China en Namibiu00eb u2018gelyke vennoteu2019
China en Namibiu00eb u2018gelyke vennoteu2019

China en Namibië ‘gelyke vennote’

Stappe het ’n aanvang geneem om Namibië se nuwe status as ’n strategiese vennoot van China in werking te stel.
Augetto Graig
Augetto Graig - ’n Vooraanstaande wetmaker van China, wat ook voorsitter van die Chinese Nasionale Volkskongres se staande komitee is, is tans op besoek aan Namibië.

Mnr. Li Zhanshu het middagete by Staatshuis as eregas van president Hage Geingob geniet.

Li, wat volgens Chinese media president Xi Jinping se regterhand is, lei ? groot afvaardiging op ? toer deur drie Afrikalande.

Die toer het in Ethiopië afgeskop, waarna Mosambiek besoek is, en ter afsluiting Namibië.

Geingob het Li hartlik verwelkom en gesê die besoek dui op versterkte bande tussen China en Namibië.

Hy het gesê hy is trots daarop dat Li in Namibië kom kuier ná die twee al by ’n vorige geleentheid in China ontmoet het, en dat hulle hul vriendskap “in goeie en slegte weer” kan voortsit.

“China het ons in moeilike tye ondersteun,” het die president vertel.

“Dit was tóé die waarheid en die waarheid bly die waarheid. Dit verander nie,” het Geingob gesê.

Volgens hom is die hoë vlak van die Chinese amptenare wat by die geleentheid teenwoordig was, ’n aanduiding van die gelyke vennootskap tussen Namibië en China, veral ná Geingob se besoek aan China aan die einde van Maart vanjaar.

Gedurende dié besoek het president Jinping Namibië tot die status van ’n “omvattende strategiese samewerkingsvennoot” verhef.

Dit is die hoogste samewerkingstatus wat China aan ander lande kan toeken, het Geingob gesê.

Nou moet beide lande deursigtigheid, aanspreeklikheid en vertroue op gelyke vlak bou, het die Namibiese president gesê.

Dié status behels samewerking op alle vlakke, het hy gesê, en bygevoeg Namibiërs moet trots daarop wees.

Geingob het gesê Amerika sou ’n klein Afrikaland nooit so verwelkom het nie.

Hy het gesê tydens sy besoek aan China het hy die president en ander hoëvlakamptenare ontmoet.

“Mens kan nie die VSA besoek en die president, die speaker en die visepresident net gaan sien nie. Dít is die werklikheid,” het hy gesê.



Li het gesê sy persoonlike vriendskap met Geingob het oor die jare gegroei.

“President Jinping het aanbeveel dat ek jul oesters proe ná u met u besoek oesters saamgebring het en hy dit so geniet het. Ek het dit gisteraand by die dinee geproe en ander lede van my afvaardiging aangeraai om hulle tot vyf elk te beperk omdat oesters baie waardevol in China is. Ek vind toe uit hulle is volop hier. In China kook ons die oesters, maar hier eet julle dit vars. Wanneer julle beesvleis na ons uitvoer, pak sommer van die oesters ook in die skeepsvraghouer in,” het hy geskerts.

Dit is Li se eerste besoek aan Namibië en volgens hom is die natuur pragtig, Windhoek ’n skoon stad, en is die samelewing goed georden.

“Ondanks uitdagings soos die wêreldekonomie en droogte in die land, maak Namibië onder u leierskap goeie vordering. U toon uitstekende politieke leierskap in Namibië,” het hy aan Geingob gesê.

“China wens Namibië nog meer voorspoed toe,” het hy gesê.

Veral die kommunistiese party in China wil Namibië graag ondersteun, het hy gesê.

“Geslagte Chinese en Namibiese leiers vertroetel ons vriendskap en is gereed om daardie vriendskap te versterk,” het hy gesê.

Li het Geingob se besoek aan China as produktief beskryf en het gesê Namibië se nuwe status as strategiese vennoot beteken “ons moet soos broers in dieselfde familie saamwerk, soos ware vriende en goeie vennote. Ons samewerking moet alle gebiede dek”.

Ná president Jinping China se nuwe verhouding met Afrika in terme van opregtheid, tasbare resultate, aantrekking en goeder trou in 2013 in Johannesburg beskryf het, is dit tyd dat China minder op wins fokus en meer op ondersteuning vir Namibië se saak en hulp om Namibiese mense gelukkiger en ryker te maak, het hy gesê.

By dieselfde geleentheid het Li se Namibiese eweknie, prof. Peter Katjavivi, genoem die afvaardiging sluit verskeie Chinese leiers betrokke by buitelandse sake, omgewingsbewaring, en hulpbronne in, asook China se ambassadeur na Namibië, mnr. Zhang Yiming.

Gedurende die besoek het Katjavivi ook namens die Namibiese parlement ’n samewerkingsooreenkoms met die Chinese onderteken.

Die ooreenkoms maak voorsiening vir uitruilbesoeke tussen die twee land.

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!