Chadmanwalking loop weer ver
Chadmanwalking loop weer ver

Chadmanwalking loop weer ver

Die bekende eienaar van Cardboardbox Backpacker rek dié keer sy treë vir langnekke.
Francoise Steynberg
Chadmanwalking, ook bekend as mnr. Chad Wratten, die charismatiese eienaar van Cardboardbox Backpacker in Windhoek, gaan sy vierde groot Namibiese staptog in Mei aanpak - dié keer ten bate van kameelperdbewaring in Afrika.

Alle geld wat tydens Wratten se avontuur ingesamel word, sal geskenk word aan die Kameelperdbewaringstigting (GCF), 'n Namibiese nie-regeringsorganisasie wat verbind is tot 'n volhoubare toekoms vir alle kameel­perdbevolkings in Afrika.

Wratten het in 2010 deur Namibië begin loop - aanvanklik om vrede ná moeilike tye in sy lewe te vind.

Hy het sedertdien 2 000 km deur die Namibwoestyn geloop - van die Oranjerivier af tot in Twyfelfontein in Damaraland, in die Kunenestreek.

Nou stap hy bloot omdat hy lief is daarvoor en omdat hy die natuur bewonder. Wratten begin gewoonlik soggens vroeg voor sonsopkoms stap om die hitte van die dag te vermy.

“Om tyd in die pragtige Namibiese landskappe te bestee, is 'n absolute voorreg,” sê hy.

“Wanneer jy stap, sien jy soveel meer van jou omgewing. Jou liggaam, hart en siel begin gesond word. Jy lewe eenvoudig en volgens die son, en jy het min behoefte aan oordaad.”

In die verlede het Wratten altyd saam met sy twee honde gestap, maar net sy hond Kuiseb sal hom dié keer vergesel.

Sy ander hond, Hagler, het onlangs sy laaste asem uitgeblaas.



KUNSTENAAR GAAN SAAM

Wratten se goeie vriend, die bekende kunstenaar van Salt Rock in Suid-Afrika, Stephen (Steve) van der Schyff, sal hom ook vergesel.

Van der Schyff beplan om hul avontuur te dokumenteer deur skilderye van hul reis te maak.

Al sy werk sal ná die staptog in Windhoek en op Swakopmund uitgestal word. Wratten, Van der Schyff en Kuiseb sal 300 km ver stap, van noord van die Hoanibrivier af tot by die Kunenerivier, deur die barre landskap van die Kaokoveld.

Hulle beplan om op 8 Mei hul staptog by die Hoanibrivier te begin en om hierdie afstand in 20 dae te voltooi.

As jy in dié gebied is, stop gerus om 'n geselsie aan te knoop.

Kameelperde is sedert Desember as “kwesbaar” op die Wêreldbewaringsunie (IUCN) se Rooilys vir Bedreigde Spesies geklassifiseer.

Kameelperde floreer in Namibië en Wratten hoop om baie van hulle op sy reis te sien.

Volgens die GCF is kameelperdbevolkings in Afrika besig om drasties af te neem. Daar is minder as 100 000 in die natuur oor. “Oor die afgelope drie dekades was daar 'n afname van sowat 40% in kameelperdgetalle.”

Wratten hoop dat hy ondersteuning en skenkings ten bate van die langnekke sal kry.

Vir meer inligting oor die GCF se werk, besoek https://giraffeconservation.org of volg vir Wratten en Van der Schyff op hul blog by www.chadmanwalking.com.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!