CHAN-geskiedenis wink teen Uganda
Koel koppe en slim spel is vanaand nodig om 'n plek in die kwarteindstryd te bespreek.
Tielman van Lill - Die Tafel Lager Brave Warriors se uitstekende verdedigingslinie laas Sondagaand teen Les Éléphants van Ivoorkus in Marrakesj, Marokko, het regstreeks tot hul oorwinning van 1-0 gelei.
Die Namibiërs het tot in die doodsnikke van hul eerste botsing in groep B van die 2018 Afrika-Nasieskampioenskap (CHAN) die gevaarlike Olifante met 'n ystervuis in toom gehou, voordat hulle in die laaste sekondes van beseringstyd 'n dramatiese en geskiedkundige oorwinning beklink het.
Indien Namibië vanaand (afskoptyd 21:30) by dieselfde stadion sukses wil smaak en op geskiedkundige wyse hul plek in die kwarteindronde bespreek, sal hoofafrigter Ricardo Mannetti se troepe moet sorg dat die Ugandese skerpskutters ver weg van die doelkas gehou word.
Uganda se Kraanvoëls is 'n fisieke eenheid wat nie skroom om hul teenstanders met hul lywe te intimideer nie. As die Warriors gaan toelaat dat die opponente hulle boelie, kan daar perde vir die manne uit die Land of the Brave wees.
Die Warriors se kamp het vroeër vandeesweek belowe om nie op die louere van hul eerste oorwinning in Marokke te rus nie, maar om van nuuts af op vanaand se kritieke botsing te konsentreer.
Die Namibiërs se groeiende selfvertroue kan 'n positiewe bydrae op die veld lewer, maar kan 'n ewe groot slaggat word as spelers dalk effe grootkop kry.
Mannetti sal voor vanaand se belangrike groepwedstryd sy manne die leviete goed moet voorlees om seker te maak dat die spelers vir die volle wedstryd konsentreer. Die spelers het die afgelope jaar getoon dat Namibië wel oor die nodige talent beskik om die meer gesoute lande se neuse in die gras te vryf.
'NIE SKIELIK 'n SWAK SPAN'
Vanaand is die regte tyd en plek in die Grande Stade de Marrakesh vir die Brave Warriors om weer geskiedenis te maak.
Uganda se eer is gekrenk sedert sy nederlaag van 3-1 teen Zambië en hy sal sekerlik met 'n hernude aanslag kom om verlore aansien te herwin.
Mannetti het gister met 'n nuuskonferensie gesê dis belangrik vir sy spelers om kalm te bly.
“Ons bly die buiteperd, met ons teenstanders wat die absolute gunsteling is. Uganda sal egter die spel na ons toe bring; as hulle ons fisiek takel, sal ons spelers met dieselfde vuur antwoord. Ons kan nie roekeloos teen hulle raak nie en sal slimmer as hulle moet speel.
“Die feit dat hulle teen Zambië gefaal het, maak Uganda nie skielik 'n swak span nie. Ons manne sal nie konsentrasie kan verloor nie en sal enduit by die wedstrydplan moet hou om ons doelwit te bereik,” het die breier verduidelik.
Ronald Ketjijere, kaptein van die Brave Warriors, sê sy span het 'n droom om te verwesenlik.
“Ons het wel met Ivoorkus afgereken, maar dit op sigself sê niks nie, want ons het nog niks in die toernooi bereik nie. Ons moet gefokus bly en Uganda klop, anders gaan dit teen Zambië se Chipolopolo (die Koperkoëls) skielik baie moeiliker word.
“Ons wil die Ugandese hekkie agter ons kry en so spoedig moontlik vir die kwarteindronde kwalifiseer,” het die kaptein gesê.
MAKLIK OF MOEILIK
Vanaand sal die puntelose Ivoorkus en Zambië eerste op die veld stap, voordat Namibië en Uganda daarna om 21:30 Namibiese tyd slaags raak.
Oorwinnings vir Zambië en Namibië sal vir beide hul plek in die kwarteind bespreek, maar as hul opponente verras, sal alles van die finale rondte se uitslae afhang.
Vrydag vertrek die Warriors-groep na Casablanca waar hulle Maandagaand teen Zambië in hul laaste groepwedstryd speel. Net die twee voorste spanne van elk van die vier groepe sal na die kwarteindronde vorder. - Eie berig/www.nfa.org

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie