Challenge Air moeg vir verskonings
Challenge Air moeg vir verskonings

Challenge Air moeg vir verskonings

Die nasionale lugredery, Air Namibia, is gewaarsku daar gaan in die komende dae op sy bates beslag gelê word.
Ogone Thlage
Ogone Tlhage



Die gelikwideerde Belgiese lugvaartmaatskappy Challenge Air SA raak toenemend ongeduldig oor Air Namibia se versuim om 'n eis van N$400 miljoen vir die huur van 'n Boeing 767 deur die nasionale lugredery te betaal.

Die hoërhofregter Thomas Masuku het in Julie beslis mnr. Anicet Baum, wat in België gebaseer is en Challenge Air se enigste kurator is, kan die maatskappy in 'n Namibiese hof in die voortgesette dispuut met Air Namibia en sy voormalige sustermaatskappy TransNamib verteenwoordig.

Die maatskappy dring daarop aan dat Air Namibia ou skuld delg wat in 1998 met die huur van die vliegtuig aangegaan is.

Hoewel Air Namibia die vliegtuig in ontvangs geneem het, het hy die huurooreenkoms gekanselleer wat dieselfde jaar tot Challenge Air se ondergang gelei het.

Dit is nie die eerste keer dat 'n beslagleggingsbevel op Air Namibia se bates uitgereik word as gevolg van 'n eis wat Challenge­ Air teen die lugredery ingedien het nie.

Laat verlede jaar en ook in die loop van 2019 kon Challenge Air daarin slaag om op inkomste beslag te lê wat Air Namibia se Frankfurt-Windhoek-roete gelewer het.

Weens dié beslaglegging is die lugredery se werksaamhede in Junie en Julie ontwrig.

Challenge Air kon daarin slaag om op N$10 miljoen uit Air Namibia se bankrekenings beslag te lê.

In Junie is op drie Airbus A319-vliegtuie in onderskeidelik Ciprus en Suid-Afrika beslag gelê weens die wanbetaling vir instandhouding wat op die vliegtuie gedoen is.

Mnr. Sisa Namandje, wat Challenge Air in Namibië verteenwoordig, het op sy beurt gesê die maatskappy raak toenemend ongeduldig en het gedreig om in die komende dae op die nasionale lugredery se bates beslag te lê.

“Ons het genoeg gehad van 'n skuldenaar (Air Namibia) wat optree asof sy skuld kosbaar is.

“Tensy daar 'n skikkingsooreenkoms in die komende dae is, gaan ons op nog meer van hul bates beslag lê,” het hy gesê.

Air Namibia se woordvoerder, mnr. Paul Nakawa, het by navraag gesê die lugredery is in gesprek met die regering.

“Air Namibia se bestuur en raad is in konsultasie met sy aandeelhouer. 'n Verdere aankondiging sal gemaak word, sou besprekings oor 'n skikkingsooreenkoms hierop volg,” het Nakawa gesê.

Air Namibia het sy huurooreenkoms met Challenge Air in Julie 1998 beëindig nadat bevind is die betrokke vliegtuie is foutief. Die twee maatskappye het op ver­pligte arbitrasie ooreengekom en 'n verhoor het in 2006 in Londen, Engeland, plaasgevind. In Augustus 2008 het die arbiter teen Air Namibia en TransNamib beslis.

Air Namibia se pogings om betaling aan Challenge Air te ontduik, is in 2011 'n verdere nekslag toegedien toe 'n Franse arbitrasiehof ook ten gunste van Challenge­ Air beslis het. Dit is opgevolg deur 'n soorgelyke uitspraak van München se streekappèlhof.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer