China koning van steenkool – bou eie kragstasie in SA
Francois Williams – Die wêreld se grootste bouer van steenkoolkragstasies is die National Energy Investment Group (NEI) van China wat vanjaar 37 837 MW se nuwe steenkoolkragstasies wil bou. Dit is byna dieselfde as om ’n hele Eskom in een jaar te bou.
Die NEI is verlede jaar gevorm toe die Chinese regering die Shenhua-groep en die China Guodian Corporation saamgevoeg het.
Die inligting kom uit die jongste syfers van die 120 grootste bouers van steenkoolkrag wat ’n groep omgewingsbewuste nieregeringsorganisasies saamstel.
Die tweede en derde grootste bouers van steenkoolkrag is die China Huadian Corporation met ’n mikpunt van 25 097 MW, en die Indiese groep National Thermal Power Corporation wat 25 056 MW se nuwe steenkoolkragstasies beplan.
In totaal beplan China tans aan 259 624 MW se nuwe steenkoolkragstasies, wat meer as ’n derde van die totale nuwe steenkoolkrag in die wêreld is. China is terselfdertyd die grootste produsent van son- en windkrag in die wêreld.
Die nieregeringsorganisasies wys wel daarop dat die hoeveelheid nuwe steenkoolkrag wat beplan word, heelwat minder is as in 2016 weens nuwe beleid in China en die vinnige tempo waarteen die koste van hernieubare energie in lande soos Indië afneem.
Tog is daar sedert die ondertekening van die Parys-ooreenkoms oor klimaatsverandering in Desember 2015 oor die wêreld heen 92 000 MW se nuwe steenkoolkragstasies gebou. Dit is soos om soveel nuwe steenkoolkragstasies te bou as wat daar reeds in Rusland en Japan in bedryf is.
Byna 19% van die steenkoolkragstasies wat Chinese maatskappye beoog, word vir buite China se grense beplan. Een van die projekte is die kragstasie van 4 600 MW wat pres. Cyril Ramaphosa in September aangekondig het.
Die kragstasie gaan egter geen elektrisiteit aan Suid-Afrikaanse huishoudings of ondernemings lewer nie, maar word bloot beplan om krag te lewer aan ’n Chinese nywerheidsaanleg wat in ’n spesiale ekonomiese sone in Limpopo gebou gaan word.
Die nuwe kragstasie is nie ingesluit in Suid-Afrika se geïntegreerde hulpbronplan nie, en energie-ontleders noem dit ’n “duur en irrasionele projek”. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie