Charles Namiseb eindelik gestraf

Die skuldige is twee jaar gelede in Suid-Afrika aangekeer en in Julie verlede jaar aan Namibië uitgelewer.
Ronelle Rademeyer
Die tweede misdadiger en verkragter wat in 2010 vir die aanval op ‘n bejaarde egpaar van Uis verantwoordelik was, is gevonnis.

Die eens voortvlugtige en berugte Charles Namiseb is Maandag tot 63 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan hy effektiewelik 57 jaar in aanhouding moet deurbring.

Hy het saam met ‘n makker tereggestaan vir die gewelddadige gewapende rooftog op ’n bejaarde egpaar van Uis op 3 Oktober 2010.

Die 37-jarige Namiseb en sy vriend, Edwin Tourob (34), is in Februarie 2016 deur regter Alfred Siboleka in die hoërhof in Windhoek skuldig bevind op twee klagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer, ’n klag van roof met verswarende omstandighede en drie klagte van verkragting.

Tourob is in Mei 2016 alleen gevonnis nadat Namiseb op 16 Maart daardie jaar uit die Windhoek-polisiekantoor se aanhoudingselle ontsnap het. Siboleka het hom tot 53 jaar tronkstraf gevonnis.

Namiseb is op 7 April 2017 in Suid-Afrika aangekeer en in Julie verlede jaar aan Namibië uitgelewer. Republikein was op die Internasionale Lughawe Hosea Kutako toe hy op ‘n kommersiële vlug van Air Namibia in die land aangekom en onder swaar polisiebewaking na die Windhoek Sentrale Gevangenis geneem is.

Bewyse is tydens die verhoor voorgelê oor hoe die toe 72-jarige man (nou 81) tydens die aanval met 'n graaf oor sy kop geslaan, die huis ingesleep en met ’n elektriese koord vasgebind is.

Sy 69-jarige vrou (nou 78) is ook aangerand en deur die twee aanvallers vasgemaak. Sy is daarna verkrag en het ernstige beserings opgedoen.

Die mans het die egpaar van hul voertuig, twee vuurwapens en juwele van sowat N$78 900 beroof.

Siboleka het Namiseb tot 15 jaar tronkstraf op elk van die drie verkragtingsklagte gevonnis, terwyl hy 12 jaar tronkstraf vir die gewapende roof gekry het. Sy straf op die klagte van aanranding is ses jaar elk. Dit sal gesamentlik uitgedien word.

Tourob is op die dag van die aanval in hegtenis geneem ná hy gewond is toe die polisie op die gesteelde voertuig geskiet het waar dit deur ’n padblokkade tussen Uis en en Khorixas gejaag het.

Namiseb is drie dae later op Swakopmund in hegtenis geneem.

Hy het aangedui hy gaan teen sy vonnis appelleer. – Eie berig en Nampa

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!