Celine Dion en haar watersimfonie
Die oomblik toe ek my voete op Narita-lughawe in Tokio neersit, het ek my melk suur geskrik. En onmiddellik geweet: As my skip eendag sou inkom, gaan ek hom dáár iewers in ’n hawe raakloop.
Narita-lughawe se dinge is byvoorbeeld seepglad gereël. Dis werklik iets wat ek sukkel om in woorde uit te druk. Ná die vliegtuig land, loop hordes, selfs duisende, besoekers aan Japan in lang, ordelike rye na die doeane-afdelings.
Hier is daar beswaarlik ‘n doeanebeampte of iemand met ‘n geweer in die omtrek. Hulle praat mooi Engels en lag asof hulle pas gehoor het van ’n 13de tjek. Dis tjoeftjaf, en jy is uit.
Dan kry jy jou koffer wat netjies op die band uitkom. Jy kan sien elke ou se bagasie word met respek en gewilligheid hanteer. Dis nie soos hier by ons waar die tasse soos gebreekte bakstene op ‘n bouperseel rondlê nie.
Uiteindelik is jou lughaweritueel afgehandel en jy begin soek na ’n trein, perdekar, taxi of bus wat jou na jou hotel, Airbnb of gastehuis kan neem.
Dit werk so vinnig en goed jy wonder vir ’n oomblik of die k*k nie iewers gaan spat nie, of jy gaan agterkom jou rugsak oopgemaak en jou hele vakansiegeld is daarmee heen.
So kry ons ’n bus na ’n treinstasie wat ons hotel toe neem.
By die hotel word jy weer met daai 13de tjek-glimlag begroet en iemand stop ’n waslappie, wat soos babapoeier of melktert ruik, in jou hand, gryp jou bagasie en bied jou tee, water of enigiets wat jy wil hê aan. Ek is seker as jy vra iemand moet jou voete was, sal dit gereël kan word.
Binne minute het ek my hotelkamerkaart in die hand en my bagasie begroet my in die kamer. Ek doen gewoonlik ’n bietjie van ’n inspeksie voor ek in enige bed of bad klim.
EK weet nie watter booshede al vantevore daar aangevang is nie.
Alles is netjies en skoon en perfek in die kamer. Ek beweeg oor na die badkamer, wat presies 50 cm agter my is.
Die Japannese het van die beste tegnologie in die wêreld, die heerlikste kos en relatief aantreklike inwoners, maar ruimte het hulle nie.
Jy voel dit in die hotelle veral. Met die instrapslag, en sonder enige waarskuwing, maak die toiletsitplek vanself oop. En iets wat klink soos Celine Dion se Titanic-nommertjie begin speel.
Ek sê: “Wie’s jy en wat soek jy?”
Geen antwoord. Ek dink nou maar toe, dan beweeg ons aan.
Ek trap een tree nader, trek af en gaan sit. Nes ek sit, voel ek die sitplek is so warm soos ’n snackwich wat pas uit die snackwich-masjien gehaal is. Magtig. Nee. Dis vreemd. Maar hoe wil ek maak?
Terwyl jy sit, is jy so op jou senuwees, want jy weet nie wat anders die wit troon nog in die mou voer nie.
Jy weet iewers gaan ’n pofslang of ’n soort verrassing kop uitsteek. Om ’n lang storie baie kort te maak, maak ek my besigheid klaar. Leun na regs om die papier te gryp. Niks. Daar’s nie toiletpapier nie. Kyk of iemand iewers ’n tilslippie of ou koerant agter gelaat het. Ha-ah. Niks. Toe begin Celine Dion se liggies flikker, en ek weet hier kom dit nou, ek is in die donker.
Ek is nie van die slimste mense onder die son nie, en ek is oukei daarmee, maar ‘n toilet wat moeiliker as ‘n matriekvraestel is om te gebruik, kan enige genie se breinkrag leegtap. Langs Celine se mond is ‘n groot paneel met ’n klomp knoppies. Só baie, dit lyk soos ‘n TV-remote of ’n cockpit. En jy sien, jy kan ‘n Namibiër uit die land neem, maar jy neem nie die land uit die Namibiër nie.
Ek druk al wat ‘n knop is. En toe begin die sports. Die water spuit woes. Die voel soos Sun City se Valley of the Waves onder my. Ek spring op en af soos een wat in ’n doring getrap het. Die waterfees bereik sy klimaks en ek weet nie meer wat om met myself te doen nie. En hoe meer ek druk aan die knoppe, hoe harder spuit en sing tannie Celine.
Na ‘n wyle en genoeg water om die Von Bachdam weer ’n hupstoot te gee, skakel Celine ’n waaier aan wat met ’n weerwaak moet kom. Dit voel byna of ek liggies in die lug opstyg. Ek sê vir myself, nee, ek kan nie meer nie. Ek hoop die skouspel is nou klaar.
Ek kort ’n pouse. Maar tot my verbasing was dit nie klaar nie.
Uit die bloute blaas Celine ’n hoop poeier die lug in. Ek skrik so, my ore slaan bottoe.
En as jy wil weet hoe ek gelyk het, dink net aan ’n springbok wat iewers teen ’n grensdraad staan en pronk en vir sy skip wag om in te kom.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie