Caprivi-veroordeelde vry
Caprivi-veroordeelde vry

Caprivi-veroordeelde vry

Een van die mans wat ná afloop van die hoofverhoor in die Caprivi-hoogverraadsaak tronk toe gestuur is, se vonnis is in die hooggeregshof kwytgeskeld.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw



Ná meer as 14 jaar in die gevangenis­ is mnr. Osbert Mwenyi Likanyi 'n vry man.

Dit nadat die hooggeregshof Maandag sy skuldigbevinding en vonnis ter syde gestel het en beveel het die vervolging teen hom in verband met klagte wat uit die Caprivi-­hoogverraadverhoor spruit, moet permanent opgeskort word.

Likanyi is in 2004 weens 'n verkeerde­ hooggeregshofbeslissing 15 jaar gevangenisstraf opgelê. Die hooggeregshof het nou in 'n uitspraak die beslissing hersien en reggestel.

Likanyi was deel van 'n groep vlugte­linge wat deur Namibiese owerhede­ uit Botswana verwyder is om in Namibië op klagte van onder meer hoogverraad verhoor te word. Die klagte spruit uit 'n mislukte poging om die Namibiese rege­ring in die voormalige Caprivi­streek omver te werp en die streek in die laat 1990's van Namibië te laat afstig.

Adjunkhoofregter Petrus Damaseb het in die uitspraak aangedui hoewel die hooggeregshof in Julie 2004 die wet korrek uitgelê het ten opsigte van Namibiese howe se jurisdiksie, het die hof dit nie korrek toegepas in die geval van Likanyi wat deur Botswana­ se ower­hede in Desember 2002 aan die Nami­biese polisie oorhandig is nie.

Die hooggeregshof het in die verhoor van mnr. Boster Mubuyaeta in die saak van die staat teen Munuma en ander op soortgelyke feite as in die geval van Likanyi beveel dat hy vrygelaat en sy vervolging gestaak word.

Likanyi het as gevolg van die uitspraak in Mubuyaeta se saak die hooggeregshof genader om die 2004-bevel omver te werp.

Adjunkhoofregter Damaseb het in die uitspraak aangedui indien die wet korrek toegepas is, behoort die hof te bevind internasionale reg is geskend toe Likanyi aan die Namibiese polisie binne die grense van Botswana oorhandig is. As gevolg van die onwettige optrede het Namibiese howe nie jurisdiksie gehad om Likanyi te verhoor nie. “Dit sou net in uitsonderlike gevalle wees dat die hooggeregshof teruggaan na een van sy eie vorige uitsprake om 'm verkeerde beslissing reg te stel, maar Likanyi se saak is een van hulle,” het Damaseb gesê.

Hoofregter Peter Shivute, appèlregter Dave Smuts en waarnemende­ appèl­regter Yvonne Mokgoro het met die adjunkhoofregter se besluit saamgestem.

Waarnemende appèlregter Theo Frank het verskil en gesê hy was, in die lig van die beginsel van gelykheid voor die wet, traag om saam te stem met die bevel wat aan die einde van die hof se meerderheidsuitspraak gemaak is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!