China oorheers Namibiu00eb se uraan
China oorheers Namibiu00eb se uraan

China oorheers Namibië se uraan

Sou CNUC daarin slaag om die beherende aandeel in Rössing te bekom, sal Chinese SOE’s die grootste belang in plaaslike groot uraanmyne hê.
Catherine Sasman
Catherine Sasman – Chinese staatsondernemings (SOE’s) gaan die oorheersende aandeelhouer in Namibiese uraanmyne wees met China National Uranium Corporation Ltd (CNUC) se verwagte verkryging van Rio Tinto se 68,62%-belang in Rössing Uranium Ltd.

Sou dié transaksie voltrek word, sal Chinese SOE’s die meerderheid aandele in die grootste uraanmyne in die land hê – Husab, Rössing, Langer Heinrich en Trekkopje.

China General Nuclear Power Corporation (CGN) en China-Africa Development Fund besit 90% van Swakop Uranium, eienaar van Husab. CNNC Overseas Uranium Holding Ltd, waarvan CNUC ‘n filiaal is, se aandeelhouding in Langer Heinrich is 25%.

Mnr. George Ampweya, die streekskoördineerder van die Mynwerkersunie (MUN) in die Erongostreek, het gister sy skok oor die beplande verkryging uitgespreek. In geen stadium het die bestuurder van Rössing hieroor met dié unie oorleg gepleeg nie, het hy gesê.

“Die verwikkeling het in isolasie geskied. Die maatskappy het deurgaans die indruk geskep dat die verkooptransaksie nie sou deurgaan nie. Ons het net deur die media hiervan kennis geneem. Ons weet nie watter gevolge dit vir Rössing-werkers inhou nie. Ons hoop dit sal ‘n billike en regverdige proses wees wat op ‘n professionele manier geskied,” het Ampweya gesê.

Volgens hom hoop die plaaslike tak van die MUN op Arandis om met die Rössing-bestuur oor die toekoms van die werkers te vergader.

Die minister van myne en energie, mnr. Tom Alweendo, het teen druktyd nie op vrae van die koerant reageer nie.

Die transaksie

CNUC, ‘n Chinese SOE, is reeds ‘n geruime tyd in gesprek met Rio Tinto oor die verkryging van Rössing.

Rio Tinto het gister gesê CNUC sal sy belang vir US$106,5 miljoen – sowat N$1,5 miljard teen gister se wisselkoers – koop.

Luidens die verklaring sal Rio Tinto aanvanklik US$6,5 miljoen (ongeveer N$90 miljoen) in kontant opdok. ‘n Gebeurlikheidsbetaling van tot US$100 miljoen of N$1,4 miljard is ná die voltrekking van die transaksie verskuldig. Dit sal aan die lokoprys van uraan en Rössing se netto inkomste gemeet oor die volgende sewe kalenderjare gekoppel wees. Voorts sal Rio Tinto ‘n kontantbetaling ontvang indien CNUC binne ‘n bepaalde tydperk ná die transaksie die Zelda 20-mineraalneerslag verkoop.

Die transaksie is aan verskeie voorwaardes onderhewig, onder meer goedkeuring van die Namibiese Mededingingskommissie (NaCC). Geen terugvoering is teen druktyd van die NaCC ontvang nie. Sou die nodige groen ligte verkry word, verwag Rio Tinto die transaksie sal in die eerste helfte van 2019 afgehandel wees.

Mnr. Jean- Sébastian Jacques, uitvoerende hoof van Rio Tinto, het gesê die voogestelde transaksie volg op ‘n lang tydperk waarin die maatskappy sy toekoms oorweeg het en hoe om sy kernbedrywighede wêreldwyd te versterk.

“Rio Tinto het ‘n lang geskiedenis in Namibië en ek wil verskeie mense in Rio Tinto bedank, asook die gemeenskappe wat tot die sukses van Rössing bygedra het. Ek wens hulle voortgesette sukses onder die nuwe eienaarskap toe. Rio Tinto sal nou met CNUC saamwerk om ‘n vlot oorgang en voortgesette, volhoubare bedryfwighede by Rössing te verseker,” het Jacques gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!