'China se vlootbasis by Walvis net stories'
Die land met die grootste vloot ter wêreld soek glo sy eerste vastrapplek in die Atlantiese Oseaan.
Augetto Graig – Internasionale mediaberigte dat China 'n hawe aan Afrika se weskus soek om 'n vlootbasis in die Atlantiese Oseaan te bou en dat Namibië ook in dié opsig oorweeg word, is onwaar.
Namibië se minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, mnr. Frans Kapofi, verwerp die aantyging ten sterkste. “Indien China so iets beplan, moet hulle nog met ons daaroor praat.”
Volgens Kapofi het hy niks van 'n beplande vlootbasis vir China in Namibië gehoor nie. “In geen stadium was daar enige inligtingsessie, aansoek of idee voorgestel nie. Ek het nog niks daarvan gehoor nie. Geen voorstel vir so iets is ooit in my tyd as kabinetslid oorweeg nie,” het die jarelange regeringsleier gesê.
“Ek dink nie daai stories is waar nie. Ek het nog nie die berigte gesien nie, maar mense van die Weste raak sommer gou senuweeagtig as dit by China kom,” sê hy.
Kapofi sê hy weet van die Chinese telemeter-, opsporing- en bevelstasie buite Swakopmund, gebou in 2001, en dat sekere Westerse lande dit as Chinese teenwoordigheid beskou.
“Hulle skep dalk stories oor 'n vlootbasis, maar sê vir hulle ons weet niks daarvan nie. China het ons niks gesê nie. Ons is die regering van Namibië en dit sou 'n groot besluit vir ons wees, as so 'n besluit ooit geneem sou word,” hou hy vol.
Volgens Fahamu.org uit Senegal word Walvisbaai as die bestemming beoog, terwyl Australia se 9news.com.au in Desember berig het oor waarskuwings laasjaar deur Amerika se generaal Stephen Townsend dat Beijing die ganse kuslyn vanaf Mauritanië tot suidelike Namibië as moontlikhede in ag neem.
Sprake van 'n Chinese vlootbasis by Walvisbaai kom al lank aan, met berigte hieroor wat reeds in 2014 in plaaslike koerante verskyn het.
China het in November tydens die 19de sentrale komiteevergadering van die heersende Kommunistiese Party sy verbintenis tot die ontwikkeling van sy weermag tot wêreldklas standaarde herbevestig.
Die Chinese vloot is reeds die grootste in Asië en volgens 'n Desember-verslag aan die VSA se kongres het dit in die afgelope jare selfs die grootte van Amerika se vloot oortref.
Dié verslag sê China wil teen 2025 sy vloot tot 420 skepe vergroot. Die Asiatiese moondheid soek glo toenemend persele waar hierdie vloot onderhou en herstel kan word.
Amerika is reeds bekommerd oor nuus dat Ekwatoriaal-Guinee se hawe in Bata die eerste Chinese vlootbasis aan Afrika se weskus mag word. Die Wall Street Journal berig dat Amerikaanse beamptes die leierskap van dié klein Afrika-nasie aanmoedig om China se toenadering te verwerp.
Die ANI-nuusnetwerk in suid-Asië berig dat China ook ander lande aan Afrika se weskus oorweeg, insluitend Namibië met wie China 'n omvattende strategiese samewerkende vennootskap het.
Die Nigeriese dagblad The Guardian noem dat China reeds in 2016 'n militêre “vlootondersteuningsbasis” in die Oos-Afrikaland Djiboeti gebou het.
Townsend het in 2021 aan die nuusagentskap AP gesê soveel as 2 000 militêre personeel is by die basis, insluitend honderde mariniers wat sekuriteit daar hanteer. Hy was egter meer bekommerd dat China ook in die Atlantiese Osean 'n nuwe tuiste sal vind.
Plaaslik is vrae na die Chinese ambassade in Windhoek gestuur, wat nog nie gereageer het nie.
Vanaf die kantoor van die president wou die woordvoerder, dr. Alfredo Hengari, bloot weet hoe betroubaar die internasionale media-instansies is. Hy het nie geantwoord op vrae oor die kommunikasie tussen president Hage Geingob en China se leier, mnr. Xi Jinping, nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie