Chani Rabe: 'n Ware, aardse skoonheid

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Mej. Tiener Vastelande, Chani (Chanique) Rabe (18), se gunsteling klere is haar pajamas.
En as sy by die huis kom, tref jy haar dikwels in haar pajamas en japon met ‘n koppie koffie, geen grimering en deurmekaar hare op die rusbank aan.
Chani (ook Mej. Tiener Namibië 2015) het op 18 Julie vanjaar maar die tweede Namibiër ná Michelle McLean-Bailey geword om so ‘n gesogte internasionale skoonheidstitel te wen. Sy is in Houston, Texas, as Mej. Tiener Vastelande gekroon – ‘n skoonheidskompetisie wat voorheen as Mej. Tiener Wêreld bekend gestaan het.
Volgens die besturende direkteur van Beyond 2000 Performing Arts, dr. Ellen Roux, is die Mej. Tiener Wêreld-naam verander nadat die Mej. Wêreld-organisasie ‘n probleem daarmee gehad het omdat dié skoonheidskompetisie se naam baie na aan hul eie was. Dit is toe na Mej. Tiener Vastelande verander.
Die Mej. Vastelande-organisasie het ook ‘n Mej. Tiener Verenigde Nasies Vastelande en ‘n Mej. Vastelande gekroon. Mej. Tiener Verenigde Nasies Vastelande is die wenner van al die Amerikaanse state en sy kan volgende jaar inskryf vir Mej. Tiener Vastelande, terwyl laasgenoemde vir “ouer dames” (18 tot 24 jaar) was.


'Ek het geweet sy gaan wen'
Dr. Roux het ook gesê Chani is een van haar mooiste Mej. Tiener’s.
“Nie net is sy mooi van buite nie, maar ook van binne. Ek is baie gelukkig daarmee dat sy gewen het. Ek het van die begin af geweet sy gaan hierdie kompetisie wen,” het dr. Roux gesê.
Beyond 2000 is verantwoordelik vir beide die Mej. Tiener-skoonheidskompetisies in Namibië en Suid-Afrika en ook vir die twee talentontwikkeling-organisasies Natme en Satme (die Namibiese en Suid-Afrikaanse verenigings van talent, modelleerwerk en vermaak).
Chani sê die eerste ding wat deur haar kop gegaan het nadat sy as Mej. Tiener Vastelande gekroon is, is dat sy so trots op haar land is en dat sy suider-Afrikalande " op die kaart kan plaas" . “Soveel mense wonder waar is Namibië. Ek is trots om my land te kan verteenwoordig.
“Ek kon daar anderkant nie ophou praat oor ons land nie. Ons is op ‘n goeie plek – selfs wat ons politiek en ons president betref. Ek is trots om te sien hoe ons groei. Namibië is maklik om as toeristebestemming te verkoop en mense is baie geïnteresseerd in die Afrika-lande.”
Sy is ook as Mej. Persoonlikheid aangewys en het die toekenning vir die beste aandrok gewen. Die besonderse rok is deur die Suid-Afrikaanse modeontwerper Werner Dey gemaak.
Chani se titel het nie kop toe gegaan nie. Sy kom aards en eg voor, gesels natuurlik, sonder voorgee, en sê dit voel glad nie “reg” dat haar naam nou in een asem saam met dié van Michelle McLean-Bailey (Mej. Namibië en toe Mej. Heelal 1992) genoem word nie.
Chani het vir Michelle ontmoet en die skoonheidsikoon het kort ná Chani se oorwinning haar amptelik op Facebook gelukgewens. “Sy is ‘n groot inspirasie vir my en sy help soveel mense. Sy het voor die skoonheidskompetisie ‘n foto saam met my geneem en my sterkte toegewens.”
As internasionale skoonheidsikone, wat het die twee in gemeen?
“Ons al twee hou van mense – ons is ‘mense-mense’. Ons hou daarvan om ander te help, op ‘n goeie manier te beïnvloed en ‘n verskil te maak sodat mense nie net jou naam onthou nie, maar ook onthou hoe jy hulle laat voel het,” sê Chani.
Chani sê Michelle asook die huidige Mej. Wêreld, Rolene Strauss, is haar rolmodelle. “Ek het vir Rolene ontmoet net voor sy as Mej. Wêreld gekroon is. Sy het ‘n stralende persoonlikheid, is so vriendelik en ‘n goeie en ordentlike mens. Sy is ‘n besonderse rolmodel.”


‘n Ma se ondersteuning
Chani is die enigste kind en haar ouers het daarin geslaag om ‘n afgeronde meisie en ‘n rolmodel groot te maak.
“Ons is geërd om so wonderlike dogter te hê wat so ‘maklik’ is. Sy was ‘n plesier om groot te maak. Ek is ‘ou skool’ in die sin dat kinders goeie maniere moet hê, weet wanneer sê jy asseblief en dankie en respek vir hul medemens en ouer mense moet hê,” sê haar ma, Natasha.
“Ek en my man het nie verwag ons dogter gaan wen nie. Ons ken haar as die klein mensie in pajamas wat by ons in die bed kom spring as sy siek is. Dan sien jy die meisies by die skoonheidskompetisie wat in hakskoene en hare uitgevat is.
“Ons beskou haar glad nie as ‘n skoonheidsikoon nie. Ons het gehoop hulle kon haar sien vir wie sy as mens is, want dit is nie vir ons genoeg dat net haar uiterlike raakgesien word nie. Die Mej. Persoonlikheid-titel wat sy by die kompetisie gewen het was vir ons die grootste eer.”
Chani sê sy weet nie hoe sy die jaar sonder haar ma sou deurmaak nie. “My ouers is, definitief, sonder enige twyfel, my grootste ondersteuners – veral my ma. Sy pak elke projek saam met my aan en maak van alles ‘n sukses. Oorsee was sy vir my ‘n groot bron van morele ondersteuning.”


Toekomsplanne
Natasha sê almal vra nou of Chani ‘n model gaan word.
“Modelwerk en om ‘n skoonheidsikoon te wees, is egter baie verskillend van mekaar. As jy ‘n skoonheidsikoon wil wees, moet jy ‘n rolmodel wees. Jy kry jou titel om iets daarmee te doen, om mense te help en projekte aan te pak. Jy moet werk vir jou titel,” sê Natasha.
Chani stem saam. “Mense wat vir skoonheidskompetisies wil inskryf, moet ‘n sekere tipe persoon wees – jy moet nie net inskryf omdat jy dink jy is mooi nie, maar ook omdat jy ander kan help.”
Vir Chani is dit egter nou moeilik om groot projekte as Mej. Tiener Vastelande aan te pak.
“Ek is in die helfte van my matriekjaar, wat dit vir my moeilik maak. Die agentskap in Amerika het egter begrip daarvoor. Ek sal wel ‘n paar keer vir optredes en sekere projekte oorsee gaan. Ek gaan egter voortgaan met die projekte wat ek as Mej. Tiener Namibië aangepak het, naamlik Beauty From Within, waarmee ons tydens skoolvakansies slypskole vir meisies aanbied oor hoe om hulself te versorg, van etiket leer en ook wys hoe om mooi na hulself te kyk.
Wat gaan Chani volgende jaar doen?
“Ek is trots om te kan sê ek het by Fedisa ingekom. Dit is een van die beste modeontwerperskole in Suid-Afrika. Ek gaan vanaf volgende jaar vir ‘n graad in modeontwerp studeer.”
Beplan sy om in die toekoms ook aan Mej. Namibië deel te neem?
“Ek is oud genoeg om aan Mej. Namibië deel te neem, maar ek gaan eers studeer en die titel uitdra waarvoor ek nou verantwoordelik is. As ek klaar gestudeer het en emosioneel ‘n bietjie gegroei het, sal ek moontlik aan Mej. Namibië deelneem. Maar nie nou al nie.”


Wees jouself
Saterdag is Mej. Namibië 2015 gekroon en alhoewel Chani jonger as sy is, kan sy egter raad aanbied wanneer sy volgende om ‘n internasionale skoonheidstitel moet meeding.
“Ek weet mense sê dit baie, maar wees jouself. Wees eerlik. Geniet dit. ‘n Mens sien so vinnig deur iemand wat iets probeer wees wat hulle nie is nie.”
Hoekom het sy vir Mej. Tiener ingeskryf?
“Dit het alles by Mej. Wap begin. Die onderwysers en my vriendinne het gesê ons moet inskryf vir die lekkerte daarvan. Ek het agtergekom dit is eintlik baie lekker om aan so iets deel te neem. Nadat ek gewen het, het ek besef ek kan die titel ten bate van projekte gebruik. Ek het toe vir Mej. Tiener ingeskryf en ook daar gewen.
“Dit is nou ‘n jaar gelede wat ek met Mej. Wap begin het. Ek het definitief nie gedink ek sou so ver kom nie. Ek het nie gedink ek gaan nou hier wees nie.”
Wat maak iemand mooi?
“As jy integriteit het en jou morele waardes op die regte plek is, maak dit jou van die begin af mooi. Dan kom ook dinge soos vriendelikheid en omgee,” sê Chani.


Ander passies
Het sy enige ander passies soos byvoorbeeld om kos te maak?
“As ek moet kook, sal ek roosterbrood of ys moet maak. Ek kan nie kook nie.
“Ek was baie lief vir atletiek en op die oomblik doen ek graag watersport soos om op die dam te waterski. Ons bly op ‘n kleinhoewe en ek geniet die natuur, om buite te wees en met die honde te gaan stap.”
Chani het ook groot passie vir haar projek Beauty From Within. “Ek het dit aanvanklik begin doen omdat ek gesien het daar is soveel jong meisies wat werklik mooi is, maar dit is asof hulle dit nie besef nie.
“Die projek is gemik op meisies van 4 tot 19 jaar en ouer om hulle die basiese beginsels van selfsorg, etiket en die fyner dinge van die lewe te leer. Ook hoe om volgens liggaamsbou aan te trek, hoe om jou hare te versorg en grimering te doen. Ons leer hulle ook oor selfvertroue en om beter oor hulself te voel. Deur die slypskole probeer ons meisies wat skaam en teruggetrokke is, te help om uit hul dop te klim en te straal.
“Ek glo as jy nie mooi van binne is nie, is jy ook nie mooi van buite nie. Elke persoon is uniek, dit gaan daaroor dat jy nie soos jou maatjie maak nie, maar byvoorbeeld volgens jou eie persoonlikheid aantrek.
“Ek gaan voort met die slypskole en intussen is ons ook besig met ‘n geldinsamelingsprojek vir die volgende Mej. Tiener Namibië.”


Mej. Tiener Namibië
Natasha en Chani het onderneem om die 2016 Mej. Tiener aan te bied, waarna iemand anders weer verantwoordelikheid daarvoor sal moet aanvaar.
Dit behels ook dat hulle self geld vir die kompetisie moet genereer.
‘n Geldinsamelingsprojek vir die kompetisie getiteld “Pop Up Restaurant & Fashion Show” is reeds gister gehou, wat behels dat mense kaartjies koop en dan by ‘n sekere venue (wat tot gister ‘n geheim gehou is) opdaag, na ‘n modeparade kyk en ‘n driegangmaaltyd geniet het.
“Ons wil vir al die meisies wat vanjaar inskryf, iets gee om mee huis toe te gaan. Voorheen het dit net oor die wenner gegaan, maar ons wil slypskole aanbied sodat dit vir elkeen die moeite werd is om in te skryf. Meisies tussen die ouderdomme van 4 jaar en 19 jaar kan inskryf. (Vir meer inligting, besoek hul Facebook-blad, stuur ‘n e-pos na [email protected] of [email protected] of skakel 081 141 5882).
Chani wil meisies oorreed om vir Mej. Tiener in te skryf.
“Een ding wat ek nou al geleer het – ek is definitief nie perfek nie en geen meisie is nie, maar die hoeveelheid selfvertroue wat ‘n skoonheidskompetisie vir jou gee, help jou om lief vir jouself te raak en jouself te aanvaar. Jy wys vir almal: Dit is ek en dit is wat ek kan doen. Enige meisie moet dit ervaar, of jy wen of nie. Ek sal wil hê elkeen moet inskryf.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!