Chichén Itzá:

Lank gelede het die Maya-beskawing argitektoniese wonders vermag, die sterre bestudeer en het hul kultuur gedy, voordat dit weens onverklaarbare redes tot niet gegaan het.
Estelle de Bruyn
Chichén Itzá is een van die oorblyfsels van 'n antieke Meso-Amerikaanse beskawing wat vandag nog die verbeelding aangryp.
Dit het geskiedkundiges, argeoloë en wiskundiges steeds aan die wonder oor hoe die oorspronklike inwoners van die gebied daarin geslaag het om 'n akkurate kalender op te stel asook piramides te bou en toe oënskynlik skielik hierdie vermoëns verloor en hul stad verlaat het.
Vroeg in Junie, op 'n humiede somerdag, besoek ek die antieke tempelkompleks in die Yucatán-streek van Mexiko.
Dit was eens 'n bedrywige stad met die sentrale piramide van Kukulcan, die geveerde, heilige slang, wat nou verband hou met die god Quetzalcoatl, wat aan die Asteke en ander sentraal-Mexikaanse kulture van die post-klassieke tydperk bekend was. In Spaans, die taal van die veroweraar, is die piramide bekend as El Castillo (Spaans vir kasteel).
Toeriste-aantreklikheid
Vandag is Chichén Itzá een van Mexiko se gewildste toeriste-aantreklikhede met nagenoeg 1,4 miljoen toeriste wat dit jaarliks besoek.
Tydens die besoek is daar honderde toeriste wat selfies neem en in velerlei tale deur toergidse ingelig word oor die argitektuur en die simboliek van die piramide.
Nie net het dit aan vier kante elk 'n stel van 91 presiese trappe, wat saam die boonste platform 365 dae van die jaar uitbeeld nie, die hoeke van die tempel wys noord, oos, suid en wes.
Optiese illusies is ook in die bouwerk ingewerk wat dit vir die menslike oog simmetries laat lyk.
Beeldhouwerke van geveerde slange kan langs die kant van die noordelike balustrade gesien word. Tydens die lente en herfs se dag-en-nag-ewening laat die laatmiddagson driehoekige skaduwees teen die noordwestelike balustrade ontstaan wat die optiese illusie skep van 'n geveerde slang wat van die piramide afseil.
Bouwerk
Die kompleks is deur die pre-Colombiaanse Maya-beskawing iewers tussen die negende en die 12de eeue gebou.
Datums vir die vroeë vestiging in die gebied wissel en volgens een manuskrip dateer dit van tussen 415 en 35 A.D. en volgens 'n ander manuskrip van 455 A.D.
Die tweede nedersetting in Chichén Itzá, en van die meeste belang vir geskiedkundiges, stem ooreen met die migrasie van die Toltek vanaf die Mexikaanse plato suidwaarts tydens die tiende eeu.
Volgens die mees algemene weergawe van gebeure het die koning van die Tula, Ce Acatl Topiltzin Quetzalcoatl, of Kukulkan soos die Maya die naam vertaal het, die stad tussen 967 A.D. en 987 A.D. ingeneem.
Ná die oorname van Yucatán het 'n nuwe boustyl ontstaan wat die Maya- en Toltek-tradisies verweef het. Chichén Itzá is 'n duidelike illustrasie van hierdie same­smelting van style.
In die kompleks word El Castillo, of die piramide van Kukulkan, omring deur ver­skeie ander bouwerke insluitende die groot balspelbaan; Tzompantli of die muur van skedels, die tempel van die jaguar, die huis van arende, die tempel van die krygers, die groep van duisend suile en die graf van die hoëpriester.
Groot balspelbaan
Die Chichén Itzá-balspelbaan is by verre die grootste speelveld wat in antieke ­Meso-Amerika bestaan het.
Dit beslaan 'n oppervlakte van 168 by 79 meter en is twee keer so groot soos 'n Amerikaanse voetvalveld.
Die parallelle mure aan weerskante is elk 95 meter lank en 8 meter hoog. Hoog teen die middel van die mure is hoepels wat met dekoratiewe patrone gegraveer is. Teen die mure is panele wat balspelers uitbeeld.
Die baan is akoesties perfek en indien 'n mens by die noordelike muur praat, kan dit duidelik by die suidelike muur gehoor word.
Volgens oorlewering is die baan vir 'n balspel met soliede rubberballe waarin die wenner seremonieel onthoof word as deel van die eer aan die gode gebruik.
Cenote Sagrada
Die naam Chichén-Itzá beteken “op die rand van die put van die Itzá” wat verwys na die Cenote Sagrada (die heilige “cenote” of sinkgat) wat in die noordelike deel van die kompleks geleë is en met 'n 300 meter lange “sacbe” of geplaveide voetpad aan die kompleks verbind is.
Die noordweste van die Yucatán-skier­eiland bestaan uit 'n sandsteenvlakte met geen riviere, strome of mere nie. Die gebied het egter volop natuurlike sinkgate wat die ondergrondse watertafel ontbloot. Cenote Sagrada, wat ongeveer 60 meter in deursnee is, word met styl rotswande omring wat 27 meter na benede tot by die watertafel strek.
Volgens bronne wat dateer van die tyd nadat die Spanjaarde die gebied gekoloniseer het, het die Maya voorwerpe en mense in die cenote geoffer as deel van die aanbidding van die Maya se reëngod, Chaac. Monnik Diego de Landa, wat Chichén Itzá in 1566 besoek het, skryf: “In hierdie put het hulle die gebruik gehad om ten tyde van droogte mans lewend as offerhande aan die gode in te gooi. Hulle het ook 'n groot aantal items waaraan hulle baie waarde geheg het, soos edelgesteentes, ingegooi.”
Edward Herbert Thompson het die Cenote Sagrado tussen 1904 en 1910 ­gebagger en artefakte van goud, niersteen (jade), pottebakkery en wierook asook menslike oorblyfsels gevind. Studies wat op die oorskot gedoen is, het daarop gedui dit het wonde gehad wat met menslike offerhande verband hou.
Volgens etno-historiese bronne, was die Cenote Sagrada 'n plek van pelgrimstogte vir die antieke Maya.
Die ondergrondse water het die gemeenskap in staat gestel om heel jaar toegang tot vars water te hê.
Verval
Ná die 13de eeu is geen grootskaalse monumente by Chichén Itzá opgerig nie en die stad het vanaf 1440 vinnig agteruitgegaan.
Die ruïnes is eers vanaf 1841 opgegrawe.
Volgens sommige koloniale bronne, soos die Boek van Chilam Balam van Chumayel, het Hunac Ceel, die regeerder van Mayapan, Chichén Itzá in die 13de eeu ingeneem. Ander argeologiese bewyse dui daarop dat dit nie deur die Mayapan ingeneem is nie, ten minste nie terwyl Chichén Itzá 'n aktiewe stedelike sentrum was nie. Argeologiese data dui daarop dat die kompleks se verval teen 1250 begin het, voor die opkoms van die Mayapan.
Nadat Chichén Itzá se elite aktiwiteite geëindig het, is die stad nie heeltemal deur inwoners verlaat nie. Toe die Spanjaarde daar aangekom het, het hulle 'n aktiewe, florerende, plaaslike gemeenskap aangetref, al is dit nie duidelik of die inwoners Maya was nie.
7 wonders van moderne wêreld
Chichén Itzá is saam met Petra in Jordanië, Machu Picchu in Peru, die Kolosseum in Rome, die Taj Mahal in Indië, die standbeeld van Christus die Verlosser in Brasilië en die groot muur van China een van die sewe nuwe wonders van die moderne wêreld.
Dit is ook een van Unesco se wêreld­erfenisplekke.
Volgens Unesco is die monumente van Chichén Itzá onder die ongetwyfelde meesterstukke van die Meso-Amerikaanse argitektuur vanweë die skoonheid en proporsies en die prag van die beeldhou-versierings.
Voorts het die monumente tussen die 10de en 15de eeu 'n groot invloed op die hele kulturele sone van die Yucatán gehad.
Integriteit
Vandat Chichén Itzá in die 15de eeu verlate gelaat is, het dit stadigaan verval.
Desnieteenstaande het die uitstekende materiaal en boutegnieke wat die Maya gebruik het, verseker dat die konstruksie van die geboue, die beeldhouwerke en wese van Chichén Itzá deur die eeue behoue gebly het.
Beskerming en bestuur
Chichén Itzá word ingevolge die Mexikaanse federale wet op monumente, argeologiese en geskiedkundige sones van 1972 beskerm en is by wyse van 'n presidensiële dekreet in 1986 as argeologiese monument verklaar.
Dit is in 1988 as wêrelderfenisplek deur Unesco geklassifiseer.
Bykomende bronne: Wikipedia/www.history.com/Unesco









Maya bevolking

Die Maya-volk is die oorspronk­like inwoners van Meso-­Amerika.

Hulle woon in die suide van Mexiko, Guatemala, Belize, El Salvador en Honduras.

Hulle deel 'n mate van kulturele en taalkundige erfenis, maar die woord "Maya" beskryf ver­skeie uiteenlopende bevolkings, gemeenskappe en etniese groepe wat elk hul eie besondere tradisie, kultuur en geskiedkundige identiteit het.

Voor die koms van Christopher Columbus na die Amerikas, was daar ongeveer 8 miljoen Maya.

Anders as wat baie mense dink, het die Maya as volk nie uitgesterf nie.

Teen die begin van die 21ste eeu is daar ongeveer 7 miljoen Maya in die gebied.

Die mense het daarin geslaag om 'n aantal van hul antieke kulturele erfenis en gebruike te behou.

Een van die grootste hedendaagse Maya-bevolkings woon in Mexiko se Yucatán-staat. Hulle praat 'n taal bekend as Yucatán Maya en Spaans is hul tweede taal.

Taalkenners verwys na die taal as Yacatec of Yucatec Maya.

Geskiedkundig is die Maya-bevolking in die oostelike deel van die Yucatán-skiereiland minder met die Spaanse kultuur geïntegreer as dié in die westelike deel van die staat.

Teen die begin van die 21ste eeu het tussen 750 000 en 1,2 miljoen mense die Maya-taal gepraat. In dieselfde tyd was daar egter drie keer soveel mense met antieke Maya-vanne wat nie Maya-taal as hul eerste taal gepraat het nie.

Hulle is trots op hul erfenis en dra graag tradisionele Maya-klere en beoefen steeds tradisionele kuns en handwerk soos pottebakkery, weefwerk en beeldboukuns.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!