Chameleons oor trouklokke en babas

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Die trouklokke lui Novembermaand vir Namibië se eie Daniella Deysel en haar verloofde, Chris Chameleon, wat kort voor hul troue nog eers ’n draai in Namibië met hul multimedia musiekprojek, Kat en Wolf, sal kom maak.

Hulle sê die troue op Chris se plaas naby Verkykerskop in die Oos-Vrystaat gaan klein, intiem en gesellig wees.

“Die helfte van ons gaste kom uit die buiteland en dit word ‘n heerlike fees in die veld tussen die berge.

“Ons moes maar tydskrifte met hul fotograwe weggewys het, want ons het besluit om dit net vir onsself en die geliefdes wat daar gaan wees as getuies voor God vas te vang.”

Die twee sê Daniella se ouers was geskok toe hulle aankondig dat hulle eindelik die knoop gaan deurhak, omdat beide lank jare lank reeds volhou trou is nie perdekoop nie en is nog minder op hul agenda.

“Sommige vriende en die familie dink ons trou as gevolg van ‘n broodjie in die oond. Ek dink daar is ‘n paar mense wat kalenders dophou!” meen Chris. Daniella lag.

Dit bring ons by die punt waar ek versigtig ‘n effens ongemaklike vraag moet stel: Ís daar babaplanne?

“Jy mag gerus vra, vra is vry! En omdat ék nou gevra het, hét ons mos ‘n vrylisensie. Ons is albei baie lief vir kinders en is broeis,” sê Chameleon.

TROU OP DIE HART

Hoekom is julle lief vir mekaar?

“Ek is lief vir Daniella omdat sy vir my kook en haar plek ken,” sê Chris. Daniella laat nie op haar wag nie. “Ek is lief vir Chris omdat hy die gras sny en sy plek ken.”

Daniella sê egter sy het geweet Chris is haar sielsgenoot met die “eerste oogopslag daai een lenteaand in Stellenbosch” en Chris stem saam.

“Jip, van dag een af. Maar trou is nou reeds ‘n jaar lank op my hartsagenda.”

Daniella vertel hoe Chris haar die jawoord gevra het.

“Ons het verloof geraak op my verjaardag, 7 Mei, by ons huis in Johannesburg.

“Chris het die aand voor my verjaardag vir my gesê dat ek die volgende oggend nie vroeg moet opstaan nie, want hy gaan besig wees met die voorbereiding van my geskenk.

“Ek het geweet hy het uiteindelik vir my daardie naaimasjien gekoop wat ek so graag wou hê. Intussen slaap ek toe lekker vas - die lewe op die pad is lank en vermoeiend - ek kan nie bekostig om tot halfeen die oggend te werk en dan myself ‘n oggendmens te wil noem nie.

“Die son het skaars sy kop uitgesteek, toe trek hy die gordyne wawyd oop. Ek sien toe dat hy deftig uitgevat is.

“Hy het gestort, geskeer, ‘n pak aangetrek en sy snor netjies houding gegee. Soos iemand wat op pad is om Tchaikovski se Klavier Concerto nommer 1 in b-mineur te gaan kyk.

“Ek dog dat ek my eie persoonlike vertoning gaan kry voordat die naaimasjien daar inwals. Maar hy buig toe sy knie en vra my om te trou.

“Dit was bitter ongemaklik, en hy het ‘n uitdrukking gedra wat ek nog nooit vantevore gesien het nie. Ek was nie seker wat om te dink nie, maar los toe maar die vrae vir later en sê ja.

“Dit was ‘n volkome verrassing vir my. Ons is wel baie lief vir mekaar, maar vir die sewe jaar wat ons reeds saam is sê hy dat trou nie vir hom is nie. Ek het dit van die begin af so aanvaar. Ek was geskok toe hy my vra, ek het ‘n naaimasjien verwag vir my verjaardag!”

RING EN OUERS VRA

Chris het die ring spesiaal volgens sy presiese voorskrifte laat maak.

“My ouers is Trudie en Anton en hulle woon in Windhoek en Grootfontein - onderskeidelik.

“Chris het ouers gevra ja, ná die tyd. Ons het geen moeite gedoen om mense te vertel nie. Ons het die nuus natuurlikerwyse laat uitbloei. Almal in ons binnekring seën hierdie verlowing onomwonde,” het Daniella gesê.

Sy het die nuus bekend gemaak deur ‘n video op haar Facebook-blad te laai met die woorde “hy het kom vra”.

In die video, met musiek daarby, kom Chris netjies geklee met 'n hoed op die kop by 'n huis aan en gooi die hoed vir haar waar sy in die huis is.

Sy tel dit op en gooi dit terug vir hom, wat “ja” beteken. Albei glimlag en hy buig effe vorentoe om dankie te sê.

“Ons het saam aan die idee gedink om die nuus só bekend te maak. Ons was vir 'n vertoning by JanHarmsgat Se Agterplaas op Cullinan en het tyd gehad om die video te vervaardig,” het sy onlangs aan Republikein gesê.

“Ons is nie blatant oor sulke goed nie en het na iets gesoek wat op 'n manier die gevoel verduidelik. Die hoed was simbolies. Ek dink die keuse was reg.”

Die Chameleons sê die feit dat hulle ‘n gaping in hul besige skedules gekry het om te trou, is reeds ‘n wonderwerk.

“Ons kla nie, ons voel geseënd, maar ná die troue is daar óók weer werk om te doen. Net ná die troue vertek ons na Nederland vir nog werk.

“Ons is altyd saam en reis oral oor die land, maar ek dink as ons op ‘n wittebrood kon gaan, sou ons dit graag by die huis wou spandeer op die plaas, ‘n plek waarvan ons te min sien. Vir ons beteken reis ‘werk’,” sê Daniella.

VERHOUDINGSRAAD

Daniella sê die vreemde ding van hul verhouding is dat dit moeiteloos is en sonder instandhouding geskied.

“Dit het nog nooit vir ons gevoel asof dit ‘werk’ is nie. Ons sal baie keer op toer die afrit mis omdat ons te lekker sit en gesels.

“Ons gesels van Johannesburg, verby Colesberg tot in Kaapstad - sonder om een keer die radio aan te sit. Ons raak net nie moeg vir mekaar nie, al bestee ons meer tyd saam as die deursnee paartjie - omdat ons saam werk en byna nooit van mekaar geskei is nie.

“Oukei, ek sal nou ophou met spog.

“Wat ek wel kan sê, is dat voor ek hom ontmoet het, ek ‘n duidelike prentjie gehad het van my lewensmaat se geaardheid. Ek het gevra om so ‘n persoon te vind. Toe vergeet ek daarvan en gaan my gang.

“Toe hy een aand op my skouer kom tik, draai ek om en kyk reg in sy oë. Ek het dadelik geweet dis die een.”

Chris sê hy is te “onvolmaak” om raad oor verhoudings aan ander te kan gee.

“Maar as ek móét getuig van hoekom ons werk, sou ek twee dinge uitsonder: Ons vul mekaar aan, ons sterk punte is toevallig in die velde waar die ander party swakker is, en omgekeerd.

“En tweedens: Ek is tog te dankbaar dat ek ‘n tien-uit-tien maat gekry het en is daarom bereid om meer te verdra as wat my gewoonte is,” sê hy.

Daniella sê Chris se beste eienskap is dat hy haar altyd veilig en gekoester laat voel.

“Hy glo dat ‘n mens altyd eerlik in jou handel en wandel moet wees, en dit is hy ook. As hy sê hy gaan iets doen, dan kan jy maar weet hy gaan daarby hou.

“Ons is al amper sewe jaar saam, maar omdat ons 19 jaar verskil, het ons beide ‘n ander konsep van tyd.

“Dalk is mens se beskouing van tyd relatief tot jou ouderdom. Hy kan sy tyd vat met sommige dinge en ek word dan vreeslik ongeduldig. So, eintlik is dit my tekortkoming,” sê sy.

En Daniella se beste eienskappe, volgens Chris?

“Daniella se instinkte is beter ontwikkel as myne, en haar oordeel duideliker. Dit maak van ons ‘n sterker span as wat ek op my eie kan wees.

“Haar minder aangename streek is dat mense meer vir haar kyk as vir my wanneer ons in die straat afstap,” sê hy.

KAT EN WOLF KOM KUIER IN NAMIBIË

Chris sê hul laaste toer as ongetroudes is in Namibië van 10 tot 20 Oktober.

“Ons sien baie uit daarna om weer Nambië toe te kom! Dis altyd ‘n fees en die mense is so gasvry en ontspanne,” sê hy.

Daniella skimp hardop: “Ek sien my familie een keer ‘n jaar - gans te min! En ook net wanneer ek die geleentheid kry om daar te werk. Ek wens mense wil ons meer nooi!”

Chris en Daniella maak behoorlik gebruik van die tyd en gaan dié keer so ver as Hentiesbaai en Tsumeb met Kat en Wolf kuier.

Die sangpaartjie is al meer as ses jaar saam en tree sedert Desember 2013 saam op. Chris en Daniella het vir die eerste keer saamgewerk toe hy haar gedigte vir hul gesamentlike album Posduif getoonset het.

Daniella het in 'n onderhoud in 2014 met Kollig in Republikein gesê haar gedigte spruit uit die gesin se rondtrekkery tussen dorpe en sy het haar in digkuns verdiep.

Sy is in Windhoek gebore en het op Okahandja, Swakopmund en Grootfontein grootgeword. In die 2014-onderhoud het Daniella toe gesê sy en Chris is “beste vriende”.

Daniella het saam met die internasionale model Behati Prinsloo aan die Senior Sekondêre Skool Grootfontein gematrikuleer.

OOR KAT EN WOLF

Die paartjie het reeds in Maart vanjaar by die Warehouse-teater in Windhoek met hul vertoning Kat en Wolf opgetree.

Chris Chameleon en Daniella Deysel is Kat en Wolf. Hierdie multimedia- musikale projek is gebore uit die begeerte van beide hierdie kunstenaars om buite die kou van hul gevestigde name op vryer vleuels met beeld, klank en kostumering in die ongewone wildernis van hul verbeelding te sweef.

In Kat en Wolf breek Chris en Daniella weg van die konvensie van hul onderskeie liggame en slag die heilige koeie van verwagting, die selfvonnis van beroepsklassifisering en die maak-vir-smaak eise wat gestel word aan diegene wat hul wend tot die waan van ‘n lewensvatbare musiekloopbaanbestaan af.

Kat en Wolf is nie bang vir die donker nie, skrik nie vir bloed nie, is ernstig oor speel – en speel met erns.

Toonsettings van dele uit die HAT, aanhalings uit kunsgeskiedenisnaslaanwerke, die elektrisiteit van seksualiteit en die soeke na die sinvolste verkenning van vals sang is van die onderdele van hierdie aweregse konsertreis.

Chris gee ook altyd, êrens in sy vertoning, vir gehore die geleentheid om hul gunstelinge te versoek.

Datums:

10 Oktober – Mariental Boutique-gastehuis

11 Oktober – Windhoek – Soiree/Voorkamerkonsert

12 Oktober – Tsumeb-teaterhuis

13 Oktober – Outjo Base Camp

16 Oktober – Kameeldorn Garten

17 Oktober – Hentiesbaai – Soiree/Voorkamerkonsert

18 Oktober – Swakopmund Paintball Club

19 Oktober – Warehouse-teater/Antique-saal

20 Oktober – Keetmanshoop Privaatskool

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!