China hef verbod op renosterhorings op

Verbod volg 25 jaar nadat die gebruik van sekere diereprodukte in tradisionele Chinese medisyne verbied is omdat die diere destyds op die rand van uitsterwing was.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die Chinese regering het tot die “skok en afgryse” van bewaringsorganisasies aangekondig die gebruik van renosterhoring en tierbeendere as bestanddele in tradisionele medisyne gaan voortaan weer in dié land toegelaat word.

Dié aankondiging volg 25 jaar nadat die gebruik van hierdie diereprodukte in tradisionele Chinese medisyne verbied is omdat die diere destyds op die rand van uitsterwing was.

Volgens die aankondiging sal Chinese praktisyns renosterhoring en tierbeendere voortaan weer vir “heling en mediese navorsing mag gebruik”.

Die Chinese regering sê net tierbeendere en die horings van renosters waarmee geboer word, sal vir hierdie doeleindes gebruik mag word.

Met hierdie besluit het die Chinese regering nou ’n skema vir stropers geskep om hul buit deur skuiwergate in die sogenaamde wettige handelstroom te kry.

Dit sluit diere uit wat in dieretuine aangehou word.

Die Chinese regering sê in die aankondiging, wat op sy webwerf gepubliseer is, renosterhoring in gepoeierde vorm en die beendere van dooie tiere mag net deur gekwalifiseerde dokters in geregistreerde hospitale gebruik word.

Verskeie omgewingsorganisasies het hul afkeer uitgespreek oor dié besluit en stem saam dit kan ’n “doodsvonnis” vir 30 000 wilde renosters en 3 900 tiere beteken.

WêRELDNATUURFONDS

Die Wêreldnatuurfonds (WWF) het ’n dringende beroep op die Chinese regering gedoen om sy besluit te heroorweeg en die verbod te handhaaf.

“Die opheffing van dié verbod gaan vernietigende gevolge hê vir die voortbestaan van wilde tiere en renosters,” sê me. Margaret Kinnaird van die WWF.

Die Humane Society Interna­tional (HSI) sê in ’n verklaring die Chinese regering “het pas die doodsvonnis van renosters en tiere onderteken”.

Me. Iris Ho, senior spesialis van die HSI se wildprogram, sê dié besluit is “ ’n geweldige terugslag” vir die bewaring van renosters en tiere. Hierdie diere gaan nou uitgebuit en mishandel word.

Volgens Ho het die Chinese regering nou die deur wawyd oopgemaak vir die voortgesette stropery van wilde renosters en tiere. “Met hierdie besluit het die Chinese regering nou ’n skema geskep vir stropers om hul buit deur skuiwergate in die sogenaamde wettige handelstroom te kry.”

Die vraag na die diereprodukte gaan nou die hoogte in skiet, maan sy.

Die opheffing van dié verbod gaan vernietigende gevolge vir die voortbestaan van wilde tiere en renosters hê.

Ho wys daarop dat die Wêreldfederasie vir Chinese Mediese Verenigings sedert 2010 probeer het om mense te laat afsien van die gebruik van renosterhoring en tierbeendere vir mediese redes.

Verskeie nieregeringsorganisasies het die laaste paar jaar ook veldtogte in China gevoer om die inwoners daarvan bewus te maak dat renosterhoring geen medisinale eienskappe het nie.

Die WWF het China ook uitgedaag om ’n duidelike plan aan die wêreld voor te lê oor wanneer hy sy tierplase gaan sluit.

China se aankondiging dreig nou om ál pres. Xi Jinping se pogings om deur die wêreld as ’n regering wat verantwoordelik met die omgewing omgaan, ongedaan te maak.

Mnr. Peter Knights, uitvoerende hoof van WildAid, het aan New York Times gesê China se besluit het “uit die bloute gekom”. Volgens hom druis dit teen alle “rasionele denke” in.

Mense kan nou in China in renosterhoring en tierbeendere handel dryf.

Tradisionele genesers in China het verpoeierde renosterhoring gebruik as middel teen koors, rumatiek, jig en ander ongesteldhede.

Tierwyn word gebruik as middel teen rumatiek en artritis, asook impotensie.

KAMER VAN DIE OMGEWING

Die uitvoerende hoof van die Namibiese Kamer van die Omgewing (NCE), dr. Chris Brown, sê alhoewel daar geen bewyse is dat hierdie diereprodukte medisinale voordele inhou nie, brei die Chinese tradisionele medisynebedryf baie uit en dus sal die druk op wild ook toeneem.

"Ek glo die tyd is nou reg vir Namibië om in vennootskap met buurlande ernstige stappe oor renosterhoring en -bestuur vir langtermynrenosterbewaring te doen," sê Brown.

Brown sê Namibië moet:



• Op internasionale vlak in renosterhoring handel dryf. Ideaal gesien, sal dit geskied met die goedkeuring van die Konvensie in die Handel van Bedreigde Spesies (Cites), en met internasionale monitering en ouditprosedures wat ingestel is. Alternatiewelik, as dit deur Cites-lidlande geblokkeer word, word deursigtige monitering en ouditprosedures noodsaakliker.

• Om dit te bereik, moet onthoorning van alle renosters in nasionale parke, kommunale en kommersiële grond (plase en wildreservate) op 'n twee- tot driejaarsiklus plaasvind. Elke verwyderde renosterhoring, asook alle opgehoopte horings moet van 'n mikroskyfie voorsien word, 'n DNS-monster moet geneem word en 'n paspoort moet uitgereik word.

• Horings moet strategies te koop vrygestel word aan vooraf goedgekeurde kopers - soos byvoorbeeld diamante onder 'n De Beers-tipe bemarkingstelsel. Die paspoort sal voortdurend die horing vergesel. 'n Klein tantième sal op elke verkoopstransaksie verdien word om die koste te dek van onthoorning (gedoen deur nasionale goedgekeurde spanne), DNS-analise, berging, bedryf en verkope. Die grootste deel van die waarde van die horings sal terugkeer na die eienaars of bewaarders van die renosters waarvandaan die horing gekom het, dit wil sê na die nasionale parke, kommunale bewaringsgebiede, private eienaars en die ministerie van die omgewing en toerisme vir die bewaring van renosters.

• Huidige benaderings oor swartrenostereienaarskap moet verslap word om private en kommunale eienaarskap toe te laat, soos in die geval van witrenosters. Die bevryding van wettige wildmarkte lewer onvermydelik bewaringsdividende.

• Renosterbewaarders en grondeienaars moet aangemoedig word om hul wildlewebedrywighede uit te brei om beide wit- en swartrenosters (waar die habitat geskik is) in te sluit, en eienaars van grond onder lewende hawe moet aangemoedig word om uit te brei om wild met renosters te sluit. In werklikheid sal geen aanmoediging nodig wees nie aangesien markkragte die nodige aansporings sal voorsien. Ondersteuning moet aangebied word, deur byvoorbeeld AgriBank wat sy leningsfasiliteit kan uitbrei sodat boere in renosters en ander wildlewe onder goedgekeurde besigheids- en bestuursplanne kan belê, wat voldoende vlakke van wildkundigheid insluit.

• Grond onder wild soos renosters en met internasionale handel in renosterhoring ingestel, sal veel hoër opbrengste per hektaar oplewer as enige ander vorm van grondgebruik (sonder om 'n diamantryke Kimberlietpyp op jou grond te vind, want die diamanthulpbron sal mettertyd uitgeput wees, maar die renosterhoring-hulpbron sal groei).

N$2 MILJARD PER JAAR

Brown sê hy het bereken dat die internasionale handel in renosterhoring nagenoeg N$2 miljard per jaar tot die Namibiese ekonomie sal bydra en dit sal groei soos renosterbevolkings uitbrei.

Belastinginkomste vir die staat sal aansienlik wees. Die wettige handel in renosterhoring sal help met gorndhervorming, werkskepping, landelike armoede takel, klimaatsverandering en ander uitdagings verminder. Brown beklemtoon daar is geen ander natuurlike herwinbare hulpbron wat na aan die waarde van renosterhoring kom en in die semi-dorre en droë gebiede van Namibië en Afrika sal floreer nie.

Volgens Brown sal die onthoorning van die hele land se renosters die beloning vir stropery aansienlik verminder: "Die risiko-tot-vergoeding-ratio sal erg skeef wees teen die hoë risiko en lae beloning, en die markte sal gelyktydig goed voorsien word met 'n wettige horing."

Hy sê sommige mense sê daar mag 'n verhoging in renosterkalfsterftes wees in gebiede met leeus en gevlekte hiënas as renosterma's nie horings het nie

"Die data is ewekansig. Gebaseer op beperkte steekproefgroottes, word dit nie statisties bevestig dat die verliese van kalwers hoër is van moeders wat onthoring is nie. En selfs as die verliese effens hoër is, sou dit grootliks onbeduidend wees teen stroperyverliese van volwasse diere."

Brown meen die wettiging van die handel in renosterhoring sal baie kopers in die ope bring, waar besighede gewettig sal word.

"Besighede verkies om eerder wettig te wees waar sakevoorwaardes goed verstaan en reëls duidelik is. Dit sal onwaarskynlik wees dat hulle hul regstatus in die gedrang sal bring deur in 'bloedrenosterhorings' handel te dryf.

Volgens Brown sal DNS-monsters vinnig 'n onwettige horing in die mark blootstel.

"Wettige handelaars sal verplig wees om inligting aan wetstoepassers oor onwettige handelaars te gee om mededinging te verminder.”

Brown sê die aanvraag na renosterhoring sal toeneem en Namibië kan die voorraad vermeerder.

"En ons kan dit op 'n manier doen dat ons ons renosters kan beskerm en bewaar terwyl ons die ekonomiese geleenthede benut en 'n reeks ander bewarings- en sosioëkonomiese voordele realiseer.

"As ons dit nie doen nie, sal ons groot ekonomiese geleenthede misloop terwyl ons die onvermydelike afname in renostergetalle waarneem, wat waarskynlik gepaard gaan met 'n uitmergelende ‘renosteroorlog’ waar almal die verloorder sal wees," meen Brown.

TIER- EN LEEUBEENDERE

Brown beklemtoon daar is 'n groot verskil tussen die tier- en leeubeenderebedryf (leeubeendere is 'n plaasvervanger van tierbeendere) en dié van renosterhoring: "Renosterhoring is 'n herwinbare bron. Dit kan geoes word sonder om die renoster skade te berokken, en renosterhoring groei weer."

Hy sê terwyl dit gebeur, vervul renosters hul ekologiese rol in die omgewing en deur hul reusewaarde beskerm hul landskappe onder natuurlike plantegroei en voorsien kollaterale beskerming aan ander inheemse biodiversiteit.

"En as hierdie inisiatief strategies gekoppel is aan aansporings vir oop landskappe, kan dit die skadelike wildheiningmania wat ons tans in die gesig staar, omdraai waar die landskap gefragmenteer is en wildbevolkings toenemend geïsoleer word."

Volgens Brown kan die waarde van renosters en hul horings inderdaad die ekonomiese drywer vir Afrika wees om sy wild terug te kry ("rewilding").

"Afrika kan dan regtig bou op sy wêreldwye vergelykende voordeel - sy natuurlewe - as 'n kernplan vir langtermynontwikkeling."

Daar is egter geen morele of bewaringswaarde van die tier- of leeubeenderebedryf nie, beklemtoon Brown: "Dit is 'n baie onsmaaklike, korrupte bedryf met groot dierewelsynkwessies."

Hy meen Suid-Afrika het erge skade aan die land se beeld gedoen deur sy betrokkenheid in die leeubeenderebedryf en die wettiging van die kwota vir die verkoop van leeubeendere in Asië.

"Namibië moet ver weg bly van enige handel in leeubeendere en daar moet streng strawwe vir oortreders wees," waarsku Brown.

Suid-Afrika laat beide leeu- en tierboerdery toe vir kommersiële handel in ligaamsdele van dié diere, volgens Conservation Action Trust. Daar was verlede jaar tussen 6 000 en 8 000 leeus in aanhoudingsfasiliteite en sowat 280 tiere in 44 aanhoudingsfasiliteite. Tussen 2005 en 2015 is meer as 4 000 leeuskelette uit Suid-Afrika uitgevoer wat waarskynlik as tierprodukte aan Asiese kliënte verkoop is.

Die Namibiese minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, het al sy afkeer van die handel in leeubeendere uitgespreek.
- Bykomende bronne: Netwerk24/New York Times/Conservation Action Trust

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!