Cell C swaai verlies om in wins

Suid-Afrika se derde grootste selfoonnetwerk, Cell C, het sy eerste voljaarwins aangeteken.
Estelle de Bruyn
Cell C se wins van R540 miljoen volg op 'n verlies van R5,5 miljard in die vorige boekjaar vir die ongenoteerde Cell C.

Die selfoongroep, wat in 2001 begin sake doen het, het sy aantal intekenare as 15,3 miljoen aangeteken. Dit is heelwat minder as die 20 miljoen gebruikers waarop Cell C voorheen aanspraak gemaak het.

Inkomste het met 11% tot R14,6 miljard gestyg, terwyl ebitda (verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasie) met 59% tot R3,1 miljard verbeter het.

Die vrystelling van Cell C se resultate is deel van die maatskappy se poging om sy sake tot groter mate vir die publiek oop te stel. Die JSE-genoteerde Blue Label Telekom is ook in die proses om 45% van Cell C te koop.

Jose Dos Santos, uitvoerende hoof van Cell C, skryf die wins-ommeswaai toe aan die sterker rand.

“Dit het meestal met buitelandse valuta te doen. 'n Deel van die probleme vir ons organisasie is dat ons buitelandse skuld gehad het,” sê Dos Santos, met verwysing na die maat­skappy se skuldlas van meer as R20 miljard.

“Soos wat die randwisselkoers verbeter het, het ons finansiële situasie verbeter. Alhoewel die grootste gedeelte van die ommeswaai met die stewiger rand verband hou, is daar 'n duidelike aanduiding van die winsgewendheid en groeipad van die maatskappy.”



Herkapitalisering

Die beplande herkapitalisering van Cell C sal die maatskappy verder help, sê Dos Santos.

Blue Label het verlede maand gesê die ooreenkoms om 45% van Cell C se aandelekapitaal te verkry, sal na verwagting die selfoongroep se lenings op 'n maksimum van omtrent R6 miljard te staan bring.

Die omstrede verskaffer van maat­skaplike toelaes, Net1, wil na verwagting ook R2 miljard of 15% van Cell C se aandelekapitaal verkry.

“Ná hierdie herkapitalisering sal daar nie meer blootstelling aan buitelandse skuld wees nie en die rentekoers waarteen ons skuld terugbetaal sal ook afkom,” het Dos Santos gesê.

Die herkapitaliseringstransaksies volg op Cell C se kredietafgradering tot 'n D-vlak deur Standard & Poor's (S&P). Dit is die laagste vlak vir 'n korporatiewe maatskappy.

Benewens die hupstoot wat hy van die sterker rand kry, trek

Cell C volgens Dos Santos ook voordeel uit stewige groei van 35% op 'n jaargrondslag van sy inkomste uit dataverbruik. Die maatskappy het ook groei van 67% in sy dataverbruik aangeteken vir dieselfde tydperk en sê data-inkomste verteenwoordig nou 37% van sy totale inkomste, vergeleke met 30% 'n jaar gelede.

Aan die groothandelkant van Cell C se sake, wat verkope van sy mobiele virtuele selfoonnetwerk (MVNO) insluit, het die inkomste met 147% tot R370 miljoen gestyg. 

- Netwerk24/Fin24

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!