China begin Hongkong subtiel dreig

Hongkong beleef sy grootste krisis sedert hy in 1997 as Britse oorsese gebied weer onder beheer van China gekom het.

Betogings in dié administratiewe streek raak by die dag erger en Chinese staatsamptenare dreig dat die People’s Liberation Army (PLA) die strate ingestuur kan word.

Zhang Xiaoming, een van die mees senior Chinese amptenare belas met Hongkong, het op ’n konferensie in Shenzhen, wat langs Hongkong is, gesê die protesoptrede duur nou al 60 dae en word net erger.

“Moenie China se geduld (met die situasie) as ’n swakheid sien nie. Daar is ’n garnisoen van die PLA in Hongkong,” sê hy.

“Geweldpleging neem toe en die impak op die gemeenskap versprei. Daar kan gesê word Hongkong word deur die ergste situasie sedert 1997 bedreig.”

Zhang haal die voormalige Chinese leier en volksheld, Deng Xiaoping, se toesprake in die 1980’s aan waarin hy gewaarsku het dat as daar onrus in Hongkong is, “die sentrale Chinese regering moet ingryp”.

Hy sê ook in dié stadium het Beijing vertroue in die regering en plaaslike polisie, berig Reuters.

Die betogings het begin om ’n wysigingswet te keer wat die uitlewering van Hongkongers aan China sou goedkeur sodat hulle daar verhoor kon word. Die wet is teruggetrek, maar die opstand het toegeneem en daar is nou al eise vir ’n volledige demokrasie en dat Carrie Lam, leier van Hongkong, moet bedank.

Al wat die meeste betogers egter vra, is dat die ooreenkoms met die Britte in 1997 van “een staat, twee stelsels”, nagekom word. Daar word reeds gepraat van “een staat en een en ’n halwe stelsel” weens die kruipende oorname van China. Lam word deur die Beijingse regering ondersteun.

Duisende regsgeleerdes van Hongkong het Woensdag op ’n ordelike en stil manier in die stad gestaak en betoog, berig Al Jazeera. Hulle het gevra dat die regering die onafhanklikheid van die stad se departement van justisie moet beskerm. Hulle is ook bekommerd dat die vervolging van die betogers wat aangehou word polities gedrewe raak.

“Ons sal nie toelaat dat die strafreg deur politiek of druk van die Chinese regering in die gedrang kom nie,” sê ’n jong vroulike regsgeleerde.

Australië waarsku nou sy burgers om “baie versigtig” te wees as hulle na Hongkong wil reis, berig The Guardian.

“Daar is die risiko van gewelddadige botsings tussen betogers en die polisie en individue wat die omstandighede vir misdadigheid misbruik.”

Ierland, Brittanje en Japan het ook al reiswaarskuwings uitgereik. – Reuters/Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!