'Caster-reël' word tot Maart uitgestel
Atletiek
Marizanne Kok - Die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) het remme aangeslaan met die implementering van hul sogenaamde Caster-reël, maar beplan steeds om dit in Maart 2019 in werking te stel.
Die omstrede reël, waarvolgens internasionale vroueatlete in die 400 m, 800 m, 1 500 m, 400 m-hekkies en die myl se testosteroonvlakke vir minstens ses maande onder 5 nmol/L moet wees, sou op 1 November in werking getree het. Semenya en Atletiek Suid-Afrika (ASA) se klag by die CAS (die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie) oor die geldigheid van dié reël het die IAAF egter laat herbesin. Die atletiekliggaam sê nou hy sal wag totdat daardie proses verby is.
“Die IAAF het steeds vertroue in die wetlike, wetenskaplike en etiese grondslag van die reël en verwag dus dat dit (Semenya-hulle se klag) van die tafel gevee sal word,” skryf die atletiekliggaam in 'n verklaring.
“Nietemin verstaan die IAAF ook dat alle geraakte atlete so gou as moontlik duidelikheid oor die saak wil hê. Daarom is die IAAF bereid om die nuwe reël nie teen enige atleet te gebruik totdat dit deur die CAS goedgekeur is nie. Uitspraak deur die CAS word voor of op 26 Maart verwag.”
Semenya en ASA het volgens die verklaring ingestem om die CAS-proses nie onnodig uit te rek nie omdat dit, aldus die IAAF-president Sebastian Coe “onregverdig is om die atlete wat geraak kan word se onsekerheid oor hul situasie te verleng”.
Stéphane Bermon, direkteur van die IAAF se gesondheids-en-wetenskapdepartement, het in 'n brief aan die atletiekorganisasie se lede geskryf hulle “besef die uitstelling van vyf maande kan daartoe lei dat geraakte atlete die grootste deel van die buitenshuise seisoen in die aanloop tot die Wêreldkampioenskap moet misloop”.
“Daar is spesifiek op die oorspronklike November-begindatum besluit om dit te vermy,” skryf Bermon.
Sy departement, voeg hy by, “staan gereed om atlete wat hul ses maande van onderdrukking nou wil begin”, by te staan.
Die verwagting is dat Semenya en ASA se klag voor die CAS in Februarie aangehoor sal word, met 'n uitspraak daaroor laat in Maart.
Ondanks die IAAF se vertroue in sy prosedure was daar die afgelope maande verskeie partye wat die nuwe reël gekritiseer het. Hieronder tel die legendariese tennisspeler Billie Jean King, drie menseregtespesialiste van die Verenigde Nasies (VN) en die Kaapse sportwetenskaplike Ross Tucker.
Steve Cornelius, 'n Tuks-professor wat as een van die wêreld se voorste sportregskenners beskou word, het so ver gegaan om van die IAAF se Integriteitskomitee te bedank kort nadat die beplande reël aangekondig is.
Die regulasie is die “Caster-reël” gedoop omdat Semenya die atleet met die hoogste profiel is onder dié wat daardeur geraak sal word. Sy het vanjaar nasionale rekords in die 400 m, 800 m én 1 500 m gebreek en is die heersende Olimpiese en wêreldkampioen in die 800 m. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie