Chianina – ’n eerste vir Namibië
Telers so ver as Angola se belangstelling in dié beesras met sy Italiaanse wortels is reeds geprikkel.
Elvira Hattingh - Toe Hermann Bayer van Aroams Farming in die 1950’s ’n foto van die Italiaanse Chianina-bees op ’n poskaart gesien het, kon hy maar net droom. Nooit het hy gedink sy seuns sou sy droom, kort voor hy 84 jaar oud word, bewaarheid nie.
Hermann se seuns, Charl-Thom Bayer en sy broer Konwil, het verlede jaar Oktober drie bulle en twee verse ingekoop. Hierdie beeste is geregistreer en hoewel hulle uit Suid-Afrika ingevoer is, is hul pa’s Italiaans en kom hul genetika ook van dié land af.
Hulle boer suidwes van Windhoek in die Khomas Hochland-Rehoboth omgewing en Hermann sê sy familie boer al sedert 1890 daar. Hy is die vierde geslag wat in dié omgewing boer – nes sy oupagrootjie, sy ouma en pa.
“Al die bulle is embrio-kalwers en die kunsmatige inseminasie is in Suid-Afrika gedoen,” sê Charl-Thom, wat vanjaar een van die bulle, Elevato Previcure, skou toe gebring het om die nuwe ras te kom vertoon.
Hy sê plaaslike telers se belangstelling in die ras is geprikkel.
“Baie mense uit Namibië en Angola doen navraag oor die ras. Hulle oorweeg byvoorbeeld kruisings met Boran-beeste en Nguni’s op ekstensiewe toestande.”
Oor hoe so ’n grootraambees op kleiner koeie gebruik kan word, sê Bayer hulle veroorsaak nie probleme nie.
“In Suid-Afrika doen hulle baie goed. Die bees is groot en hoog op die been, maar hy het ’n fyn beenstruktuur en is lank. Die kalwers is normaalweg lank en smal, wat help dat hulle maklik gebore word. By geboorte weeg hulle tussen 40 en 50 kg, maar hul smaller heupe en skouers help vir ’n gemakliker geboorte,” sê Hermann.
KRUISTEEL
Hermann sê hulle boer tot dusver oorwegend met F1 Brahmaan-Charolais-kruisings vir die mark.
“Die idee is om beter aan die markvereistes vir vleisproduksie te voldoen.
“Ons hoop dié bees met sy groter raam en beter uitslagpersentasie, sal ons help om ons beeste dalk ’n bietjie vroeër te kan bemark, of om hulle op dieselfde ouderdom, maar teen ’n swaarder gewig, te verkoop.”
Hy sê hulle het egter ook ’n paar suiwer Chianina-verse aangekoop met die vooruitsig dat hulle bulle sal kan teel as ’n vraag daarna ontstaan.
“Ons plaas tans die Chianina-bulle by die Charolais-Brahmaan F1-verse en -koeie vir ’n terminale kruising vir die mark. As dit goed werk, mag daar dalk ’n vraag vir Chianina-bulle ontstaan.”
Hermann sê twee van die Chianina-bulle loop tans saam met kommersiële diere. Die een bul is by sy broer, wat tussen Dordabis en Uhlenhorst boer.
“Daardie bul is groter as Elevato Previcure en ons het hom na die sagter wêreld geneem.”
Die jonger bul van die drie loop op ’n plaas wat hy en sy pa huur saam met 40 koeie – ook die Brahmaan-Charolais tipe.
AANGEPASTHEID
Hermann sê hoewel die Chianina ’n Europese bees is, lyk hy anders as hul tipiese bees.
“Hy het ’n swart huid – soos jy kan sien om die oë, die stert en by die hoewe. Hy het ook kort, wit hare. Dit is die ideale kombinasie vir weerstand teen die son – die wit hare help om die son te weerkaats en die bees koel te hou. Die kort haar bied ook weerstand teen bosluise en uitwendige parasiete,” sê Hermann.
Hy sê die bees is baie mak en hanteerbaar, maar tog wakker.
Die Chianina het ‘n voeromset van sowat 5,5:1. Volgens Hermann vreet hy, wat veel groter is, omtrent dieselfde hoeveelheid kos as ’n Charolais-bul.
“Ons is tot dusver tevrede met hul aanpassing by ons omstandighede. Die bul in die Ooste loop net op ekstensiewe veld en kry, soos al die ander beeste in sy kudde, slegs onderhoudslek. Hy het 80 kg verloor – hy het 950 kg geweeg toe hy hier gekom het en staan nou op sowat 870 kg. Sy gewig bly egter nou konstant.
“Elevato Previcure weeg nou 1 000 kg. Hy het tot twee weke voor die skou nog tussen koeie geloop, want ons kan nie ons produksie vir net ’n paar dae by die skou nalaat nie.
“Ons het hom egter ook vir die skou afgerond en hy het in die aande huis toe gekom om kos te kry. In die laaste paar weke het ons hom geleer om met die halter te loop.”
EERSTE KALWINGS BINNEKORT
Hermann sê die bulle is nie onmiddellik by die koeie geplaas nadat hulle aangekoop is nie.
“Ons het hulle vir twee maande in kwarantyn gehou om seker te maak hulle is gesond. Ons wou sien dat hulle nie koors ontwikkel nie, hartwatersiekte het of in die lorrie seergekry het nie. Dit was maar voorsorg om seker te maak hulle steek nie dalk ons hele kudde met iets aan nie.
“Ons het hulle eers in Februarie tussen die koeie begin sit. Die eerste kalwers sal eers na die einde van die jaar gebore word. Die twee versies wat saam met Elevato Previcure skou toe gekom het, is egter ook albei dragtig, asook van die kommersiële koeie waar hy loop.”
Vir meer inligting kan Hermann by 081 303 3060 of by [email protected] gekontak word.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie