Chaos breek uit in Nasionale Vergadering
Chaos breek uit in Nasionale Vergadering

Chaos breek uit in Nasionale Vergadering

Dinge het Dinsdag weer hand­uit geruk toe die Nasionale Vergadering sy verrigtinge hervat het.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Ondanks versoeke van die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, dat bydraes tot die begrotingsdebat beperk moet word vanweë uiters beperkte tyd, het opposisielede en lede van die regerende party se ­geredekawel meegebring dat dié debat wel uitgerek is.

Opmerkings deur die RDP-lid van die Nasionale Vergadering (NV), mnr. Mike Kavekotora, het, nog voor die bespreking van die bykomende begroting hervat is, tot 'n oor-en-weer geskree gelei.

Dít toe hy kapsie gemaak het teen die wyse waarop die NV verlede Dinsdag, nadat ooreengekom is om tot die volgende dag te verdaag, per SMS inderdaad tot hierdie week Dinsdag verdaag het.

Hy het gesê hy is nie in staat om verslae van die parlementêre portefeuljekomitee belas met openbare rekeninge ter tafel te lê nie, omdat die portefeuljekomitee belas met vaste reëls en orde vir 'n geruime tyd nie vergader het nie.

“Ek neem die speaker kwalik dat hy nie die komitee tot orde geroep het nie,” het hy gesê.

Hy wou ook van die speaker weet wat die “onvoorsiene omstandig­hede” was wat veroorsaak het dat die Huis vir twee dae verlede week nie gesit het nie.

Die speaker, prof. Peter Katjavivi, het gesê hy kon eenvoudig nie die NV saamroep nie omdat hy nie die getalle gehad het om 'n kworum te vorm nie.

Toe Kavekotora weer op sy voete was om verder aan te dring op antwoorde, het die speaker gesê hy is buite orde.

Toe dit tyd geword het om kennis van vrae te gee, het mnr. Usutuaije Maamberua van Swanu gesê hy het 'n mondelinge vraag vir die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila. Toe dit blyk dat dit oor dieselfde onderwerp gaan as die een waaroor Kavekotora stilgemaak is, is hy ook buite orde bevind.

Voor die aanvang van die bespreking van items op die sakelys het Swapo se hoofsweep, me. Eveline Taeyele-Nawases, by wyse van 'n sogenaamde “ongeopponeerde mosie” kennis gegee dat die verrigtinge van die huis nie teen 17:45 verdaag sou word indien die sakelys nie afgehandel is nie.

Dit is gewoonlik die gebruik tydens die komiteestadium van die hoofbegroting.

Dié versoek is gerig vanweë die uiters beperkte tyd voor die NV op reses gaan en die bykomende druk wat die Swapo-kongres, wat Donderdag 23 November begin, op NV-sittings plaas.

'Geen konsultasie'

Die president van die PDM, mnr. McHenry Venaani, het die speaker meegedeel dat sy party nooit oor die sogenaamde ongeopponeerde mosie gekonsulteer is nie en dat die lede van die PDM nie daaraan gehoor sal gee nie.

Maamberua het saamgestem en gesê geen redes is vir die verlenging van die sittingtyd verstrek nie en Swanu is ook nie gekonsulteer nie.

Met die hervatting van die bespreking van die middeltermyn bestedingsraamwerk het sake nie veel beter verloop nie.

Die debat, wat telkens deur ordepunte onderbreek is, het dikwels sodanig ontaard dat drie sprekers gelyk op hul voete was en terselfdertyd luidrugtig gepraat het.

Op een tydstip het die adjunk­minister van hoër onderwys, opleiding en vernuwing, dr. Becky ­Njoze-Ojo, opgestaan en haar kommer oor die gebrek aan dekorum uitgespreek.

Sy het die Huis daarop gewys dat een van die vaste reëls en ordes van die NV bepaal dat nie meer as een persoon op 'n keer aan die woord mag wees nie. Terwyl sy haar pleidooi vir 'n meer ordelike sitting gelewer het, was verskeie lede van die Huis onderling in gesprek en Venaani was met 'n tirade teen Swapo se hantering van die debat besig.

Net voor die minister van ­finansies, mnr. Calle Schlettwein, repliek op die debat gelewer het, het ­Vipuakuje Muharukua van die PDM, by die speaker kapsie gemaak oor 'n vernederende Oshiwambo-woord wat die minister van ­grondhervorming, mnr. Utoni Nujoma, hom toege­snou het.

Kuugongelwa-Amadhila het op navraag van die speaker, wat nie die woord gehoor het nie, toegegee dat sodanige taal nie in die huis tuishoort nie.

Nujoma het egter ­oudergewoonte ontken dat hy die woord teen ­Muharukua gebruik het en het volgehou dat hy dit bloot in 'n private gesprek met sy bankmaat, me. Loide Kasingo, geopper het.

Die bykomende begroting is ná Schlettwein se repliek ook deur die komiteestadium gevoer en sal nou deur die Nasionale Raad nagegaan word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!