Caster draf perskonferensie ook kaf
Caster draf perskonferensie ook kaf

Caster draf perskonferensie ook kaf

Olimpiese Spele
Andrew Poolman
Marizanne Kok

Nes Caster Semenya Saterdagaand die tartan van Rio de Janeiro se Olimpiese stadion met ’n plan betree het, het sy 90 minute later ook die perskonferensiesaal binnegestap met ’n duidelike idee van wat sy gaan doen.
In albei gevalle was haar motto eenvoudig: Neem beheer. En in albei gevalle is dit presies wat sy gedoen het – op die baan deur al haar teenstanders in die eindronde van die 800 m vir vroue met ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekord van 1:55.28 af te stof vir Olimpiese goud, en in die perskamer deur die eerste omstrede vraag vir ’n ses te slaan.
Weke lank het Saskok ’n kokon om Semenya getrek waardeur die media nie kon kom nie. Maar almal het geweet ’n Olimpiese medalje sou die skans om haar breek, want op elke medaljewenner wag ’n verpligte perskonferensie waar die jagseisoen basies oop is.
Min het egter besef hoe gereed Semenya daarvoor was.
Soos verwag is Semenya en haar mede-medaljewenners gou gevra oor hormoonbehandelings en IAAF-regulasies. Maar eerder as wegskram, het Semenya haar skouers opgeruk, haar ken gelig en geantwoord: “My vriend, vanaand gaan oor hoe goed ons in die 800 m was. Dit gaan nie oor die IAAF of oor bespiegeling nie, dit gaan oor die werk wat ons gedoen het.
“Wanneer ek by my woonstel uitstap om mee te ding, dink ek aan my eie vertoning.
Dit gaan nie oor hoe my teenstanders lyk of klink of wie hulle lief het of hoe gespierd hulle is nie, dit gaan oor hoe hard ek teen hulle moet werk. En vanaand is ons hier om daaroor te praat. Baie dankie.”
Semenya, silwermedaljewenner Francine Niyonsaba en bronsmedaljewenner Margaret Wambui was al drie al onder die loep oor hul geslag en testosteroonvlakke.
Veral Semenya het natuurlik al kwaai deurgeloop sedert sy in 2009 as 18-jarige die wêreldkampioen geword het en op dieselfde dag onthul is dat sy aan geslagstoetse onderwerp is.
Sewe jaar later het Semenya skynbaar aanvaar dat altyd oor haar geskinder sal word. Op ’n vraag of sy nou ’n gelukkiger mens is as in 2012 toe sy in Londen Olimpiese silwer gewen het, het sy laggend geantwoord: “Ja, maar dis mos wat gebeur as jy trou.”
Die 25-jarige Semenya het verlede jaar in die huwelik getree met haar lewensmaat, Violet Raseboya.
Semenya se snydende reaksie op die eerste vraag wat Saskok so gevrees het, het enige verdere sulke navrae in die kiem gesmoor, en sy was vir die res van die perskonferensie vry om te praat oor haar wedloop, haar emosies en haar kans om eendag die 33-jaaroue wêreldrekord te breek.
“Ons is regtig nie gefokus op die wêreldrekord nie,” het Semenya gesê. “Alles gaan net daaroor om die beste te wees wat ek moontlik kan wees. Ek tree elke keer aan teen fantastiese atlete en die meeste wat ek kan doen is probeer om sake te beheer, die regte tempo te handhaaf en die meeste te maak van my sterkpunte.” - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!