Caster in hof oor ‘taai klap deur sy gesig’

Atletiek
Caster Semenya, Suid-Afrika se Olimpiese ystervrou, het weens aanranding op ’n 20-jarige man in die hof verskyn.

Daar word vandag berig dat Semenya verlede week vir die eerste keer in die gemeenskapshof in Hatfield, Pretoria, verskyn het.

Die staat beweer die 800 m-wêreldkampioen het Thebe Lebese (20) ’n taai klap deur sy gesig gegee.

Volgens die polisie het Semenya en haar vrou, Violet Raseboya, op 25 Julie die Atterbury Value Mart-winkelsentrum besoek.

Lebese was op pad om bloed te skenk by dieselfde sentrum toe hy die atletiekster en haar vrou by die PostNet-winkel gewaar. “Hy het (by PostNet) ingegaan en het foto’s en video’s begin neem. Caster se vrou het hom aangetree en gesê hy moet onmiddellik ophou,” sê ’n polisiewoordvoerder.

“(Lebese) beweer hy het dadelik opgehou. Hy en Caster se vrou het woorde gewissel en terwyl hy die dame probeer kalmeer het, het Caster oorgestap en hom deur die gesig geklap.

“ ’n Personeellid van PostNet het (Lebese) gevra om die winkel te verlaat en Caster en haar vrou het weggery.”

Lebese wou nie Sunday Sun se vrae oor die insident beantwoord nie – glo omdat hy nog nie sy ouers van die voorval vertel het nie. Sy pa, Ben, wou nie kommentaar lewer nie. “Die saak is nou in die hof.”

Brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder, sê ’n klag van aanranding is by die Garsfontein-polisiekantoor aanhangig gemaak. “Die verdagte het op 2 Desember in die hof verskyn.”

Semenya en Raseboya het nie op versoeke om kommentaar te lewer gereageer nie. – Netwerk2

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!