China voer nog nie SA rooivleis in ná siekte
Vir Suid-Afrika loop uitvoere van vleis en suiwel ná die bek-en-klouseer-uitbreking nog lank nie seepglad nie.
Riana de Lange - Al is bek-en-klouseer in Suid-Afrika nou onder beheer, is daar steeds ’n verbod op die uitvoer van beesvleis na China, sekere suiwelprodukte na Ghana en Nigerië, en lewende diere na die meeste lande, sê die departement van landbou.
Die laaste bek-en-klouseer-geval was in Februarie en die uitbreking is dus amptelik verby.
China het onlangs wolinvoer uit Suid-Afrika hervat ná die departement se onderhandelinge met verskeie handelsvennote om veilige produkte van gesplete-hoef-diere weer in hul lande toe te laat.
Die verbod op die uitvoer van die produkte van diere met gesplete hoewe soos beeste, bokke, skape en varke, het gekom nadat enkele gevalle van bek-en-klouseer in Januarie in Limpopo se Vhembe-gebied voorgekom het.
Die siekte is hoogs aansteeklik en ná die uitbreking het die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) Suid-Afrika se status as bek-en-klouseervrye sone sonder inenting opgehef. Lande besluit dan individueel of hulle invoer wil opskort.
Die departement sê hy onderhandel nog met China om weer Suid-Afrikaanse beesvleis toe te laat en die Chinese veeartseny-departement sal binnekort sy volgende inspeksiebesoek aan Suid-Afrika bring.
Suid-Afrika het in 2017 beesvleis van meer as R2 miljard uitgevoer (lewende diere uitgesluit), wys syfers van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP). Die grootste markte is die Verenigde Arabiese Emirate, Koeweit en Jordanië, Mosambiek en Swaziland.
Volgens die departement van landbou se bemarkingsdirektoraat het China in 2016 sowat 7% van Suid-Afrika se beesvleis ingevoer. Uitvoer na Hongkong en die res van China het die laaste paar jaar gegroei.
Die departement kan nog nie sê wat die uitvoerverbod die land gekos het nie.
Die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) het vroeër geraam dit kan die land tot R6 miljard per jaar kos as Suid-Afrika sy bek-en-klouseervrye status verloor, het Farmers Weekly in Januarie berig.
Intussen is die departement besig met die proses om Suid-Afrika se bek-en-klouseervrye status te laat herstel. Dokumente is aan die OIE gestuur, maar die departement wag nog op ’n antwoord.
Sedert beheer- en veiligheidsmaatreëls kort ná die Januarie-uitbreking ingestel is, het meer as drie inkubasieperiodes verstryk waartydens nuwe gevalle sou voorkom, sê die departement. Intensiewe toesig wys die virus sirkuleer nie meer nie, maar beheermaatreëls bly in plek.
Intussen het die departement gewaarsku oor gevalle van miltsiekte wat in Lesotho bevestig is. Die eerste uitbreking is op 12 Mei bevestig en meer as 20 diere het reeds weens die siekte gevrek. Die besmette gebied naby Maseru is in ’n radius van 10 km onder kwarantyn geplaas, berig landbou.com. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie