as toeris

Ronelle Rademeyer
Min wis ek toe ons die vakansie die pad vat vir 'n week sans sorge op die oewers van die Okavangorivier hoe die onrus in my joernalis-siel my sou opkeil oor stories daar wat sméék om geskryf te word.

Eenmaal 'n nuushond, altyd 'n nuushond.

Kort voor Rundu waag ek dit om 'n spreekwoordelike toon in die water te steek. “Daai plek naby Ncaute waar ReconAfrica sy boormasjien opgestel het omdat hy glo hier's miljoene vate olie onder die Okavango Delta, is nie ver van die hoofpad af nie. . . Dalk moet ons gaan kyk. . .”

'n Vuil kyk is al antwoord wat ek kry.

Die afdraai kom en gaan.

Kort anderkant Rundu doem Mashare se bordjie op. “Jinne, ek sal darem graag wil gaan kyk hoe verbou hulle die bloubessies hier. Jy weet mos, daai groot, sappige bloubessies wat jy so geniet. . .”

Vuil kyk nommer 2.

Ek sien ek is op dun is en speel vir manlief Freddy Mercury. Dit begin saggies reën. Weerskante van die pad is 'n muur van digte bome.

Dalk is die druppels teen die ruit die natuur se trane oor die duisende bome wat deur Chinese kettingsae vir die uitvoermark gefel is.

My bloed kook as ek aan die lugfoto's dink wat wys hoeveel woudreuse al hier in die Caprivistrook afgekap is. En aan ReconAfrica wat spog oor die “oliespel van die dekade” wat vir hom in dié magiese wêreld met sy laslapwerk van vleilande, kanale en eilande wag. Oënskynlik min gepla met die feit dat dit op die verwoesting van een van die sewe natuurlike wonders van Afrika afstuur.

By Divundu draai ons regs in die rigting van Bagani.

Ek onthou opeens die oproep die nag van 29 November 2013 oor die vliegtuig vol passasiers wat in die Bwabwata Nasionale Park neergestort het. Vroeg die volgende oggend het ons 'n private vliegtuig gereël en Ian Nortjé en Dirk Heinrich het Bagani toe gevlieg om die grutoneel van dié Mosambiekse vliegramp te besoek.

Die vlieënier, Hermino dos Santos Fernandes, het vlug LAM470 doelbewus met 27 passasiers en 5 ander bemanningslede aan boord laat neerstort.

Ek wens ek kon gaan kyk of daar 7 jaar later nog stukkies metaal of glas tussen die gras en struike lê.

Die volgende dag besoek ons 32-Battaljon, of Os Terríveis (die Verskriklikes), se Buffalo-basis op die oostelike oewer van die Okavangorivier.

Vandaar af ry ons, gewapen met verkykers en kameras, verder oos met die Golden Highway.

Tussen Omega en Chetto is ek opeens weer pure joernalis. Ek onthou skielik is dit is dag en datum 21 jaar gelede wat Unita-milisie op die kampeerwa van die Franse Bidoin-gesin losgebrand het.

Claude (42) en Brigitte (41), wat in daardie stadium skoolgehou het op die Franse eiland Mayotte naby Afrika se suidoostelike kus, was op 3 Januarie 2000 met hulle drie kinders op pad om in Namibië te kom vakansie hou toe hulle aangeval is.

Michael (18), Aurelie (15) en Cecile (10) is in die aanval doodgeskiet en Claude is in sy bors en bene geskiet. Een van die aanvalskote het Brigitte in die skouer getref.

Ek voel skielik naar. Waar in die wêreld sou Claude en Brigitte hulle bevind? Hoe gaan hulle die nuwe jaar tegemoet met die gedagte dat Michael vanjaar al 39 jaar oud sou wees en Aurelie en Cecile vroue van 36 en 31 onderskeidelik?

Was dinge anders, sou hulle dalk die Kerstyd saam met hul kinders en kleinkinders deurgebring het. En as dit nie vir daardie noodlotsdag was nie, dalk teruggedink het aan 'n wonderlike vakansie destyds in Namibië.

Om joernalis te wees is 'n wonderlike voorreg. Maar soms is dit ook 'n vloek.

Want selfs op vakansie dra jy swaer aan pynlike herinneringe soos dié.

Kommentaar

Republikein 2025-04-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer